Parlement gee stap vorentoe vir vroueregte

(Argieffoto: Siyabulela Duda)

Die parlement het Dinsdag ’n stap vorentoe gegee vir vroueregte toe die Wysigingswetsontwerp op Tradisionele Huwelike deur die Nasionale Vergadering aanvaar is.

Die wetsontwerp brei die regte van vroue in veral poligame, maar ook ander tradisionele Afrika-stamhuwelike uit wat betref die erfreg, eiendomsreg en besettingsreg.

Tot dusver kon vroue in sulke huwelike nie noodwendig aanspraak maak op die vrugopbrengs van die huwelik by die afsterwe van hul eggenoot of as hulle van hul eggenoot skei nie. Nou sal hulle kan.

Voorts sal vroue in sulke huwelike nie bloot uit die huis geskop kan word deur hul eggenoot as die eggenoot moeg is vir hulle nie, en sal die oorlewende families sulke vroue nie bloot kan uitskop as hul eggenoot sterwe nie.

Al die politieke partye teenwoordig in die parlement het die wetsontwerp gesteun, behalwe die DA.

James Selfe, DA-LP, het gesê die wetsontwerp doen nie genoeg om vroueregte te beskerm nie omdat dit groot gapings los in die wetsdefinisies van die regte van vroue in die tradisionele huweliksreg en die tradisionele erfreg – tekortkominge wat in die praktyk ten koste van vroue uitgebuit sal word.

Hoofman Russel Cebekhulu, IVP-LP, het gesê dit raak nou tyd om vroueregte in Moslem-huwelike en Hindoe-huwelike ook uit te brei, maar Ganief Hendricks, Al Jama-ah-LP, het gesê tradisie en godsdiens is belangriker as die gelykheidsbepalings in die Grondwet.

Die wetsontwerp, wat reeds deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, het nou ook die meerderheidstem in die Nasionale Vergadering gekry en word nou na pres. Cyril Ramaphosa gestuur vir ondertekening sodat dit wet kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.