Parlement erken probleme met polisie in KZN

Die Emanguzi-polisiestasie in KwaZulu-Natal. (Foto: Google Images)

Terwyl sommige KwaZulu-Natalse polisiestasies ʼn ernstige tekort aan hulpbronne en kapasiteit het, wag ander byna drie maande lank vir stukkende polisievoertuie om herstel te word.

Dít is maar net ʼn paar van die uitdagings waarvan ʼn provinsiale afvaardiging van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) onlangs tydens ʼn besoek aan polisiestasies in dié provinsie bewus geraak het.

Die afvaardiging het tydens hul besoek na die kapasiteit van die Suid-Afrikaanse polisiediens om misdaad te bekamp gekyk, ​​onder meer die toestand van polisiestasies in townships en landelike gebiede en die hulpbronne tot hul beskikking.

Die NRVP se rol is veral om die belange en funksionering van provinsiale en munisipale belange en bestuur in die parlement te dien en te monitor.

Luidens ʼn verklaring deur die parlement is die afgevaardigdes reeds op die eerste dag van hul besoek deur die LUR vir veiligheid in die provinsie, Peggy Nkonyeni, meegedeel dat byna alle polisiestasies in KwaZulu-Natal onderhoud en opknapping nodig het.

Die span het besoeke by vyf uitgesoekte polisiestasies in drie distrikte afgelê, naamlik die Emanguzi-, Inanda-, Montclair-, Bellair- en Plessislaer-polisiestasie.

Beperkte kantoorruimte is een van die groot uitdagings wat die afgevaardigdes by die meeste van dié stasies opgemerk het. Sommige stasies het boonop nog nie ʼn toegewyde afdeling vir geslagsgebaseerde geweld gevestig nie, terwyl ʼn groot agterstand met vuurwapenlisensieaansoeke ook aangemeld is.

Baie stasies ervaar glo ook ernstige vertragings met selfs geringe verkrygingsprosesse, aangesien die aanstelling van verskaffers eers deur die polisiehoofkantoor in Pretoria goedgekeur moet word.

“Verder het baie polisiestasies nie die vereiste digitale tegnologiestelsels in plek nie en word die meeste dienste en ander prosesse met die hand uitgevoer.

“By Emanguzi is die bou van ’n nuwe polisiestasiegebou al vir twee jaar onverklaarbaar vertraag. Dié polisiestasie het ook nie skoonmaakpersoneel en opsigters nie, wat ’n groot bekommernis is.”

Die afvaardiging het verder gemeld dat die polisiestasie in Montclair 120 jaar oud en vervalle is. Die Montclair-speurdienstak word uit ’n gehuurde gebou vyf kilometer van die stasie af bedryf.

By die Bellair-polisiestasie is daar weer ernstige probleme met kragvoorsiening. Volgens die afvaardiging is die gange wat na die selle lei altyd stikdonker aangesien baie ligte in die stasie nie werk nie. Die probleem is glo reeds by die departement van openbare werke en infrastruktuur aangemeld.

Luidens die verklaring sit al die polisiestasies wat besoek is met die probleem dat herstelwerk aan polisievoertuie uiters lank vat. In sommige gevalle neem dit soms langer as 80 dae om herstelwerk af te handel.

Aanbevelings 

Die afvaardiging het aanbeveel dat die polisiebestuur dringend die kwessie van kapasiteit by die Emanguzi-stasie moet takel aangesien dit ’n grenspolisiestasie is. Dit sluit polisiëring om openbare orde te handhaaf, sigbare polisiëring en misdaadintelligensie in.

“Daar is tans net vier polisiebeamptes tydens ʼn skof aan diens, van wie twee by die satellietstasie gesetel is.

“Die gebied is groot en die stasie het meer polisiebeamptes nodig om die hele gebied te dek. Die afvaardiging het boonop gehoor dat motordiefstal ʼn ernstige probleem in die gebied is.”

Die afvaardiging het voorts ’n beroep op noue samewerking tussen die SAPD, Nasionale Tesourie en departement van openbare werke gedoen om te verseker dat behoorlike interne beheerstelsels ingestel word om vertragings in toekomstige infrastruktuurprojekte te voorkom.

“Die afvaardiging is ook bekommerd oor die vertragings wat deur ʼn gesentraliseerde verkrygingstelsel veroorsaak word. Dit het die departement van gemeenskapsveiligheid en ‑skakeling gevra om ’n vorderingsverslag oor die politieke onrus in die provinsie te verskaf.”

Die provinsiale afvaardiging sal nou sy verslag vir oorweging aan die NRVP ter tafel lê, waarna ʼn aksieplan opgestel sal word om te verseker dat provinsiale probleme getakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Nou hoekom is oom met die hoed so stil.Hy is mos die baas en nou sê Rampie die ANC is in die moeilikheid en hy weet presies hoekom.

Nie Verbaas

Pragtig Cele, pragtig. Jy is werklik n ” top kandidaat” vir n minister.

Samuel

Tragies. Die Hoedman en CR is tjoepstil. Hulle worrie eenvoudig nie.

Heinrich

Net in die KZN, dink nie so nie. Die ANC het die polisie heeltemal opgevoeter met kaders.

Anel

Kom ons kyk wat gaan die nuwe kommissaris doen. Dit is mos eintlik sy werk!