Parlement gaan voort in koronatyd

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse parlement sal van volgende week af sy belangrike take as kern van die demokrasie voortsit – toerekenbare besteding, ʼn waghondrol teen magsmisbruik, ondoeltreffendheid en korrupsie, en ʼn barometer van gewone mense se (dikwels botsende) menings en voorkeure.

Sedert die landwye afsondering op 26 Maart begin het, is die parlement fisiek en funksioneel gesluit, wat kommer in alle politieke partye (ook die ANC), asook in regskringe, menseregtekringe en les bes die parlementêre amptenary laat ontstaan het dat Suid-Afrika se duur verworwe grondwetlike demokrasie omgesit word in ʼn tipe diktatorskap (weliswaar in ʼn krisistyd).

Die eerste teken dat doodkry min is wat die demokrasie betref, het Vrydagaand plaasgevind met ʼn werklik historiese sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid. Dit was naamlik die eerste virtuele parlementêre komiteevergadering in Suid-Afrika se geskiedenis.

Soos Maroela Media al berig het, was daar verskeie aanvanklike haakplekke, maar dit het die parlement toegelaat om sy take soos hierbo uiteengesit te doen.

Hoewel politici dit eens is dat ʼn virtuele vergadering glad nie kan opweeg teen persoonlike verantwoordbaarheid nie, het alle politieke partye asook die parlementêre amptenary besluit dit is doeltreffend genoeg om verkieslik te wees bo geen parlementêre verantwoordbaarheid deur die staat en die regering nie.

Gevolglik het die hoofswepe van alle politieke partye in die parlement Dinsdag vergader om te besluit hoe ʼn virtuele parlement in die praktyk sal werk.

Volgens dr. Corne Mulder, hoofsweep van die VF Plus, was dit maar ʼn ingewikkelde leerskool, maar hoewel daar – amptenary ingesluit – 33 mense in die virtuele vergadering was, het dit baie goed verloop toe almal aan die tegnologie gewoond geraak het.

Volgens Mulder is die idee met virtuele parlementsittings nie om al die parlement se werk te doen nie. Dit is slegs ʼn tydelike reëling en geld slegs vir toesig oor koronaverwante staatsoptrede.

Virtuele tegnologie sal dus slegs gebruik word vir die sittings van portefeuljekomitees wie se departementele begrotings deur die afsondering beïnvloed word.

ʼn Lys van watter portefeuljekomitees geraak word, sal eersdaags bekend word.

Volgens Mulder is die hoofdoel van die beoogde virtuele portefeuljekomiteevergaderings vierledig: eerstens om kabinetslede en direkteurs-generaal te verplig om terug te rapporteer en vrae van al die tersaaklike politieke partye te beantwoord, tweedens om korrupsie en wanbesteding te voorkom, derdens om te verseker dat landsbugers ordentlik behandel word, en vierdens om toe te sien dat die koronavirus so doeltreffend moontlik bekamp word.

Die hoofswepe-vergadering is altyd geslote vir die media en die publiek en vir Dinsdag se virtuele weergawe is die media en publiek ook nie toegelaat nie, maar Mulder sê een van die grootste vraagstukke was hoe om op ʼn wettige en dus bindende manier reëls te kry vir virtuele sittings.

Die Grondwet laat naamlik ordereëlings aan die parlement self oor, en dit is vervat in die parlementêre reëls. As iets nie in die parlementêre reëls is nie, kan die parlement dit nie doen nie.

Die parlementêre reëls maak egter nie voorsiening vir virtuele komiteesittings nie, en die parlementêre reëlskomitee kan nie wettig virtueel ontmoet om die reël te wysig nie.

Maar daar is ʼn baie ou parlementêre reël bekend as Reël 6. In die 110 jaar sedert landwye parlementêre reëls die eerste keer in 1910 in Suid-Afrika ingestel is, is dit nog nooit gebruik nie.

Reël 6 gee naamlik aan die speaker van die parlement die mag om – slegs waar daar ʼn ernstige, onvoorsiene situasie ontstaan wat tot gevolg het dat die parlement nie wettig kan funksioneer nie – self, as speaker, ʼn bindende parlementêre reël uit te vaardig sodat die parlement sy plig behoorlik kan doen.

Alle belanghebbendes het saamgestem dat die staat van inperking weens die koronavirus presies die omstandighede skep vir Reël 6 om vir die eerste keer in 110 jaar praktiese nut te hê.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, sal dus na verwagting vandag ʼn parlementêre reël vir die hou van geldige virtuele parlementêre komiteevergaderings uitreik.

Die hoofswepe het op ʼn konsepbewoording van vyf bladsye besluit wat onder meer insluit dat die media – en, sover moontlik, die publiek – toegang tot die virtuele vergadering mag kry, maar dat die media en publiek nie mag deelneem aan die vergadering nie.

Die konsepreël bepaal ook dat behoorlike, openbare skriftelike kennisgewings deur spesifieke kanale gegee moet word van ʼn virtuele portefeuljekomiteevergadering, minstens drie dae voor die beplande virtuele vergadering.

Die verwagting in politieke kringe is dus dat virtuele parlementêre oorsigvergaderings teen volgende week gaan begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Hoe dan anders? Verlaat die kaptein en sy bemanning dan die sinkende skip eerste? Nie dat dit enigsins iets beteken dat die president en sy parlement wel aan diens is nie. Ons, die inwoners van die land , bevind ons nou al vir jare op ‘n sinkende skip met ‘n totaal onbevoegde vorige, sowel as huidige kaptein en bemanning in beheer. Die Covid19 storm met al sy fasette is NIE die oorsaak van ons ellende nie! Néé, verseker nie! Die héle parlement gooi nou rookskerms uit om die mislukking van die bestuur van die land en sy geldsake te regverdig, maar hulle kom nie agter dat mens nie suksesvol ‘n dooie perd kan voer nie. Nietemin, dalk is hierdie Corona storm uiteindelik ons redding om SA en sy mense in sy malle vaart na selfvernietiging te stop. Die kanse op herstel is legio, maar ‘n paar fundementele kwessies sal MOET verander….anders? Ja helaas, anders is ons gedoem!!

Fedup ·

Hennie. I couldn’t agree more. We will all drown from a failed government, not from the virus.

Genis ·

Ek dink hulle werk vir die eerste keer n bietjie, nie dat hulle n fantastiese werk verrig nie., nietemin…

koos10 ·

Jan Jan, ek gee al vir 2 weke lank vir my kinders “skool” by die huis, so as ons as gewone SA burgers dit kan doen dan kan die regering seker maak ook plan sien?
Ek hoop net dat die regering iets aan data kostes gaan kan doen, want dit put my finasies bietjie uit.

Fedup ·

And the TALKING will continue. Dont they get it? We dont care if you eventually mastered virtual technology, we care about what will happen next. Honestly.

Scalla ·

vir my is dit maar dieselfde, al veskil daar is nie meer parlementere cartoons in die aande op tv nuus nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.