Parlement nader aan reëls om OB mee te verwyder

Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die parlement behoort teen aanstaande maand nuwe reëls in plek te hê om leiers van artikel 9-instellings wat nie die mas opkom nie, mee te verwyder, nadat goeie vordering met die opstel van sulke reëls vanoggend in die parlementêre reëlskomitee gemaak is.

Een van die eerste van hierdie hooggeplaastes wat onder druk kan kom om haar pos te ontruim is die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Daar is tans geen voorgeskrewe metode oor hoe om die hoof van ‘n art. 9-instelling (dit sluit ook die ouditeur-generaal, die Menseregtekommissie, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die Onafhanklike Verkiesingskommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalgemeenskappe in) te verwyder nie.

Vandag het die reëlskomitee ooreengekom dat daar twee maniere is om ‘n ondersoek na die voortgesette geskiktheid van die hoof van ‘n art. 9-instelling van stapel te laat stuur.

Die eerste manier is om ‘n substantiewe mosie aanvaar te kry in die Nasionale Vergadering. Die tweede manier is vir ‘n parlementslid om ‘n skriftelike versoek in die verband aan die speaker van die Nasionale Vergadering te rig.

Die speaker moet die kwessie dan verwys na ‘n komitee van kenners wat benewens byvoorbeeld oudregters ook tersaaklike spesialiste (soos ouditeurs as die klagte teen die ouditeur-generaal sou wees) moet insluit.

Daardie kennerskomitee moet dan besluit of daar op die oog af (prima facie) ‘n saak teen die persoon is, of nie. Daardie besluit word aan die speaker oorgedra, wat dit sal voorhou aan die Nasionale Vergadering.

Die Nasionale Vergadering moet dan besluit om die saak verder te neem, of nie. Indien nie, eindig die kwessie daar. Indien wel, moet ‘n veelpartykomitee aangestel word om die saak te ondersoek. Die komitee se bevinding word dan aan die Nasionale Vergadering voorgelê, wat dit moet aanvaar of verwerp.

Die parlement se tegniese personeel is vandag opdrag gegee om hierdie prosedure behoorlik te omskryf en die reëlskomitee se subkomitee oor die aangeleentheid sal op 7 Oktober vergader om dit te aanvaar of te verwerp, met die aanduidings tans sterk dat dit aanvaar sal word.

Die tweede kwessie waaroor besluit is, is om ledemosies in die Nasionale Vergadering terug te skuif na vroeër op die sakelys sodat meer ministers teenwoordig kan wees om mosies van parlementslede te beantwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Julius ·

Sy gaan haar termyn voltooi met ‘n goue handdruk en die saak sal nog besig wees om kommisies aan te stel.

JV ·

Alweer een lang proses wat jare kan duur en baie belasting geld.

Gemaskerde Sopbeen ·

As die regte persone met die regte kwalifikasie volgens die regte prosesse aangestel word, sal die nie nodig wees om “reëls te formuleer” om van hulle ontslae te raak nie. In SA kan enige persoon in enige pos ingedruk word, sonder die nodige ervaring en kwalifikasies…..daar’s mos darem altyd ‘n “omkeer strategie” vir ‘n paar miljard Rand.

Strandloper ·

Slaan my met n pap snoek…hoe is dit moontlik om iemand in n mags posiesie te he sonder eenige tug matreels. Maar aan die ander kant is dit maar seeker deel van die vakansie plaas instelling se kaders.

Dr Phil ·

En ek wil nog sien dat enige mosie slaag wat indruis teen die skaaptropmenataliteit van die aa en see… Hulle vee enige mosie van die tafel met hulle getalle omdat hulle nie na logiese advies luster nie.

JohanR ·

Kan nie gou genoeg gebeur nie! Hoop die volgende een is beter gekies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.