Parlement hoor van aanslag op Afrikaans

Argieffoto

Die DA en die VF Plus het vandag se debat oor Erfenisdag gebruik om te fokus op die aanslag wat hulle meen die ANC en die EFF op Afrikaans loods.

Die debat is ingelei deur Albert Seabi, ANC-LP, wat gevra het dat Afrikatale meer in die parlement gepraat moet word en dat boeke in Afrikatale meer geredelik in biblioteke beskikbaar moet wees.

Hy het gesê meer tale moet bevoordeel word soos Afrikaans en Engels in die verlede bevoordeel is. Seabi het die uitbreiding van die Engelse letterkunde-museum in Makhanda (Grahamstad) se mandaat om ook Afrikatale in te sluit, verwelkom.

Hy het ook groot lof gehad vir die rol van die KwaZulu-Natalse regering en die Durbanse Universiteit van Tegnologie om spesifiek die rol van Zoeloe uit te brei.

Namens die DA het dr. Annelie Lotriet, LP en voorsitter van die party se parlementêre koukus, hulde gebring aan die meesters van die Afrikaanse letterkunde, onder wie NP van Wyk Louw, PJ Philander, Antjie Krog, Andre P Brink en Adam Small.

Sy het gesê Afrikaans se spore loop diep in die land, maar dat die ANC-regering se optrede die taal onder druk plaas. ʼn Taal gedy deur gebruik en deur hoër taalfunksies, nie net deur sosiale omgang nie, het sy gesê.

Die ANC se bewering dat hy al die land se tale waardeer word teengespreek deur die optrede van byvoorbeeld die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, wie se ideologiese vooroordeel “teen Afrikaans ʼn mens met ʼn gevoel van beklemming laat, want dis asof hy nie besef Afrikaans is die derde grootste taal in die land nie,” het sy bygevoeg.

Lotriet het gesê die ANC wil die vloei van Afrikaans in die land tot ʼn einde bring, maar die DA sal dié party enduit teenstaan.

Die EFF-LP Rocky Madingozi het in sy toespraak hulde gebring aan Afrika-intellektuele wat werk in inheemse tale gelewer het soos Sol Plaatje, Bessie Head en Tiyo Soga. Hy het hom uitgespreek ten gunste van intellektuele ontwikkeling in ander tale as Engels.

Heloise Jordaan (VF Plus-LP) het gesê die aanslag op Afrikaans bevorder nie nasiebou nie. Sy het aangevoer die regering bedreig die tapisserie waaruit Suid-Afrika bestaan en het gesê die afdwing van Engels bevorder middelmatigheid.

Volgens Jordaan sit die ANC en EFF hul apartheidsretoriek voort omdat hulle geen beleidsuksesse het om te toon nie, en is hulle bloot grypdiewe wat mense se taalregte afneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

humor ·

Wanneer gaan die anc , eff en lesufi begin besef hoe groter druk op die Afrikaanse taal geplaas word hoe groter weerstand en suksesverhale sal daar wees. Dit is ook tyd dat ons eie sg Afrikaanstaligers moet besef dat ons slordige omgang met ons taal, n tipe taal wat n mens laat gril, n groot oorsaak van die plundering is en die styd om eie taal te bevorder baie moeilik maak.

Pieter ·

Hulle mors nie net met ons taal nie hulle mors met ons afrikaners en ons se maar net dankie en los hulle

Cherokee ·

Pieter, in antwoord op humor se kommentaar waar hy na ‘slordige omgang met ons taal’ verwys, gee jy terugvoer met ewe slordige Afrikaans waarin jy jou eie naam met ‘n hoofletter skryf maar die van Afrikaans in klein letter en een lang sin sonder enige leestekens. Slordige Afrikaans het humor dit genoem.

