Parlement sal Mkhwebane nie ondersoek

busiswe-mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.

Drie van die grootste opposisiepartye in die parlement het Woensdag ʼn verslag van die wetgewer se portefeuljekomitee oor justisie, naamlik dat ʼn ondersoek na die geskiktheid van Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, nie geregverdig is nie, verwerp.

Dié verslag is vroeër vandeesmaand aangeneem ná die DA die nasionale vergadering versoek het om Mkhwebane te ondersoek omdat sy haar magte “erg oorskry het toe sy in haar verslag oor Absa/Bankorp voorgestel het die Grondwet moet aangepas word om die mandaat van die Suid-Afrikaanse Reserwebank te wysig.”

Mkhwebane is gevolglik deur die Reserwebank hof toe gesleep. Die Reserwebank het die hooggeregshof in Pretoria gevra om ʼn bevel teen haar uit te reik omdat sy haar “amp misbruik”.

Die hof het in Augustus Mkhwebane se regstellende aksie oor haar verslag in verband met die Reserwebank se reddingsboei aan Absa, die opvolger van die apartheidsera-bank Bankorp, ter syde gestel.

Die portefeuljekomitee het in sy verslag gesê die DA se versoek vir die ondersoek na Mkhwebane is polities gemotiveerd. Makgathatso Pilane-Majake, ANC-LP, het Mkhwebane verdedig en gesê daar is geen gronde vir die parlement om verwyderingstappe teen haar te begin nie.

“Die DA was van die begin af die enigste party wat nie die aanstelling van die beskermer goedgekeur het nie. Die OB het ʼn fout gemaak en dit erken, soos wat in alle ander afdelings van die staat gebeur,” het Pilane-Majake gesê.

Glynnis Breytenbach, DA-LP, het egter nie saam met die ANC gestem nie. “Die ANC wil haar hê omdat sy met die president oorleg pleeg en verslae aanpas om hom te pas,” het Breytenbach gesê. Sy het verwys na Mkhwebane se ontmoeting met verteenwoordigers van die presidensie en die Staatsveiligheidsagenstskap (SVA) voor sy die Absa/Bankorp-verslag gefinaliseer het.

Breytenbach het gesê Mkhwebane is ʼn OB wat nie die vaagste benul het van wat dit beteken om onafhanklik te wees nie. “Sy is nie onafhanklik nie, sy is nie onbevooroordeeld nie en ook nie geskik om haar pos te beklee nie – en ons verwerp die verslag,” het Breytenbach gesê.

Die EFF het ook teruggekap oor die feit dat die komitee nie vir Mkhwebane wil ondersoek nie en gesê die parlement het versuim om haar verantwoordbaar te hou. “Dit is ʼn ongelooflike omseiling van die proses wat sinoniem geword het met [pres.] Zuma,” het EFF-LP Thembinkosi Rawula gesê. “Sy [Mkhwebane] het ʼn vreemde verhouding met eerlikheid.”

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) en die African Christian Democratic Party (ACDP) het ook die besluit van die portefeuljekomitee oor justisie verwerp.

Daar is later oor die saak gestem en die ANC het sy meerderheidstem gebruik om die verslag goed te keur. Dit beteken dat Mkhwebane nie ondersoek sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Ons hoop maar vir n wonderwerk, dat die aaensee se meerderheid na die volgende verkiesing nie meer n feit sal wees nie.

job jobson ·

Die ANC meerderheid sal altyd wen – Korrupsie / magsmisbruik is soos wors en eiers in i toegezipte vleisbeursie.

Belinda Briel ·

Ja nee kyk…kos miljoene maar dit is ok…wat word van ons land…kom weg met moord en nog meer…so verkeerd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.