Parlement se eerste groot komiteevergadering Woensdag

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Die parlement se eerste groot komiteevergadering vind Woensdag plaas wanneer die reëlskomitee sal bepaal watter komitees die monitering van die parlement vir die volgende vyf jaar sal behartig.

Een van die eerste komitees wat sal moet vergader, is die programkomitee sodat daar op ʼn werkprogram vir die parlement ooreengekom kan word. So ʼn vergadering sal waarskynlik volgende Donderdag om 08:30 plaasvind.

Die komiteesamestelling van die parlement word deur die samestelling van die kabinet beïnvloed in die opsig dat dit die samestelling van die kabinet weerspieël –  elke ministersportefeulje kry ʼn portefeuljekomitee om ʼn toesig- en oorsigrol te vervul.

Dit beteken dat die getal portefeuljekomitees nou gaan afneem van 36 in die vorige parlementstermyn tot 28 in die huidige een.

Die reëlskomitee sal ook moet besluit hoe die samestelling van elke komitee in die praktyk gaan lyk – hoeveel verteenwoordigers elke party in elke komitee gaan kry. Dit word proporsioneel toegewys.

In hierdie verband sal dit spesifiek interessant wees om te sien hoeveel verteenwoordiging die VF Plus – wie se ledetal toegeneem het van vier tot tien – gaan wil hê, en hoeveel hulle gaan kry.

Sedert 1999 – toe hul seteltal in die Nasionale Vergadering afgeneem het van nege setels tot drie –  is die VF Plus ingedeel by die “kleiner partye” wat verteenwoordigers in komitees gedeel het, maar nou kan hulle dalk aandring op ʼn verteenwoordiger in elke komitee. Dit sal weliswaar beteken hul lede sal elkeen in drie komitees moet dien, wat vrae oor hul effektiewe deelname sal laat ontstaan.

Tegelykertyd sal die reëlskomitee moet besluit hoeveel spreektyd elke party in elke debat in die Nasionale Vergadering gaan kry. In hierdie verband kan die VF Plus beter daaraan toe wees as in die verlede. Tot dusver het die VF Plus, soos die ander klein partye, in elke debat net drie minute spreektyd gekry, maar toe die IVP in die vorige parlementstermyn tien setels gehad het soos die VF Plus nou het, het die IVP vier minute gekry in elke debat.

Dieselfde sal waarskynlik nou vir die VF Plus geld.

“Woensdag se vergadering van die reëlskomitee is ʼn belangrike een wat heelwat struktuur aan die parlement sal gee. Dan sal ons weet hoe die pad vorentoe sal lyk,” het Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, by navraag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.