Parlement maak reg om speaker te kies

Thandi Modise aanvaar haar nominasie as speaker. (Foto: Twitter via @ANCParliament)

Die Nasionale Vergadering het vanmiddag om 12:15 verdaag sodat stembriewe gedruk en sowel stembusse as stemhokkies reggekry kon word vir die verkiesing van die nuwe speaker van die Nasionale Vergadering.

Die ANC het Thandi Modise genomineer as speaker, en die DA die voormalige adjunkspeaker van die Wes-Kaapse wetgewer, Richard Majola.

Vanoggend is die 400 nuwe lede van die Nasionale Vergadering feestelik ingesweer.

Die EFF het ’n raserige en laat aankoms gekonstrueer en was by verre die mees vreugdevolle groepering van almal. Hulle het ’n nuwe danspassie uitgevoer waarvoor ʼn mens in die middel daarvan moet afsak soos vir ’n vinnige twist sonder om jou heupe te swaai – nogal ’n uitdaging vir die meer bejaarde LP’s in rooi.

Die EFF-lede wat pas as lede van die parlement beëdig is. (Foto: Twitter via @EFFSouthAfrica)

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die verrigtinge begin met ’n ernstige pleidooi dat parlementslede onselfsugtig moet optree en om hul grondwetlike pligte sowel as hul ampseed baie opreg op te neem en uit te leef.

Hy het hulle toe ’n volle drie minute gegee om oor sy voorskrifte na te dink.

Daarna het hy die 400 LP’s in groepe van tien beëdig. Belangrik genoeg is die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, in die eerste groep ANC-LP’s beëdig.

Vier omstrede verkose ANC-LP’s is nie ingesweer nie – Baleka Mbete, Nomvula Mokonyane, Malusi Gigaba en adjunkpresident David Mabuza. Mabuza het die inhuldiging uit die galery dopgehou en hy gaan glo later ingehuldig word.

’n Adjunkspeaker en die president moet ook nog vanmiddag verkies word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Felix ·

En nou hardloop seker mense van die pers woes rond en beduie of Dlamini-Zuma, of Pandor gaan adjunkpresident word. Dan word daar bespiegel oor waarom die een of die ander een gekies moet word. Hulle jaag nou weer aandag, elkeen om sy pond vleis.

Dries du Toit ·

Naledi Pandor is die enigste bevoegde minister in die ANC. Dit sal boekdele spreek as sy aangestel word.

Willie ·

Adjunkpresident dink ek gaan die een met die plastiek hare wees… L Sisulu

Genieve ·

Ek noem dit n tragedie regtig want wie is nog betroubaar????

Gert van Wierdapark ·

Tannie Modise gaan nou in die Parlement moet Boer want van wegbly en nie kosgee nie, sal nie daar werk nie!

Hendrik ferreira ·

Ek verstaan sony speakers is goed en kom met n 4 jaar waarborg

Inus ·

Regstelling Jan-Jan Joubert:
Ek ken vir Richard Majola baie goed. Hy was die SPEAKER in die Wes-Kaap, nie die ADJUNKSPEAKER nie. Hy was ook die onderburgemeester in Saldanhabaai en die burgemeester van Weskus Distriksmunisipaliteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.