Parlement ontplooi uitsmyters teen joernaliste

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

ʼn Gevaarlike grens is vanmiddag in die parlement oorgesteek toe ʼn parlementêre portefeuljekomitee se verrigtinge geheim en geslote verklaar is en joernaliste die lokaal verbied is met meer as ʼn dosyn parlementêre uitsmyters wat ontplooi is om die joernaliste met geweld te verwyder indien nodig.

Die groot geheimhouding gaan oor die bedrog en korrupsie in die departement van water en sanitasie terwyl die huidige minister van kommunikasie en voormalige Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, nog die minister was.

Die ANC-LP en voorsitter van die komitee, Lulu Johnson, het die aanvoorwerk vir die geslote vergadering gedoen en sy ANC-kollegas het gedwee agter hom ingeval.

Die versoek om die komitee se verrigtinge geheim te verklaar, is volgens Johnson verlede week deur die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, toegestaan op voorwaarde dat die komitee daartoe toestem.

Hoofman Russel Cebekhulu, IVP-LP, het nog verder gegaan as die ANC en wou selfs nie hê die media moet berig lewer oor watter partye ten gunste van die weerhouding van inligting van die publiek is nie, maar daartoe het die ANC darem nie ingestem nie.

Altesaam 16 van die parlement se berugte withemp-uitsmyters is binne en buite die vergaderlokaal ontplooi om te verseker dat die inligting van die publiek weerhou word – en verskeie het in die lokaal agtergebly vir die sogenaamde geheime bespreking al is die beletsel op die verspreiding van inligting nie bindend op hulle nie.

Die DA het aanvanklik beswaar aangeteken teen die feit dat die vergadering geslote verklaar word, maar nadat die nasionale vervolgingsgesag, die Valke en die spesiale ondersoekeenheid ook gevra het dat die vergadering geslote moet wees, het die DA nie teen die ANC-voorstel gestem nie.

Die Persgaleryvereniging, wat joernaliste in die parlement verteenwoordig, het amptelik beswaar aangeteken teen die gebeure.

Andisiwe Makinana, voorsitter van die Persgaleryvereniging, het gesê Frolick het ingestem tot ʼn vergadering môremiddag sodat die joernaliste se misnoeë aan hom oorgedra kan word, asook ʼn aandrang dat die gebeure nie herhaal word nie.

Daar is vyf grondslae waarop die Persgaleryvereniging se besware berus, het Makinana beklemtoon.

Eerstens word die grondwetlike reg op vryheid van inligting aangetas. Tweedens word beswaar gemaak teen die ontplooiing van die uitsmyters. Derdens word ʼn presedent geskep om meer komitees se verrigtinge van die publiek te weerhou. Vierdens was die besluit lukraak, want die parlementslede het die joernaliste en publiek toegang verbied sonder dat hulle eens geweet het watter inligting bekend sou word. Laastens maak die Valke, nasionale vervolgingsgesag en spesiale ondersoekeenheid gereeld soortgelyke voorleggings voor veral die portefeuljekomitee oor polisie en die staande komitee oor openbare rekeninge, en dit is oop vir die publiek, soos dit hoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Liana ·

Daar is dan verseker iets wat weggesteek moet word. Wonder hoeveel geld is nou weer in die water af. Soustrein ?? Staatskaping??

Celtis Africana ·

Wat is oor om te plunder?
Aanstaande jaar se belasting?

Ryan ·

Ons krimeneelment, agter geslote deure….Dit kan nie goed wees nie..

HESTER ·

Seker die enigste land waar daar bouncers by parliament gestationeer word. BANANA REPUBLIEK

Ruiklont ·

Is dit die optrede van ‘n organisasie wat nie meer weet waar en hoe om te keer mbt volgehoue korrupsie?

Alida ·

Hulle leeuns het opgeraak. Wat mag ons nie weet wat ons nie alreeds weet nie?

Jannie ·

BEDROG en KORRUPSIE is mos nie meer ‘n geheim nie…….dis verpligtend in die “Nuwe S A”!!!

Snowball ·

Lieg werk net tot op ‘n punt….dan moet jy maar die joernaliste uitsmyt want hulle spoeg jou lieg vir jou terug op die voorblaaie. Vra v Cyril.

Realis ·

Ja Retha, dit is presies wat jy in ‘n demokrasie kry. “Mob rule”. Die meerderheid wen, hulle is nie noodwendig reg nie, maar hulle is in beheer.

v ·

Nee wat DA lyk my julle tree op om te verseker dat julle die selfde truuk kan instel op van jul vergaderings???

Christo ·

En die DA het nie beswaar aangeteken nie? Papbroeke. Die DA het seker hulle eie agenda. Wat word weggesteek, water en sanitasie is seersekerlik die ‘n bedreiging vir staatsveiligheid nie. Of is SA dieper in die longdrop as wat ons dink dit is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.