
Adv. Nomgcobo Jiba. (Foto: GCIS)
Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het aanbeveel dat adv. Nomgcobo Jiba nié weer as adjunk- nasionale hoof van openbare vervolging heraangestel word nie, en ook nie adv. Lawrence Mrwebi in sý voormalige pos as spesiale direkteur van openbare vervolging nie.
ʼn Kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van oudregter Yvonne Mokgoro het in April bevind dat Jiba en Mrwebi albei deur pres. Cyril Ramaphosa uit hul poste ontslaan moet word. Hy het hulle daarna inderdaad ook die trekpas gegee.
Bulelani Magwanishe, komiteevoorsitter, het gesê die komitee kon geen rede vind om hulle weer in hul ampte aan te stel nie. Die komitee het bevind Ramaphosa het aan alle nodige bepalings voldoen en dat die proses wat die president gevolg het, billik was.
Ingevolge wetgewing moet die parlement oorweeg of die president se besluit gehandhaaf moet word.
“Adv. Jiba en adv. Mrwebi is die geleentheid gegee om voorleggings aan die komitee te doen. Adv. Mrwebi het van die geleentheid gebruik gemaak. Adv. Jiba het die hof genader om ons proses te probeer stuit. Nadat die howe haar aansoek van die hand gewys het, het sy die komitee ingelig dat sy nie met die proses wil voortgaan nie, maar met haar lewe wil aangaan,” het Magwanishe gesê.
Hy het gesê die komitee het alles moontlik gedoen om aan alle betrokke partye ʼn billike kans te gee om hul saak te stel.
“Gegrond op die proses wat ons gevolg het en die verslae en aanbevelings wat ons oorweeg het, is ons van mening dat nie een van hulle weer in hul amp aangestel moet word nie.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Well done!????
Sover ek weet was dit tot sover die enigste realistiese optrede van CR wat aan “regruk” vereistes voldoen !
Dis nooit te laat om reg te stel nie – Dankie aan almal wat tot die besluit gehelp het.
Nou kan al die mense wie se lewens die twee verwoes het omdat hulle ‘n Jacob Zuma politieke agenda gehad het, hulle hof toe sleep. Hoop hulle werk nooit weer anders as in ‘n kafee vir tips en tjips!
Ideale kanidate vir ambasideers poste