Parlement kyk na fluitjieblaser se ernstige bewerings teen OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Foto: Twitter)

Die parlement het bevestig dat hy ʼn beëdigde verklaring van ʼn senior ondersoeker by die Openbare Beskermer (OB) ontvang het waarin ernstige bewerings teen adv. Busisiwe Mkhwebane gemaak word.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het bevestig speaker Thandi Modise het die beëdigde verklaring ontvang en dat sy dit sal bestudeer voor sy ʼn gepaste besluit sal neem.

News24 en die ondersoekende joernalistieke eenheid amaBhungane het Sondag onthul dat daar in die beëdigde verklaring aangevoer word dat inligting wat hooggeplaaste politici by die Vrede-suiwelprojek betrek op Mkhwebane se versoek uit haar verslag oor die aangeleentheid verwyder is.

Dit word verder beweer dat Mkhwebane se opdrag dat die parlement die Grondwet moet wysig om die Reserwebank se mandaat te verander, ʼn instruksie was van ʼn beampte van die Staatsveiligheidsagentskap.

Mkhwebane het intussen op Twitter gereageer en gesê die bewerings is deur ontevrede werknemers en voormalige werknemers. Volgens Mkhwebane staar van die werknemers tans dissiplinêre optrede in die gesig. “Die bedoeling is om die moontlike parlementêre proses om my uit my amp te verwyder, te beïnvloed.”

Mkhwebane het al vantevore op Twitter haar lot bekla nadat die hooggeregshof in Pretoria Vrydag teen haar beslis het in die saak oor die Vrede-suiwelprojek. Mkhwebane het gesê sy wil na die appèlhof in Bloemfontein petisioneer.

“Ek hoop nie ander OB’s hoef deur te maak wat ek deurgemaak het nie. Ek en my familie word daagliks geteister… Dit blyk ons staar ʼn grondwetlike krisis in die gesig. Nooit gedink ek sou dit post-1994 sien nie,” het Mkhwebane op Twitter gesê.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het ook op die bewerings gereageer. “Dit gaan baie moeilik wees vir Mkhwebane om haarself deur verduideliking hieruit te kry. Dit is tyd dat die parlement optree.”

Die DA het vroeër die maand versoek dat speaker Modise met ʼn proses begin om Mkhwebane uit haar amp te verwyder.

Dit het gevolg nadat die parlement pas nuwe reëls aanvaar het om ampsdraers en kommissarisse van hoofstuk 9-instellings uit hul poste te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JV ·

Ace het definitief n aandeel in die Estina verslag deur die OB.

Dafer ·

Ja-well-no-fine, en nou wat nou?
Stel veral belang in daardie beampte van die Staatsveiligheidsagentskap!

PJC ·

Ek kry ook die gevoel dat ou Ace se naam een van die is wat uit die verslag verwyder is en ek dink CR lag in sy mou.

André André ·

Ai, na so vele ander berigte en oor die Eskom berig vanoggend, verlang ek nou sterk na die land waar die boerevolk gewoon het. En more is dit die 16 de.

André André ·

Kom nou Cyril, wil jy en jou ANC-regering nie vir almal ‘n tuiste in die land skep waar ELKEEN van ons tuis voel nie? Jy kan begin by die ministeriele aanstellings, soos Bheki Cele en dan op die ry af gaan, onderwys en so …… As jy nou begin kan ons ‘n dubbele nuwejaar vier, dis nou oor 16 dae.

marous ·

Sy kan maar glo dat niemand enige van die gemors pre 94 ervaar het nie …

JohanR ·

Hoe in die land eindig al die dommes op in hoe posisies? Is die woord by parliament “kom ons soek ‘n domme, en maak hom of haar OB? Die enigste persoon waar hulle dit blykbaar verkeerd gekry het was Thuli.

JohanR ·

Hierdie een probeer nou soveel op mors as sy kan voordat sy uit geskop is!

Kerneels ·

“Ek hoop nie ander OB’s moet deurmaak wat ek deurgemaak het nie…”
Hoekom het Madonsela voor jou niks oorgekom nie? Want sy was eerbaar en het met integriteit opgetree, me Mhkwebane.

Neels ·

Ek het nog altyd gese die antie gaan voor kersfees n geskenk kry toe nie want die anc parlement het voette gesleep. Lyk my nou met al die fluitjies wat blaas gaan dit moontlik vroeg in die nuwe jaar gebeur, bahakwe die ace en kie steek weer n dtokkie daavoor .

Foxi ·

Of sy nou ernstige bewerings teen haar het ofte nie! Maar om so geteister te word moet iets verskrikliks wees vir n mens. Dis sal dan beter vir haar wees om die tuig neer te lê en pad te gee, vir haar eie beswil.

Johanna Botha ·

Anc steur hulle aan niks nie …die fluitjie sal nog sy werk verloor …of demote word ….die wat plunder gaan op in die range ….NIKS gaan weer gebeur nie !

Louis leeu ·

Sy is veronderstel om onafhanklik te wees ,net weer n bewys dat sy n pion is van die ANC.Dit is n skande dat iemand in so vertrouens posisie haar mag so misbruik.

Danie T ·

Geen twyfel.
Lees asb net boek: State Capture Ace Magashule deur Pieter-Louis Myburgh…laat jou bloed kook!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.