Parlement kry komitee oor uitsmyt van LP’s

LP’s tydens ‘n parlementsitting. (Foto: GCIS)

In wat miskien op verskeie vlakke ʼn teken van die tye is, het die parlement ʼn spesiale ad hoc-komitee daargestel om die reëls vir die fisieke verwydering van parlementslede uit die vergaderlokaal te hersien.

Gestroop van vernis is die doel van die komitee om te bepaal in watter omstandighede die parlement se uitsmyters (in die omgang bekend as die withemde) deur die parlementêre voorsittende beampte (byvoorbeeld die speaker) opdrag gegee kan word om parlementslede hardhandig te verwyder.

Die ad hoc-komitee volg op groeiende ontevredenheid by alle ander politieke partye oor die onboetvaardige gedrag van die EFF en dui op die groeiende isolasie van die party in rooi in die hedendaagse magspolitiek.

Daardie isolasie het in die parlement ʼn paar weke gelede ʼn hoogtepunt bereik tydens die begrotingstoespraak van die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan.

Toe Gordhan sy toespraak wou lewer, het EFF-LP’s hom voortdurend met dieselfde punt van orde onderbreek. Nadat die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Grace Boroto, hulle verbied het om die minister verder te ontwrig, het al die EFF-LP’s opgestaan en dreigend na Gordhan gestap.

Die DA se LP’s het ʼn verdedigende kordon om Gordhan gevorm. Boroto het die uitsmyters ingeroep en alle EFF-lede is hardhandig verwyder.

Dat die uitsmytery nie presies volgens die reëls gebeur het nie, staan vas. Die reëls bepaal tans dat elke LP wat uitgesmyt gaan word, by name deur die voorsittende beampte gewaarsku moet word voordat dit gebeur.

Dit is egter baie tydrowend en moeilik omdat al die EFF-LP’s (daar is nou baie meer as voor die verkiesing) wat oproerig opgetree het, se name nie onmiddellik aan die voorsittende beamptes bekend is nie.

Dat dit ʼn belangrike kwessie is, kan gesien word uit die prominente parlementslede wat in die komitee gaan dien. Dit sluit in die adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli (ANC), John Steenhuisen (DA), Mbuyiseni Ndlozi (EFF), Corné Mulder (VF Plus), Shaun August (Good) en Steve Swart (ACDP).

Die verwagting is dat die nuwe reëls wat deur die ad hoc-komitee ingestel sal word wel die uitsmyt van LP’s sal vergemaklik, en daar is ʼn sterk impetus om die werk spoedig af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Michael P ·

Sien julle waar kom al die moeilikheid vandaan .As die leiers so aangaan dan dink die mense op straat dit is normaal. Sien ook waar kom al die geweld vandaan Soos ek verstaan een en een is twee dan nie.

Francois Kruger ·

Dissipline. Of dan die gebrek daaraan. Omvattend ons land se probleem in een woord; hetsy dit van toepassing gemaak word op gesinslewe, skool, weermag, professionele sektor, of algemene sosiale verantwoordelikheid. Genoeg gesê.

Die oplossing hier is eenvoudig: Wangedrag lei tot permanente skorsing uit die parlement, al beteken dit dan ook die einde van die skuldige/s se politieke toekoms.

Riaan ·

Net weer n bewys.Jy kan nie n land op bou en vorentoe vat as jy sit in jou parlement met sulke mense nie. Moeilikheid makers. Dis al wat hulle kan doen.

Gemaskerde Sopbeen ·

Niks word in Afrika gedoen om enige iets te “verhoed” nie. Dis net altyd….jaag aan…stig ‘n komitee…almal kry ‘n geldjie….niks gebeur nie…herhaal….

Jimmy ·

Al die strooi terwyl die land brand. Armoede, werkloosheid, geen ekonomiese groei, misdaad, korrupsie, swak onderwys en gesondheidsorg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.