Parlement-brand: Beskuldigde vir waarneming gestuur

‘n Klag van terreur staar Zandile Christmas Mafe (49) nou ook in die gesig. Hy word daarvan beskuldig dat hy die brand by die parlement gestig het. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Christmas Mafe (49), wat daarvan beskuldig word dat hy die verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad gestig het, is vir 30 dae lange psigiatriese waarneming gestuur.

Landdros Zamekile Mbalo het Dinsdag beveel dat Mafe vir waarneming by die Valkenberg- psigiatriese hospitaal gestuur word. Die staat het aangevoer dat Mafe voorlopig met paranoïese skisofrenie gediagnoseer is en aanbeveel dat hy vir waarneming gestuur word.

Mafe moet weer op 11 Februarie in die streekhof in Kaapstad verskyn. Adv. Dali Mpofu, Mafe se regsverteenwoordiger, wou Dinsdag met Mafe se borgtogaansoek voortgaan en het aangevoer sy kliënt het gesê “daar skort niks met hom nie”.

Die verdediging het ook aangevoer dat Mafe dreig om met ʼn eetstaking te begin indien sy borgtogaansoek nie voortgaan nie. Mafe het glo aangevoer hy verstaan nie “hoekom die regering, wat hom nie kon voed terwyl hy ʼn vry man was nie, nou belangstel om hom te voed, en dat hy nie bereid is om sy vryheid vir kos te verruil nie”. Sy regspan het aangevoer dat hy op borgtog geregtig is.

Dali Mpofu, een van die land se bekendste advokate, is Mafe se regsverteenwoordiger. (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Adv. Helene Booysen, senior staatsaanklaer, het egter gesê die staat sal nie gedreig of as gyselaar gehou word deur Mafe nie.

“As daar ʼn borgtogaansoek is en hy word nie vrygelaat nie, beteken dit dat hy op ʼn eetstaking sal gaan tot hy sterf? Daar is geen waarborg dat hy borgtog sal kry nie en hy moet nou vir waarneming verwys word,” het Booysen aangevoer.

Aanklagte van die verwoesting van noodsaaklike infrastruktuur is intussen teen Mafe teruggetrek,  maar hy word nou ook van terrorisme aangekla. Aanklagte van roof en brandstigting staar hom reeds in die gesig.

Buite die hof het betogers saamgedrom en Mafe se vrylating geëis. Hulle voer aan daar word van hom ʼn sondebok gemaak.

Daar het sedert sy inhegtenisneming ʼn debat ontstaan oor die kwessie of Mafe, wat in sommige mediaberigte as haweloos beskryf word, werklik daarvoor verantwoordelik was om die gebou aan die brand te steek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elise Georgina Irene ·

Net om berig te lees en te luister wat “hoof figure” sê laat mens reeds weet wat die uiteindelike slotsom sal wees…natuurlik na uitgerekte en lang uitgestelde verhore ensomeer en miljoene in regskostes!

Misky ·

Hy redeneer darem vreeslik ‘nugter’ en oop kop vir ‘n mal man

Marius ·

Aangesien hy so na sy vryheid smag eerder as om elke dag 3 gratis etes en slaapplek te kry moet hy dalk nie by plekke inbreek en dit dan aan die brand steek nie. :-)

Sarel ·

My goeie genugtig kyk wie verteenwoorfig hom
Laat mens dink..net om aandag af te lei van werklike probleem. Hoekom word klagte nie ingedien teen die
Verantwoordelike Dept en hulle Minister nie
Sy moet skade betaal

Shakespeare ·

Wie betaal die bankrot man se Mpofu rekening ? Mal-emma, Ndlozi, Zuma, Duduzile of ‘n ANC kader ? DUIDELIK sit hulle agter hierdie kriminele gebeure en moet van hoogverraad aangekla word. Ai hoe lekker dagdroom ek nou.

Kokerboom ·

Hy verdien straf. Vraag is net : Gaan AL die slapgat, onbetrokke onverantwoordelike amptenare(insluitend politici )aan pen ry! Ons VERWAG aksie al is dit net ‘n pypdroom

Danny ·

AG… As die persoon nie wil/ ‘mag’ verantwoordelikheid neem nie skree almal ‘mental-mental’. So maklike manier om deesdae geen verantwoordelikheid en plig te dra nie.

SlinkseKoljander ·

Hierdie hele storie is n groot grap, die ANC sit agter alles.

Mariana ·

Ai tog nou is hy skisofrenies. Ek sou dink iemand wat so iets doen is van sy trollie af. Maar hy moet darem ook verantwoording doen vir sy dade. Ek glo in elk geval niks wat nou opgedis word nie. Daar word weer vreeslik gelieg en bedrieg. Iewers weet iemand wat presies by parlement gebeur het. Die drama sal ook uitgerek word en dan verdwyn.

Swerwer ·

Mooi, laat Mafe maar op sy eetstaking gaan. Hy doen dit uit vrye wil . Hy verstaan nie hoekom die regering, hom nie kon voed terwyl hy ʼn vry man was nie, mar nou gaan hy gratis gevoed word. Hy het ‘n punt beet want hul was te gewoond die wit mense en wit regering het hul gevoed en nou ly hul honger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.