Parlement gaan debat voer oor plaasmoorde

Argieffoto (Foto: Bongani Mbatha/ African News Agency/ANA)

Lede van die parlement sal Dinsdag die voortgesette toename in plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika bespreek, in reaksie op ʼn versoek wat die Demokratiese Alliansie in Junie ingedien het.

“Die afsonderingsperiode het die desperate toestande in die beveiliging en polisiëring van landelike Suid-Afrika blootgelê en die gebrek aan sorg en optrede aan die kant van die ANC-regering om die krisis te takel,” het Debreé Kluge, woordvoerder van die DA, Maandag gesê.

Die debat volg ná ʼn voorval Saterdagaand in KwaZulu-Natal toe Glen en Vida Rafferty op hul plaas in Normandien, sowat 350 km wes van Durban, vermoor is. Die verdagtes het Glen (63) en Vida (60) en hul hond doodgeskiet voor hulle met die egpaar se voertuig gevlug het. Die voertuig is later verlate gevind. Volgens kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die verdagtes die huis geplunder, die kringtelevisiekameras vernietig en ʼn kamerabeheerder gesteel.”

Die moorde het plaasgevind net ure ná ʼn betoging in Durban gehou is teen die toenemende getal plaasaanvalle en -moorde in die land. Motorfietsryers het Saterdagoggend in groot getalle by die Petroport naby Queen Nandi-rylaan opgedaag voor hulle na die Durbanse landdroshof gery het om ʼn memorandum te oorhandig.

Kluge het gesê die mate van geweld in die onlangse aanvalle is ongekend. “Ons het dit in die geval van die Brand-gesin gesien wat ontvoer en uiteindelik deur vyf aanvallers doodgemaak is. Die aanvallers het ingebreek terwyl die gesin Sondagmiddagete geniet het. Ons het dit gesien toe die swanger Zakiyya Ahmedjan Ismail keelaf gesny is terwyl haar man en kinders in ʼn ander vertrek aangeval is. Ons het dit gesien toe die 80-jarige Dalene van der Hoven aangeval, ontvoer en vir dood gelaat is in -5 °C-weer oor die Lesotho-grens.”

Die DA se sprekers Dinsdag sluit die skaduminister van staatsveiligheid en voorsitter van die DA se landelike veiligheidspan, Dianne Kohler Barnard, die adjunk- skaduminister van polisie genl. Okkie Terblanche, en die adjunk- skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thandeka Mbabama in.

“Die Demokratiese Alliansie se sprekers sal nie terughou nie en seker maak dat die regering aanspreeklik gehou word vir plaasaanvalle en -moorde om seker te maak dat die ANC-regering uiteindelik homself daartoe verbind om landelike gemeenskappe te beveilig.”

Die debat begin na verwagting Dinsdag om 14:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks

Hier beter nou iets gebeur met alle moorde! Praat help nie en ook nie foto’s van die slagoffers nie hulle verlekker hulle oor dit, want hulle beplan die moorde! Vir die hoeveelste keer: julle klomp in die regering gaan nog kom bakhand staan by die boere, want dit IS waar ons kos vandaan kom! Skrik wakker julle klomp in die regering baie vinnig!

Kokerboom

DA moet ons nie teleurstel. Gaan met ALLE grofgeskut tot jul beskikking. Moenie terughou. Die saak is lewensbelangrik en uurglas het uitgeloop!

Adri

Wat gaan gebeur ná die debat? My vermoede: niks! Mag ek verkeerd wees!

Deon

Mag daar net asb iets van kom….

Porseleintjie

Die parlement is al vir JARE bewus van die plaasmoorde. Vir JARE debateer almal oor plaasmoorde. Daar is net EEN uitweg en dit is GOD. Ons moet terugdraai na HOM want in HOM en deur HOM is ons bevryding. Net HY kan ons van hierdie kommunustiese regering bevry. Geen optog, geen debat gaan ons help nie. Ons oorwinning is op ons knieë as ‘n verenigde volk. As ons daar kom sal HY SELF die wonderwerk bewerkstellig.