Parlement hervat werksaamhede

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die parlement hervat hierdie week op omvattende skaal sy oorsigrol ná ’n lang winterreses waartydens darem heelwat vordering gemaak is met sloerende wetgewing en ’n moontlike grondwetlike wysiging om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Komiteesittings neem hierdie week ’n aanvang en die middagsittings van die Nasionale Vergadering behoort aanstaande week te hervat.

Boonop moet die ad hoc-komitee oor die moontlike wysiging van die Grondwet se eiendomsklousule nou begin sif deur meer as ’n halfmiljoen skriftelike voorleggings wat Suid-Afrikaners aan die parlement gestuur het ter verbetering van die huidige model van grondhervorming.

Dinsdagoggend se komiteesittings sluit een in van die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor ekonomiese en sake-ontwikkeling, wat ten doel het om vier veranderings in arbeidswetgewing te verseker om ’n nasionale minimumloon (waarvan plaaswerkers, huiswerkers en werkers in die regering se openbare werke-program uitgesluit is) in te stel.

Terwyl die ANC aanvoer dit sal uitbuiting van werkers teenwerk, waarsku die DA dit sal tot ontsettend baie afdankings lei.

’n Interessante voorlegging môreoggend, voor die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies, sal handel oor die huidige toestand van die onderskeie provinsiale tesourieë namate die halfpadmerk van die finansiële jaar nader skuif.

Môremiddag gaan die ad hoc-komitee oor die sentrale regering se ingryping in die provinsiale regering van Noordwes ’n vorderingsverslag ontvang.

Woensdag se interessantste gebeure is ’n voorlegging deur die hoofde van verdere onderwys- en opleidingskolleges (voorheen bekend as tegniese kolleges) oor hoe sake in daardie sektor staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Snowball ·

Janee, ‘Parlement’ en ‘werksaamhede’ – daar is nou twee woorde wat nie in een sin hoort nie. Dié wat hulleself darem kan voortsleep tot daar, maak daai stoele net betyds voordat hulle in ‘n sluimerende staat verval…gelukkig skrik hulle wakker vir middagete.

John ·

… ons Sparlement waar net ge-he wil word… Menseregte skakel die Vader se regte totaal uit… Wat ek wil he, kom wat wil. Die ANC het sedert sy ontstaan gefokus om mense se basiese neiging nl selfvervulling en gierige neigings tot op sy laagste vlak vervolmaak:
Ek wil he en ek moet dit kry en die party sal dit alles vir jou bewerk. En so behou die party sy volgelinge. Soos by die Nazi’s dink mense later nie vir hulself nie. Die ‘beeld’ word aanbid. Hitler was ‘n ikoon en mitiese ideale is rondom hom deur sluwe sadiste opgerig. Min van sy meelopers is later gestraf met Hitler as enigste sondebok. Die Duitsers maak nou nog of die Nazi’s op ‘n ander planeet geheers het. Die ondergang van sulke hiper-leuenagtighede is altyd al groots wat oorbly van so ‘n bedeling.

Ans Watkins ·

Hoog tyd dat daar weer begin gewerk word. Daar is so baie kwessies van verwaarlosing, instandhouding, skoolsisteem wat gaoties is en praat nie van al die beloftes wat government maak en nooit na kom nie. Dis baie onregverdig teenoor die mense van die land. Jou word moet jou word wees, nie lee beloftes nie. Skandelik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.