Parlement bespreek vermiste kollegesertifikate

Argieffoto

Die parlement het vanoggend een van die neteligste vraagstukke rakende voortgesette onderwys getakel toe onuitgereikte sertifikate wat aan bepaalde onderwys- en opleidingskolleges verwerf is aan die bod gekom het.

Ter sprake is sertifikate wat verskuldig is aan studente wat reeds aan die kolleges – voorheen bekend as tegniese kolleges – afgestudeer het. Hulle kan nie in hul beroepe aangestel word sonder die sertifikate as bewys van kwalifikasie nie, en vingers word in alle rigtings gewys oor wie die wa moet smeer as dit by oplossings kom.

Daar is baie besonderhede oor en redes vir die probleme verskaf (sien hieronder) maar intussen gaan dit studente nie veel baat om hulle op allerlei ander prosesse te beroep nie. Hulle moet hul sertifikate aanvra van die kollege waar hulle gestudeer het, wat dan die roete moet volg soos hieronder verduidelik.

Soos met talle voortgesette debakels is die oplossing van die kwessie ingewikkeld, in hierdie geval weens ʼn stelsel so ingewikkeld dat dit eintlik rompslomp en misverstand waarborg.

Daar is ook talle probleme met datastelsels wat onversoenbaar en onprakties is, maar die hoofprobleem is tweeledig.

Eerstens word ʼn sertifikaat uitgereik vir elke vak wat geslaag word, nie slegs vir elke kwalifikasie nie, wat ʼn onhanteerbare aantal sertifikate skep. Tweedens word die sertifikaat verwerf en deur die kollege toegeken, maar nie deur die kollege gedruk nie.

Om ʼn fisieke sertifikaat te bekom, moet die student dit van die kollege aanvra, wat dit dan van die departement van hoër onderwys en opleiding aanvra, wat dit van die eksamenowerheid Umalusi aanvra, wat dit druk en via die departement terugstuur na die kollege en dan na die student.

Nodeloos om te sê, val die pap nogal dikwels op die grond, met rampspoedige gevolge vir studente wat nie kan werk kry nie. Sedert April volg die departement darem ʼn nuwe stelsel wat sertifikate vinniger kan druk.

Tydens die komiteesitting was daar baie vingerwysery, maar nie veel oplossings of die neem van verantwoordelikheid nie.

Die onderwysdepartement het swak opleiding en powere administrasie by die kolleges geblameer, en die kolleges het te min geld en gebrekkige ondersteuning vanaf die regering geblameer.

Kolleges voer ook aan die departement en Umalusi maak foute op sertifikate, wat dan ʼn groot gesukkel is om reggestel te kry. Op hul beurt voer die departement aan dit is die kolleges wat data soos name, kursusse en ID-nommers verkeerd invoer en deurgee.

Voorts het die gebrek aan ʼn sentrale datastelsel daartoe gelei dat sommige studente oor en oor eksamen skryf.

Al die probleme het daartoe gelei dat die agterstand met sertifikate in ʼn stadium 250 000 beloop het. Tans verskil die rolspelers oor die agterstand, maar dit word op tot 160 000 beraam.

Die departement van hoër onderwys en opleiding voer aan hulle het die agterstand weggewerk, maar die kolleges stry hiermee. Wat die departement wel gedoen het, is om ʼn sentrale eksamenkantoor daar te stel om al die navrae te hanteer, asook ʼn sentrale databasis vir alle studie-aansoeke.

Die Suid-Afrikaanse Organisasie van Kollegehoofde (SACPO) het egter in hul voorlegging aangevoer dat VOO-kolleges al jare tweede viool speel teenoor universiteite, met swak bestuur, onderrig, infrastruktuur en ondersteuningsmiddele.

Daar is te min personeel, en te min mense in die departement van hoër onderwys en opleiding wat na VOO-kolleges se belange omsien, wat daartoe lei dat probleme jare lank nie opgelos word nie, aldus die kollegehoofde.

