Parlement gaan Steinhoff-baas dagvaar

Markus Jooste. Foto: Steinhoff International

Die parlementêre oorsigkomitee oor finansies gaan die voormalige Steinhoff-baas Markus Jooste dagvaar om voor die komitee te verskyn en te verduidelik hoe dit moontlik is dat die maatskappy so volkome kon ineenstort.

Jooste sal gevra word om op 15 Augustus te verduidelik presies wat gebeur het. Tydens ’n vergadering van die portefeuljekomitee vanmiddag het LP’s van alle partye voorsien dat Jooste alles in sy vermoë gaan doen om nie tot verantwoording geroep te word nie en dat die saak waarskynlik in die hof gaan draai.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee, Yunus Carrim van die ANC, het reeds met die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, en die parlementêre regsdienste vergader. Daar word verwag dat die Jooste-saak ’n geskiedkundige een gaan wees omdat dit die eerste keer gaan wees dat ’n dagvaardiging – en moontlik ’n lasbrief vir inhegtenisname – beteken kan word op ’n lid van die private sektor vir transaksies en gedrag waarin die staat en staatsinstellings geen rol gespeel het nie.

Die parlement mag, luidens die Grondwet en die wet op die regte en voorregte van die parlement, enigiemand dagvaar om voor die parlement te verskyn, maar in die praktyk was ’n blote uitnodiging nog altyd genoeg.

Daardie taamlik gemoedelike situasie het onlangs verander toe die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings probeer het om die Gupta-broers, Duduzane Zuma en Dudu Myeni voor die komitee te daag vir die ondersoek na staatskaping. Lasbriewe vir hul inhegtenisname is intussen uitgereik.

Die parlementêre regsdienste het uitgewys dat Jooste reeds deur ’n prokureursbrief aangedui het dat hy nie gehoor gaan gee aan die komitee se versoek om voor hulle te verskyn nie omdat hy meen dat hy heel moontlik voor ’n hof aangekla gaan word en nie sy reg op ’n regverdige verhoor wil kortwiek nie.

Die komitee is dus vanmiddag gemaan om presies volgens die letter van die wet op te tree. ’n Mosie om Jooste te dagvaar om voor die komitee te verskyn is dus aanvaar en sal nou na die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, gestuur word vir haar instemming.

Nadat Mbete daartoe ingestem het, moet die balju vir Jooste opspoor en die dagvaarding op hom beteken. Die dagvaarding moet die presiese plek, datum, tyd en die doel van die vergadering met die komitee stipuleer.

Die parlementêre regsdienste het uitgewys dat daar ’n groot verskil is tussen Jooste se saak en die sake van die Guptas, Zuma en Myeni, omdat die parlement se oorsigrol oor staatsbeheerde instellings nie in Jooste se geval ter sake is nie.

Wat wel ter sake is, is die parlement se wetgewende plig om te probeer vasstel hoedat huidige wetgewing aangepas kan word sodat die Steinhoff-debakel nie herhaal word nie. Die fokus val dus op die wetgewende eerder as die oorsigrol van die parlement.

Namens die DA het David Maynier en Alf Lees die besluit om Jooste te dagvaar verwelkom. Ook die EFF-LP, Floyd Shivambu, was ten gunste daarvan.

Steve Swart van die ACDP het uitgewys dat Jooste waarskynlik vir tyd gaan speel en gevra dat hy eerder gedagvaar word om vóór 15 Augustus al te verskyn sodat hy nie op die nippertjie vertragingstaktiek uithaal nie, maar die komiteelede het besluit dat 15 Augustus wel die datum vir Jooste se verskyning moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willie ·

Dit is die regte ding om te doen hy mag nie weg kom nie!!!

Rooikop ·

Hy moet verduidelik hoe so ‘n maatskappy so vinnig in duie kan stort – dis maklik. Bestuur die maatskappy soos die land – vat vir jouself soveel as moontlik en kook die boeke dat dinge nie te sleg lyk nie.

Pleit dan bewusteloos as jy uitgevang word.

Casper Labuschagne ·

As Jooste voortvlugtend was, of probeer het om alles tot op die einde te verdoesel of nie self die fluitjie geblaas het nie, het ek met die parlementêre oorsigkomitee saamgestem. Hier vermoed ek egter dat die nuwe nasionale sport in SA wat “white-bashing” genoem word, die eintlike agenda is. (Het iemand dalk ‘n goeie Afrikaanse benaming vir “white-bashing”?)

Ek kan Jooste se wandade eenvoudig verduidelik: Jy moet goeie finansiële syfers vertoon en pas gevolglik een of twee bedrae aan in die hoop dat dit vorentoe sal regkom. Maar dan moet jy weer aanpassings maak om die aanpassings weg te steek en weer en weer. Voor jy jou oë kan uitvee het jy ‘n enorme huis van kaarte gebou wat wag om ineen te stort.

Daag eerder die fondsbestuurders wat in Steinhoff belê het voor die komitee, want die huis van kaarte is nou duidelik om raak te sien maar niemand het voor die tyd hul werk regtig gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.