Parlement se begrotingseisoen begin

Argieffoto

Vir die volgende ongeveer ’n maand gaan die parlement sy besigste seisoen van die jaar binne wanneer die begrotings van die meer as veertig nasionale staatsdepartemente goedgekeur word.

Dit is een van die vier hooffunksies van die parlement om die begrotings goed te keur en aan te pas waar nodig. Die ander drie is om die land se leierskap te verkies, om wetgewing goed te keur en om oorsig oor die staatsdiens uit te oefen.

Die begrotingsdebatte neem die vorm aan van ’n debat van ongeveer twee en ’n half uur oor die begroting van elk van die 43 staatsdepartemente. Die verantwoordelike minister begin met ’n oorsig van sowat ’n halfuur oor wat die departement die afgelope jaar bereik het, en wat die departement hoop om in die komende jaar te bereik.

Daarna kry al die partye ’n kans om hul mening oor die begroting te lug, waarna die minister repliek lewer. Daar word nie onmiddellik gestem oor die begrotingspos nie – dit volg heel aan die einde van die proses wanneer al 43 begrotingsposte, sowel as die totale begroting en die toewysing aan provinsies, op dieselfde dag tot stemming gebring word.

Ten einde al die begrotingsposte binne ’n maand af te handel word drie begrotings tegelykertyd parallel hanteer – darem genadiglik in drie verskillende lokale. Die nadeel is dat dit beteken LP’s weet nie wat in elke begrotingspos aangaan nie en kan dit nie aan hul kiesers verduidelik nie – ’n jammerlike afwatering van verantwoordbaarheid.

Wanneer die begrotingseisoen dus Woensdag begin, sal vyf begrotingsposte gedebatteer word. Om 14:00 die middag vind die debatte oor basiese onderwys, wetenskap en tegnologie, en Statistiek SA plaas, elkeen in sy eie lokaal. Om vyfuur volg die debatte oor maatskaplike ontwikkeling en oor justisie, ook in verskillende lokale.

Vir ministers bied die begrotingsdebatte die geleentheid om nuwe beleidsrigtings of – innoverings aan te kondig, en vir die ANC om die voordele van die party se beleid te verduidelik.

Vir opposisiepartye bied die begrotingsdebatte die geleentheid om foute van die regering uit te wys en aan die hand te doen hoe dit verbeter kan word. Uiteraard lei sulke meningsverskille soms tot vurige persoonlike uitvalle in die debat, veral waar die ministers of die kwessies wat hulle bestuur, van omstrede aard is.

Die hoogtepunt van die begrotingseisoen is op 23 en 24 Mei, wanneer die groot kanonne in die veld gestoot word vir die debat oor die begroting van pres. Cyril Ramaphosa. Dit beloof om vanjaar weer spesifiek ’n hoogtepunt te wees met die wisselwerking wat Ramaphosa met verskillende opposisiepartye en leiers van opposisiepartye opbou, wat fyn dopgehou sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.