Hans ·

As hul letterkunde in hul eie tale wil he moet hul dit begin skryf. Ons gaan dit nie ook nog vir hul doen nie. Ons het dan nou mos begin met Sol tech en Akademia om vir onsself te sorg. Hul sit ook en kritiseer en veroordeel ons terwyl hul met hul vet agterstewes in die ou “koloniale” parlementgebou sit. Hul haat die Afrikaner maar gebruik graag ons erfenis wat vir hul gegee is terwyl hul boggerol van dit verdien

Agie ·

Die Bybel is deur ons mense in hulle tale vertaal
Vir wat LEES hulle nie die Bybel in hul eie taal nie?
Dis net moontlik dat daar deur die lees van die Bybel ‘n paar intellektuele voorendag kom

Elna ·

Los ons taal uit asseblief. Bou daai brug en kom daar oor los asb net ons afrikaanse taal en kultuur uit asseblief.

jaco ·

dis net wit afrikaanse se wat kla oor diskriminasie teen Afrikaans. afrikaanssprekende kleurlinge kla nooit nie. sprekers van swart SA tale kla ook nooit oor verengelsing nie.
dis ook net n minderheid van die wit afrikaanse wit mense wat kla
MAAR uiteindelik word ons almal met VEEL ERGER onderdrukking as n bietjie taaldiskriminasie gestraf omdat ons “reaksionêr” en “teen transformasie” is.

Moenie dink dit kan nie gebeur nie: onthou Rwanda in 1994: 1 miljoen van die Tutsi minderheid binne 1 maand deur die Hutu meerderheid uitgemoor. en dit was swart op swart. ons sal VEEL MAKLIKER uitgeken en geviktimiseer en uitgewis kan word.

Lag eerder vir die toenemende verengelsing. ‘n klein wit taal van sogenaamde onderdrukking word maar net met n veel groter wit taal van onderdrukking vervang. Sover ek weet kom Engels uit n klein landjie met die naam Engeland, geleë in die wit wes-europa. sover ek ook weet, is die engelse taal dwarsoor die British Empire (op sy grootste 1 derde van die wêreld) deur wit mense gebruik om ander, meestal ni-wit mense, te onderdruk. As daar nie onderdrukking was nie, waarom dan liberation movements in groot dele van dié Empire en waarom geen Empire meer vandag nie?

Laastens, taaldiskriminasie los NIE die letsels van plaasaanvalle en regstellende aksie nie. Kla eerder oor goed wat regtig saakmaak. ten minste verstaan ons Afrikaanses darem almal Engels en het ons daagliks daarmee te doen. wees bly alles is nie na Zulu of Tswana verander nie.

Jerry ·

Politiek moet teen politiek optree daarom moet die VF en DA optree en n klag indien by die gelykheidshof teen alle politici en staatsampdraers wat ongrondwetlike uitlatings maak teenoor Afrikaans, onder andere teen Lesufi. Laat die hof besluit en dan sal Lesufi en die eff ses keer dink voordat hulle Afrikaans weer teiken.

Julie Jansen van Rensburg ·

Afrikaans – o soetste taal – jou het ek lief bo alles… Maar wat my grief is om te hoor hoe sommige – veral onder die jonger geslag – hulle woorde uitspreek: “My mô en pô het ons konsert toe geneem waar ons mooi “sôngs” kon lyster, en nadat dit klaar was, het ons hystoe gegaan en ek het aan die slôôp gerôôk…” EINA!!!! Jammer om dit te sê, maar selfs wanneer die nuus uitgesaai word hoor mens hier en daar die ô effe uitkom. Op skool het ons ene “PA” Terblanche gehad wat lirires kon raak wanneer dit by Afrikaans kom en altyd die volgende aangehaal het: “Ek HOU van ‘n MAN wat sy man kan staan. Ek HOU van ARM wat ‘n slag kan slaan….” en hierdie aanhaling was altyd met amrgeswaai en gebalde vuis voorgedra… en hy was daarop gesteld oor hoe ons mooi taal uitgespreek word… net jammer daar is nie meer sulke onnies nie…

Jimmy ·

Te oordeel aan die min kommentaar het MM lesers klaar boedel oorgegee. Geen terugslanery nie. Die VF+ is op hul eie. Maar kom dit by Steve of lyfstraf dan bewe die biesies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.