Parlement se komiteevoorsitters binne dae bekend

Argieffoto

Namate die sesde demokraties verkose Suid-Afrikaanse parlement begin vorm kry, word al meer rigtinggewende stappe vir die kort en die mediumtermyn in die landspolitiek afgehandel.

Die volgende aankondiging waarop met gespanne afwagting uitgesien word, is wie die voorsitters van die parlementêre portefeuljekomitees gaan wees.

Elke kabinetsportefeulje (behalwe die presidensie) het ’n portefeuljekomitee, wat beteken daar sal 27 voorsitters aangewys word. Daarby kom die begrotingskomitee, die staande komitee oor etiek en ledebelange en die uiters belangrike staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), wat toesig hou oor besteding en wanbesteding in die hele staatsdiens.

Soms word ad hoc-komitees bykomend hiertoe aangestel oor pertinente vraagstukke. Vir die onmiddellike toekoms is die ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vereenvoudig, die enigste ad hoc-komitee wat verwag word.

Komiteevoorsitters is baie belangrike rolspelers, want hulle bepaal watter wetgewing en watter onderwerpe deur die parlement hanteer word. Hulle bepaal ook dikwels wat die aard van die parlementêre gesprek oor sulke onderwerpe is omdat hulle as voorsitters kan besluit wie word genooi (of nie genooi nie) om deel te neem. Hulle kan ook sekere sprekers, bewoordings, stellings of voorstelle buite orde reël.

’n Goeie, ingeligte, belese, oopkop komiteevoorsitter wat alle kante van die saak lug gee, goeie orde handhaaf, streng toesig oor die regering en staatsdiens ernstig opneem en die komitee gereeld oor belangrike kwessies laat vergader, is ’n aanwins vir die land.

Vincent Smith. Foto: Henk Kruger/ANA

Voorbeelde van goeie komiteevoorsitters wat in die vorige parlementstermyn sedert 2014 werklik die land se situasie verbeter het oor die kwessies wat aan hulle toevertrou is, sluit onder meer in Themba Godi as voorsitter van Skoor, Fikile “Slovo” Majola as voorsitter van die portefeuljekomitee oor energie, Zukiswa Rantho as voorsitter van die ad hoc-komitee oor staatskaping, Thoko Didiza as voorsitter van die ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet en Vincent Smith as voorsitter van die ad hoc-komitee oor bestuurskwessies by die SAUK.

Swak voorsitters van portefeuljekomitees kan baie skade aan die land aanrig omdat hulle nie staatsdepartemente verantwoordbaar hou of aktuele onderwerpe oor hul portefeuljes aan die bod bring nie.

Die beste voorbeeld van ’n totaal wanfunksionele komitee in die vorige parlementstermyn was die portefeuljekomitee oor justisie, wat geen leiding of oplossings gebied het vir onder meer die krisisse in die nasionale vervolgingsgesag of die kantoor van die openbare beskermer nie.

Die grootste rede vir die mislukking was die komiteevoorsitterskap van dr. Mathole Motshekga, wat deurtastende vrae deur spesifiek adv. Glynnis Breytenbach van die DA oor die vervolgingsgesag telkens buite orde gereël het om rolspelers van uiters twyfelagtige morele peil te beskerm – mense soos die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shaun Abrahams, en omstrede rolspelers soos advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi.

Min of meer al die punte en vrae wat Breytenbach oor spesifiek daardie drie individue se gedrag en aanstellings wou opper, is stompweg, sonder bespreking en sonder opgaaf van redes, deur Motshekga buite orde gereël, wat beteken het daar was weens Motshekga se voorsitterskap nie behoorlike oorsig oor Abrahams, Jiba en Mrwebi nie.

En byna al die punte deur Breytenbach wat nie toegelaat is nie, is sedertdien deur die hof as nie net toelaatbaar nie, maar ook regstegnies korrek bevind. Nou is Abrahams, Jiba en Mrwebi nie meer in hul poste nie, presies om die redes wat Breytenbach op die tafel probeer plaas het – nie dat daar enige erkenning van sy foute deur Motshekga was nie.

Die atmosfeer tussen Motshekga en Breytenbach was trouens giftig. Dit het een baie snaakse oomblik opgelewer toe ’n raadop Breytenbach opgemerk het: “As asemhaling nie ’n instinktiewe refleks was nie, sou Motshekga dit ook nie kon reg doen nie!”

