Parlement gaan voort met Steinhoff-ondersoek

Argieffoto

Yunus Carrim, voorsitter van die parlementêre staande komitee oor finansies, het Donderdag bevestig daar was nog geen verandering in die besluit om aan die einde van die maand sittings te hou oor die Steinhoff-skandaal nie.

Dit volg nadat die DA se David Maynier vroeër die dag gesê het hy het nie ʼn formele antwoord gekry op sy versoek vir openbare verhore oor Steinhoff nie, hoewel daar ʼn openbare verklaring uitgereik is ná sy versoek.

Maynier het verlede maand aan Carrim geskryf om hom te versoek om dit te oorweeg om openbare verhore rakende “rekeningkundige onreëlmatighede” by die Suid-Afrikaanse kleinhandelsreus, Steinhoff International Holdings N.V., te skeduleer.

Die verhore sal in samewerking met die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) en die portefeuljekomitee oor openbare dienste en administrasie op 30 of 31 Januarie gehou word, na gelang van uitstaande administratiewe kwessies.

Carrim het gesê dit is egter glad nie waar dat die verhore op Maynier se versoek gehou word soos hy beweer nie en het bygevoeg Maynier se politieke posisie vererger net die situasie.

Carrim het gesê al wat Maynier moes doen, is om hom te bel of te SMS om navraag te doen oor die vordering van sy versoek eerder as om voor te gee dit is slegs die DA-komponent in die komitee wat omgee oor dié kwessie wat van nasionale belang is.

“Ek het onmiddellik opgetree nadat die kwessie aan die lig gekom het en het besluit dat die komitee verhore oor hierdie saak sal hou, lank voordat mnr. Maynier aan my geskryf en media toe gehardloop het. Ek het ook ʼn oproep van mnr. Floyd Shivambu oor die saak ontvang en mnr. [Themba] Godi het reeds ʼn verklaring daaroor uitgereik,” het Carrim gesê.

“Ek het aan die Raad van Finansiële Dienste (FSB) geskryf, die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die Openbare Beleggingskorporasie, die pensioenfonds vir staatsamptenare, die onafhanklike raad vir ouditeurs en die Johannesburgse Effektebeurs om hulle in te lig van die komende verhore en te versoek dat hulle ons voorsien van ʼn verwysingsraamwerk van die FSB-ondersoek na Steinhoff en moontlike tydlyne vir die voltooiing van die ondersoek.”

Steinhoff is in Desember 2017 in ʼn rekeningkundige skandaal gedompel wat tot die bedanking van Markus Jooste, die maatskappy se uitvoerende hoof, gelei het.

Die storm rondom Steinhoff het gelei tot die vinnige verkoop van aandele wat die waarde van die groep se aandele met meer as 80% laat tuimel het. Suid-Afrikaanse vakbonde het gesê miljarde rande van werkers se pensioene het verlore gegaan deur die staatsdienspensioenfonds (GEPF) en die Openbare Beleggingskorporasie (PIC) se beleggings in Steinhoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tammy ·

Ek hoop regtig dat die skuldiges wat onverskillig met ander mense se geld gewerk het, in dieselfde reel as die skade gestraf sal word. hoe kan jy maak soos jy wil met ander se bloedgeld, dan kan daardie mense mos optree soos die skuldige en hom dien ooreenkomstig straf!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Ag ons is tog so siek en sat vir die jammergatte wat altyd wil verskoning vra vir hulle foutjies. Gee net die mense se geld terug en gaan sit in die tronk vir die geld wat reeds verkwis is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.