Parlement groet twee struggle-veterane

Winnie Nomzamo Madikizela-Mandela by die ANC se 54ste nasionale konferensie in Desember 2017. Foto: Ayanda Ndamane/ANA

ʼn Senior lid van die ANC het vanmiddag in die parlement gevra dat ʼn standbeeld vir die ontslape aktivis Winnie Madikizela-Mandela opgerig word. Dié versoek het gekom toe twee uiteenlopende en onlangs ontslape veterane van die stryd teen apartheid in die parlement gehuldig is.

Dr. Zola Skweyiya, oudminister van maatskaplike ontwikkeling en voormalige Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Londen, se terughoudende maar beginselvaste sagtheid, en die aktivis Winnie Madikizela-Mandela se aggressiewe durf is albei in herinnering geroep.

Skweyiya is deur die senior ANC-LP Charles Nqakula postuum om verskoning gevra dat die ANC onlangs na hom verwys het as ʼn leë blik toe hy een van die veterane was wat die etiek van die Zuma-bewind gekritiseer het.

Namens die ANC het die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, gesê die regerende party sal nooit skaam wees om met Madikizela-Mandela geassosieer te word nie, omdat hulle verstaan het waar sy vandaan kom.

Volgens Modise was Madikizela-Mandela, soos die Bybelse rigter Debora, dapper te midde van groot persoonlike opoffering, en ʼn maatskaplike werker wat haar beywer het vir die stryd teen huishoudelike en geslagsgeweld.

“Ja, sy het ʼn erge humeur gehad en ja, sy kon hard lag. Ons was lief vir haar ten spyte van alles, want sy was ons moeder,” het Modise gese.

Opposisiepartye het deur die bank geen kritiek op Skweyiya of Madikizela-Mandela uitgespreek nie.

Sej Motau, DA-LP, het onthou hoe Madikizela-Mandela geweld in Mamelodi buite Pretoria probeer voorkom het. Dr. Suzan Thembekwayo, EFF-LP, het gesê Madikizela-Mandela was die EFF baie goedgesind, en het geglo politieke vryheid moet vir ekonomiese bevryding aangewend word.

Narend Singh, IVP-LP, het gesê sy was ʼn vryheidsvegter in eie reg, nie net ʼn eggenoot nie. Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het vertel hoe hy persoonlik gesien het hoe sy haar hart aan die Here gee tydens ʼn kerkdiens.

Dr. Corné Mulder het namens die Vryheidsfront Plus gesê sy party het groot meegevoel met ʼn familie wat ʼn moeder en ouma verloor het.

Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies se lede teenwoordig het eenparig ʼn oomblik van stilte ter gedagtenis aan Skweyiya en Madikizela-Mandela gehandhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JM ·

Hoekom ‘n standbeeld oprig as die anc ons standbeelde laat verwyder want dit glo is nie vanpas nie

Anoniem ·

En hoeveel families groet DAAGLIKS broodwinners en boere? Die veterane se nalatenskap is so leeg soos die regering se staatskas!

rollie ·

Ek neem die VF+ kwalik dat hulle nie iets negatiefs oor Winnie gese het nie. Ook maar net sulke ja-broers soos die res, bang om ‘n standpunt in te neem.

Alida ·

Kry net klaar met hierdie vrou en kie. ASB!!! Dit was vir weke in ons kele afgedruk.

GM ·

Rollie, want hulle is beter gewoond. Mens kan respek hê vir ‘n ander se gevoel van verlies. En ja, ek weet die guns sou beslis nie deur opposisiepartye bewys geword het teenoor afgestorwenes wat die minderheidsgroep as hul veterane beskou nie. En ek glo ook nie daaraan om net goed te praat van die dooies nie, maar daar is ‘n tyd en ‘n plek vir als.

Ai-Ai ·

Darem vreeslik dat terroriste so oogehef word!!?
Ons kon gerus maar vir ET ‘n groter begrafnis en meer erkenning gee as wat hy gekry het!!!
Hy was ONS vegter….
Hoekom nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.