Parlement ontken dreigende skorsing van sekretaris

Xolile George (Foto: Parlement)

Daar is geen besluit geneem of voorneme om Xolile George, parlementêre sekretaris, te skors rakende die herrie wat oor sy salaris ontstaan het nie.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, het bewerings deur die vakbond Nehawu ontken dat George skorsing in die gesig staar rakende kwessies oor sy salaris.

Die DA het verlede maand ʼn mosie ingedien vir ʼn amptelike ondersoek na George se salaris, wat luidens berigte kort ná sy aanstelling met bykans 70% opgestoot is, van R2,6 miljoen tot R4,4 miljoen.

Volgens Mothapo het die programkomitees van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies verlede week besluit om die klagte wat deur die DA ingedien is na die gesamentlike staande komitee oor die finansiële bestuur van die parlement te verwys vir oorweging. Dit gaan wel afhang of sodanige oorweging haalbaar is twee weke voor die verkiesing.

“Die aangeleentheid is dus tans voor die komitee, en ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om die komitee die nodige ruimte en tyd te gun om sy sake te doen.”

Daar is verlede jaar berig George verdien meer as pres. Cyril Ramaphosa. Die parlement het in Oktober gesê die besluit om George se vergoedingspakket te hersien, is deeglik, objektief en in ooreenstemming met jare lange praktyke gedoen.

Mothapo het destyds gesê die besluit om George se vergoedingspakket in die vorige boekjaar te hersien, nie ligtelik geneem is nie.

“Die besluit is gegrond op die aanbevelings van ʼn onpartydige deskundige assessering wat deur ʼn volhoubare sake- en vergoedingsadviesfirma gedoen is. Hierdie deeglike hersiening is begin om te verseker dat die besluit onbevooroordeeld was, asook in ooreenstemming met die beste praktyke in die bedryf en vry van enige subjektiewe belange.”

Volgens Mothapo was die voorsittende beamptes bedag op die heersende sosio-ekonomiese toestande in die land en is die hersiene vergoedingspakket vir George sowat 26% laer as die pakket wat hy verdien het in sy vorige pos as hoof van Salga. Volgens berigte het George in dié posisie R5,8 miljoen per jaar verdien.

Die hersiening van George se vergoedingspakket is openlik uitgevoer, in ooreenstemming met gevestigde prosedures, en die gevolglike besluite is met die grootste aanspreeklikheid en nakoming van parlementêre standaarde geneem, het Mothapo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Wat doen die kader om daai vergoeding te regverdig?

Christo ·

Genade. Seker 20 grade en net soveel invloedryke kaders as vriende. En dan is daar die brandarm mense in plattelandse dele wat vir sy party stem. Het ANC elite geen skaamte nie?

Papsak ·

Kyk hoe lyk alles maar alles in hierdie land dit is waar gelde heen gaan om vir hulle sulke moviese salarisse te betaal maar daar nie geld vir krag krisis of water probleme of paaie nie nee hulle gee liewers hulle boeties verhogings met gelde ?????

Republikein in die Wes Kaap ·

SALGA word deur bankkrot plaaslike owerhede in stand gehou. Maar die hoof ontvang ‘n top salaris.

Anel ·

Wel ek glo die regeting is gewone staatsamptenare. Hulle salarisse moet dieselfde wees . Hulle is in diens van die publiek en hul salarisse word met belastinggeld betaal. Hoekom moet hulle so baie kry? Dit is sakgeld want alles word vir hulle betaal. Dit is ‘n klap in die gedig van alle burgers van die land. As hulle nog iets gefoen het om die buitensporige bedrae te verdien, was dit ‘n ander storie. Maar dit is net ‘n teken van absolute minagting vir die mense van hierdie land!

MrMagic ·

“George sowat 26% laer as die pakket wat hy verdien het in sy vorige pos as hoof van Salga”
Asof George daar enige sukses behaal het. Salga moet onder andere toesien dat munisipaliteite se bestuur verantwoordbaar gehou word. Sal graag ‘n paar van hulle prestasies wil sien. Lyk eerder asof almal net daar is vir ‘n gratis salaris.

JN ·

Goeie hel..
Watse salaris?? Vir wat? Watter
bydrae maak hy nou eintlik tot n beter Suidrafribabwe??
Geen wonder die Anc wil alles sentraliseer nie..
Die kaders is nog nie dik genoeg nie. Hul vreet die een trog leeg en hardloop vinnig na die ander!! Die gulsigge narre vestaan nie hul eet die eend wat die goue eiers le nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.