Parlement maak geskiedenis met eerste virtuele ontmoeting

Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: GCIS)

Die Suid-Afrikaanse parlement het Vrydagaand geskiedenis gemaak met sy heel eerste virtuele komiteevergadering.

Die vergadering het in die vorm van ’n aanlyn konferensie plaasgevind deur middel van ’n rekenaartoepassing (app), en het gehandel oor die regering se hantering van die koronavirus-kwessie.

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, en enkele senior amptenare het die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid toegespreek. Die formaat daarvan was histories en ’n aanduiding van hoe parlementêre oorsig kan plaasvind tydens die tydperk van algehele afsondering.

Nadat die voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid, dr. Sibongiseni Dhlomo (ANC), aanvanklik die media probeer verhoed het om regstreeks oor die virtuele vergadering te berig, het die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, op versoek van die voorsitter van die parlementêre persgaleryvereniging, Andisiwe Makinana, ingegryp en die media is toegelaat om in te skakel.

Die tegnologie het aanvanklik die LP’s ore aangesit. Die vergadering kon eers 25 minute na die aanvanklike aanvang aan die gang kom nadat almal suksesvol ingeskakel en hul honde en kinders stilgemaak het.

Daarna het die vergadering redelik goed afgeloop, hoewel stadig omdat spreekbeurte en die geleentheid om vrae te stel moeilik was om toe te deel sonder oogkontak.

Benewens Vrydagaand se koronavirus-syfers het Mkhize ook ’n pleidooi gelewer dat gesigsmaskers so dikwels moontlik gedra moet word.

Die suksesvolle afloop van die vergadering, en die feit dat verskeie parlementêre hoës wat niks met die portefeuljekomitee oor gesondheid te doen het nie, ook daarop ingeskakel het, het daartoe gelei dat in parlementêre kringe gemeen word dit kan as model vir die toekoms dien – minstens tot die tydperk van afsondering afgeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

Virtuele ontmoetings word daagliks in besighede toegepas. Nuut but regering?

Boortor ·

Ek sal glo dit was n gesukkel in die begin. Mens wonder partymaal oor dinge. Dis tog niks nuut nie. Ons doen dit al baie lank tussen die tak kantore. En ek is nog van die ou skool generasie. Moet net nie almal gelyk praat soos altyd nie.

koos10 ·

Net 25 minute laat begin? Dis baie beter as die SONA en normale vergaderinge!

Carl ·

By my werk hou ons al die laaste 3 weke virtual meetings….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.