Die kollegehoofde vra dus dat meer departementele personeel aan hul sektor toegewys word, dat bestuursopleiding aan kollegebestuursrade gegee word, dat ʼn spesiale taakspan aangestel word om die agterstand met sertifikate te takel, dat rekords op datum gebring word en dat meer mense in die departement se eksamenafdeling aangestel word.

Een van die belangrikste voorstelle is dat sertifikate nie meer per vak nie, maar per afgestudeerde kursus toegeken moet word.

Daar was nie veel aptyt onder parlementslede om enigeen aan die pen te laat ry nie, maar die komiteevoorsitter, Lungi Zwane (ANC, KwaZulu-Natal), het gevra die departement en die kolleges moet hul probleme uitpluis en aan die komitee terugrapporteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Paul ·

Ek weier om enige verdere berigte oor die disfunksionele ANC regering en parlement in die media te lees as ek nie aan ‘n hartlong masjien gekoppel is nie.

IK ·

Dan moet daardie masjien ook gekoppel wees aan ‘n kragopwekker en nie Eskomkrag.

Casper Labuschagne ·

Dit lyk net soos sentrale beplanning in aksie, presies dieselfde soort wat die ekonomie van die Sowjet Unie uiteindelik lamgelê het. Die stokou grappie lui dat ‘n kameel ‘n resiesperd is wat deur ‘n komitee ontwerp is. Maak nie hoe goed die bedoelinge van sosialisme dalk is nie, dit veroorsaak net meer en meer rompslomp en burokrasie.

jaco ·

die Sowjet-Unie was darem sonder die volgende:
1. vuil, swak staatshospitale
2. swak lae standaard onderwys
3. plakkerskampe
4. 30% of meer werkloosheid
5. plakkerskampe
6. stakings
7. spoorweë wat verval en uiters swak bestuur word
En so kan my lys aangaan en aangaan. Baie ouer mense in die huidige Rusland verlang vandag terug na die kommunistiese jare toe dinge eintlik relatief goed gegaan het

Richard ·

My kind lei ook onder hierdié onbevoegdheid. Wag nou al twee jaar vir sy diploma. Al wat hy het is eksamenuitslae. Gou om geld te vra, maar dit is waar dit stop. Disfunksionele land waar onderwys ten gronde is.

marous ·

Pap val op die grond ? Eerder die smulhoender val uit die luukse karre se deure uit.

Ben ·

My maatskappy erken geen staats instansie se opleiding na 1994 nie. Hier is colleges in die Wes Kaap, wat so swak… beter om stil te bly – so vrot is dit. Onbevoegdheid van opvoeders? Wat van ‘n opvoeder daag op vir sy klas? Hulle is vinnig om jou geld te vat. Dit is bedrog en diefstal. As gevolg van dit – geen kwalifikasie is relevant nie en sal deur ons erkan word nie.

John ·

Die Peter Principle in werking. Die beginsel gaan net meer en meer in sy volle glorie in werking kom in SA. Dis een ding waarvan ons seker is in Afrika, hierdie heerlike pruttende pot op ‘n vuurwarm vuurtjie; altyd reg vir die skeplepel.

Basjan ·

John, jy som die hele situasie baie mooi op! Aan almal: Welkom in die nuwe (ou) Suid-Afrika!

jaco ·

Ek kan verstaan as wit studente nie sertifikate kry nie: dis seker maar deel van die ewige “straf” op ons vir apartheid. Maar daars ‘n agterstand van tussen 160 000 en 250 000 sertifikate. Die meerderheid móét dié wees van studente van dieselfde “regte” ras as die regering en ander staatsinstansies hier betrokke. Gee hulle dan nie eens om vir hulle eie mense nie?

Grassie ·

Ek wonder of die chaos nie dalk opsetlik geskep word deur werknemers by die kolleges nie. Dit maak die deure oop vir korrupsie, soos die verkoop van sertifikate aan persone wat nie daarvoor kwalifiseer nie. Die wanorde maak dit onmoontlik om skelm transaksies raak te sien.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.