Parlement ook bekommerd oor treurige sportterrein

Die sportterrein. (Foto: Enoch Mgijima Local Municipality/Facebook)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) sê hy is uiters bekommerd oor die geld wat die Enoch Mgijima-munisipaliteit aan ʼn sportfasiliteit bestee het – veral omdat die munisipaliteit reeds kniediep in die skuld is.

Fikile Xasa, komiteevoorsitter, het LP’s se kommer te kenne gegee oor die enorme bedrag geld wat aan die oprigting van die fasiliteit naby Queenstown in die Oos-Kaap bestee is, en die terrein wat uiteindelik aan die gemeenskap oorhandig is.

Die sportterrein bestaan nie uit veel meer as ʼn oop veld met ʼn staalpaviljoen en ablusiegeriewe nie.

Die terrein het die munisipaliteit sowat R15 miljoen uit die sak gejaag. Dít terwyl die plaaslike owerheid Eskom nagenoeg R400 miljoen en die ouditeur-generaal sowat R2,2 miljoen skuld.

“Gegewe die stand van die munisipaliteit se geldsake, behoort hy slimmer met sy finansies te werk te gaan,” sê Xasa.

Die komitee het Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap, se versoek dat ʼn omvattende ondersoek na die besteding gedoen word, verwelkom.

“Ons hoop dat daar meningsvolle aanspreeklikheid is oor ʼn projek van daardie aard.”

Die munisipaliteit het vandeesweek in ʼn Facebook-plasing die sogenaamde “feite oor die sportfasiliteit gestel” en gesê die projek het onder meer die oprig van ʼn 780 m lange palissadeheining, die aanlê van ʼn rugby- en sokkerveld, ʼn atletiekveld, ablusiegeriewe en kleedkamers, ʼn rioolstelsel en ʼn staalpaviljoen behels.

Desnieteenstaande het die LUR die terrein besoek en gesê hy gaan die saak verder voer.

“Daar moet verantwoording gedoen word oor die kwessie of behoorlike prosesse gevolg is by die aanstelling van die diensverskaffer en wat werklik gebeur het,” het Nqatha gesê.

Xasa sê dit is belangrik dat die munisipaliteit deurlopend deursigtig is en verantwoording doen vir elke sent van die belastingbetalers se geld wat aan die terrein bestee is.

“Die komitee sal noukeurig dophou hoe die saak hanteer en opgelos word. Indien dit aan die lig kom dat die geld wanbestee is, moet die oortreders die gevolge dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Swerwer ·

Ai, en daar is nou nie eens ‘n ou skaduweetjie te bespeur nie. Regtig. Of is die afdakke vir fase 2 beplan.

Barney ·

As jy nog stem vir ń party wat jou verbied het om op die strand te loop omdat jy miskien siek gaan word in die middel van somer het jy beslis brein skade en verdien jy nie die asem wat jy haal nie. En as jy stem vir ń party wat dit ondersteun het dan het jy nie ń brein nie.

Tipper ·

Bekommerd oor daai gemors,plekke het nie eers skoon drink water nie,maar nou ja die 2 spanne wat vanmiddag daar teen mekaar speel sal wees die Generators teen die Dynamos,spel begin 15h30.

Di ·

My vraag is net, hoe het die “Parlement” nooit geweet hiervan nie? Nee, hulle verswyg als totdat dit in die nuus uitkom dan is hulle almal SO GESKOK. Hierdie is slegs die tip van die ysberg, BILJOENE belasting geld gemors op iets wat uitmekaar val. Duidelik het hierdie klomp GEEN idee hoe om iets ordentliks op te rig nie. Gelukkig verskil mense se standaarde wat gestel word, dankie tog daarvoor.

SjN ·

Al bekommernis is dat net sommiges baat gevind het met tender proses.

Dup ·

Die Parlement is bekommerd……….daar is vele soortgelyke “papskep” projekte regoor SA.Almal fynbeplande maniere om geld in die hande te kry vir eie gewin of om miskien fondse in te samel vir ñ party wat tans geldelik in die verknorsing is.Dit terwyl daar duisende werkloses is en infrastruktuur oral in duie stort…..en ons Parlement is bekommerd!

Casper ·

Gelukkig hoef ek nie enige sportsoort daar te beoefen nie want daar gaan jy bene breek en jou op die ou einde vrek val.

Kokerboom ·

Basta treurige sportterrein..Parlement behoort ontsteld te wees oor ‘n meer treurige RSA in sy geheel!!

Blikkies ·

Terwyl hulle nou ‘n ondersoek gaan loods, doen sommer ook ‘n leefstyl Oudit op al die bestuurs lede en hulle gades van die Enoch Mgijima-munisipaliteit.

JM ·

Die I.K. laat veel te wense oor, behalwe as dit by oneerlikheid kom, dan is dit briljant!

Johann ·

Dis was die ondergrondse Fire/Swimming Pool wat soveel geld kos. En die arbeid vir die hand pomp om die water uit die gat te kry.

Samuel ·

Die parlement is net besorg oor hulle sakke. Niemand sal vir die wanbesteding tot verantwoording geroep word nie. Hierdie is net verkiesingspraatjies. Ons land is in sy Peetjie.

christo ·

Die parlementêre komitees is niks anders as ‘n klomp vet windsakke nie. Hulle bekommernis is net lippetaal.

JACF ·

More, ons probeer weer.
‘N vorige keer het ek die uitdrukking ” ore van die seekoei” gebruik. Merk op dat dit nou ook in kommentaar gebruik word.
Hierdie soort van bedrog kan ook maar gewettigde bedrog genoem word. Daar is nog sulke voorvalle en gaan nog lank aanhou.
Kom ons wees met mekaar eerlik, wat gaan die bedrog stop. Stem vir die regte politieke party?
Dit alleen is om van te lag.
Huidige gebeure is lank terug voorspel. Min wou dit glo .
Die bewoners van hierdie mooi land draai nie sodanige gebeure om nie. Ontsporing van die trein kom nog.
Mooi dag vir almal.

Jack ·

Snaaks hoe die goed gebou word en die ou wat die geld gee weet nie daarvan nie of weet hy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.