Parlement gee groen lig vir tussentydse SAUK-raad

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die voorgestelde tussentydse raad vir die SAUK is Woensdag eenparig in die parlement goedgekeur.

Die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie het verlede week vyf name aanbeveel vir die tussentydse raad nadat die voormalige raad amptelik in die parlement ontbind is.

Die voorgestelde raad is Krish Naidoo, ʼn voormalige SAUK-raadslid wat verlede jaar bedank het, Febe Potgieter-Gqubule, Suid-Afrika se ambassadeur by die Afrika-unie, Khanyisile Kweyama, voormalige uitvoerende hoof van Business Unity SA, Mathatha Tsedu, ʼn veteraan-joernalis en professor in mediastudies aan die Universiteit van die Witwatersrand en John Mattison, professor in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.

Kweyama is as die raad se voorsitter aanbeveel en Tsedu as ondervoorsitter.

Die kantoor van die ANC se hoofsweep het die goedkeuring verwelkom en gesê dit dien as ʼn hoogtepunt in die vinnige proses “om die SAUK te laat terugkeer na normale en doeltreffende operasionele bedryf”.

“Ons is tevrede dat die gekose span verteenwoordigend is van die breër Suid-Afrikaanse demografie en beskik oor ʼn wye verskeidenheid van vaardighede wat nodig is om die instelling te transformeer,” lui ʼn verklaring deur die kantoor.

Die onmiddellike taak van die tussentydse raad, sodra pres. Jacob Zuma die aanbeveling bekragtig het, sal wees om die aanbevelings van die ad hoc komitee wat die SAUK ondersoek het, te implementeer.

Die langverwagte verslag oor die parlementêre ondersoek oor die stand van sake by die SAUK is verlede Dinsdag aan die Nasionale Vergadering voorgelê. Die meeste LP’s is verenig in hul aanbeveling dat Faith Muthambi, die minister van kommunikasie, afgedank moet word.

Lees die vorige berigte oor die SAUK op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

En Rooi Oog? Wat van Rooi Oog? Of is hy besig om.sy sakke vol lisensie en advertensie geld te pak? Of om seker.te maak Zuma en al sy ZUMAIKIES kry nog steeds eensydige PRO ANC vergrype coverage?

Piet ·

Die SAUK was een van die eerste instellings wat “getransformeer” het. Met Dirk Kleinshmidt aan stuur van sake in Polokwane, was verskeie blanke bestuurders met jare se kennis reeds in 1991 gedwing om pakette te vat. Teen 1994 was hierdie proses ver gevorder, die gehalte van programme asook die SAUK se inkomste was op dieselfde afwaardse spiraal. Wat wil hulle nou transformeer? Ek dog dan die eindelike doenwit is om die instelling se nuus so ongeloofwaardig as moontlik en hulleself so bonkrot as moontlik te kry. Dan is die transformasie mos afgehandel?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.