Parlement kap terug oor EFF se afleggingsbewerings

(Argieffoto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die parlement ontken dat hy besig is met ʼn afleggingsproses nadat die EFF Vrydag in ʼn verklaring aangevoer het die parlement gaan “duisende werkers aflê”.

Volgens Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, is die verklaring ooglopend verkeerd en misleidend – en dat die parlement boonop net 1 309 personeellede het.

In sy verklaring sê die EFF dat Baby Tyawa, waarnemende sekretaris van die parlement, aan die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement gesê het die parlement benodig meer as R500 miljoen net om sy huidige personeel te behou. Vrywillige skeidingspakkette gaan dus aangebied word om werkers – volgens die EFF – “uit te dwing”.

“Die parlement voer aan dit is die gevolg van ernstige besnoeiings aan sy begroting wat die nasionale tesourie ingestel het.”

Die EFF sê egter dit gaan parlementêre dienste strem en LP’s se vermoë om hul oorsigrol uit te oefen, beperk. Die EFF sê ook die parlement het in die verlede “sinlose finansiële besluite” geneem wat tot die huidige “finansiële gemors” bygedra het. Die rooi barette het onder meer verwys na die sogenaamde wit hemde wat as veiligheidswagte by die parlement aangestel is. Die EFF voer aan dié amptenare is “belaglike geld” as salarisse betaal.

Die EFF voer ook aan daar was weens die Covid-19-pandemie ʼn beduidende afname in geld wat vir vlugte betaal moes word en dat dié geld gebruik kan word om amptenare te betaal.

“Ons het in die verlede aangevoer die handhawing van die Anglo-Boereoorlog-ooreenkoms om die parlement in Kaapstad en die setel van die regering in Tshwane te hê, maak geen politieke of finansiële sin nie.”

Die EFF sê die afleggings by die parlement volg ʼn goed bewimpelde plan om die meeste Suid-Afrikaners arm te hou. “Die ANC lê oral personeel af sedert [pres. Cyril] Ramaphosa oorgeneem het. By Eskom is sowat 2 000 werkers afgelê en hulle kyk na nog 8 000 afleggings. By die Suid-Afrikaanse Lugdiens is duisende werkers sedert April verlede jaar nie betaal nie. By Denel gebeur dieselfde.

“Die uiteindelike strategie is om die rol van die regering oorbodig te maak sodat alle sleutelfunksies, ook wetgewing, deur die private sektor oorgeneem kan word.”

Mothapo sê egter die parlement beraadslaag met die tesourie oor ʼn proses van vrywillige vroeë aftrede. “Die EFF voer valslik aan, sonder ʼn greintjie van ʼn bewys, dat die parlement beoog om duisende werkers af te lê. Vrywillige vroeë aftrede is nie dieselfde as massa-afleggings nie.”

Volgens hom het verskeie werkers wat naby aftreeouderdom is reeds aangedui dat hulle bereid is om vroeër af te tree indien hulle die kans kry.

“Dit is vrywillige vroeë aftrede en dit kan dus nie gebruik word om werkers uit te dwing soos die EFF beweer nie. Die amptenare kan self besluit of hulle die geleentheid wil gebruik of nie.”

Mothapo sê die parlement het ook geen aankondiging gedoen dat hy afleggings oorweeg nie.

Hy sê ten spyte van die begrotingsbesnoeiings is die parlement nie midde-in ʼn krisis nie en gepaste stappe sal gedoen word om afleggings te vermy.

“Hoewel daar beduidende besparings was omdat die meeste van die parlement se sake weens die Covid-19-pandemie op virtuele platforms plaasvind, is dié besparing nie ʼn permanente oplossing, soos die EFF voorstel, vir die besnoeiings nie,” sê Mothapo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

daniel ·

Dit sal hopelik ook meebring dat daar minder tyd sal wees vir EFF om nonsens te praat.

Jannie van Niekerk ·

Indin dit waar is, moet hulle sommer by die parlemenstlede begin. Die heel eerste moet die EFF parlementslede wees wat net sit en lawaai en alles omtwrig in plaas daarvan om te werk. Geen enkele EFF parlementslid of hulle egvolg het nog ooit ‘n stekie werk verrig sedert hul in die parlemet is nie. Dan moet alle kabinetslede waai asook al die onnodige amptenare in hulle kantore. Dink aan al die salarisse en byvoordele wat gespaar kan word. Miljarde!

Kobus ·

Agbare Malema,net n vraag. Kan u dalk dink waarom daar “withemde brigade” aangestel is? Kom ek help u.Hulle is aangestel toe jy en jou rampokker kollegas die parlement in n sirkus verander het. Ek sou graag wou sien dat daar met vermindering / afleggings van julle parasiete wat geen waarde tot die land se welstand bydrae nie begin word. Elke minister het n adjunk,n sekretaris,n woordvoerder,persoonlike lyfwagte ens. Die skoonmakers en ander personeel wat agter julle hooggeplaastes moet opruim en julle bedien is die mense wat in hulle poste moet bly.

JM ·

Die EFF sit gereeld soos ‘n klomp hiënas om te kyk waar hulle kan aanval. Soos keffertjies: groot geraas en geen inhoud nie. Het hulle al ooit enigiets bygedra tot die opbou van die land?

Blomme ·

Malema en sy bekmakers is opstokers en beteken verder niks vir Suid Afrika. Dat mense hulle nog kan ondersteun gaan my verstand te bowe… ń Party met geen integriteit.

Tanniepetoors ·

Malema, gaan sit en bly stil want as jy jou mond oopmaak raak jy net twak en onwaarhede kwyt. As jy gaan sit, doen dit op dryfsand asseblief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.