Alf Lees saam met DA-leier Mmusi Maimane. Foto: DA/Twitter

Dié komitees fyn dopgehou

Wie die voorsitters van portefeuljekomitees is, het dus ’n groot rol in die mate waartoe die land goed of sleg funksioneer.

Die ANC het aangekondig dat alle nuwe komiteevoorsitters teen volgende Dinsdag klaar aangewys sal wees, sodat hulle met hul werk kan begin.

Die komitees wat dadelik die meeste druk op hulle sal hê, en dus die meeste belangstelling gaande maak, is Skoor, die portefeuljekomitee oor justisie, die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, die portefeuljekomitee oor finansies, die ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet, die komitee oor etiek en ledebelange en die gesamentlike komitee oor staatsveiligheid.

(Die gesamentlike komitee oor staatsveiligheid is vir alle praktiese doeleindes die portefeuljekomitee oor daardie kabinetsportefeulje, maar dit word ’n gesamentlike komitee genoem omdat lede van die Nasionale Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering gesamentlik daarop dien.)

Skoor se voorsitterskap word fyn dopgehou omdat dit so ’n belangrike en omvangryke oorsigmandaat het, en omdat dit die enigste oorsigkomitee is wat volgens tradisie ’n voorsitter van ’n opposisieparty het. Al die ander komiteevoorsitters kom uit die ANC.

Skoor moet boonop vir die eerste keer sedert 2005 ’n nuwe voorsitter kry omdat die vorige voorsitter, Themba Godi van die APC, nie weer tot die parlement verkies is nie.

Die ANC het – soos op alle portefeuljekomitees – ’n meerderheid van ses uit elf lede op Skoor, so hoewel die voorsitter uit die opposisie sal kom, sal dit die ANC wees wat met hul meerderheidstem in die komitee sal bepaal watter opposisie-LP dit sal wees.

Die DA doen tans hul absolute bes om die ANC te oortuig dat die DA-kandidaat vir die pos, die bekwame en ervare Alf Lees, die beste keuse sal wees. Die DA het trouens so ver gegaan as om in die Wes-Kaap (waar die DA as meerderheidsparty bepaal wie die komiteevoorsitters is) die Skoor-voorsitterskap aan die ANC aan te bied nadat die ACDP dit sowat twintig jaar lank beklee het. Duidelik hoop die DA die ANC maak die gebaar wederkerig.

Daar is egter geen waarborg wat die ANC sal doen nie, en benewens die DA se Lees word die name van die IVP-LP Mkhuleko Hlengwa, die UDM-LP Nqabayomzi Kwankwa en die ACDP-LP Steve Swart ook as bekwame moontlikhede genoem.

Die tweede komitee wie se voorsitterskap baie bespreking uitlok, is die portefeuljekomitee oor justisie. Redes hiervoor is omdat die kantoor van die openbare beskermer, die nasionale vervolgingsgesag en die strafregstelsel so disfunksioneel is en omdat ’n intelligente, onpartydige oopkop voorsitter hierdie termyn nodig is sodat die onvermoë om hierdie kwessies te kan en wil takel, tot ’n einde kom.

’n Sterk voorsitter is ook weer nodig vir die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings. In die vorige termyn het hierdie komitee baie goeie werk gedoen om die omvang van wanbestuur en geldvermorsing by openbare ondernemings oop te vlek. Dit bly een van die land se grootste uitdagings en die voorsitter sal dus weer ’n vreeslose, kundige, hardwerkende en eerbare persoon moet wees.

Die portefeuljekomitee oor finansies sal onder meer onmiddellike aandag moet gee en oorsig moet doen oor die hantering van die Steinhoff-debakel.

Amos Masondo. (Foto: Shayne Robinson/SAPA)

Die ad hoc-komitee oor die verandering van die Grondwet het ’n uiters verantwoordelike en moeilike taak om oor die verdelende kwessie van onteiening sonder vergoeding ’n oplossing te vind wat polities so wyd moontlik aanvaarbaar sal wees en nie die ekonomie gaan knak of kniehalter nie. Die vorige komiteevoorsitter, Thoko Didiza, is nou minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, so iemand anders gaan die taai taak van komiteevoorsitter moet aanvaar.

Die gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange moet LP’s wat die wet oortree dissiplineer en straf. In die vorige parlementêre termyn het die komitee glad nie hul werk gedoen nie, grootliks omdat die twee voorsitters, Amos Masondo en Omie Singh, so absoluut futloos was.

Dus is LP’s en ministers wat by staatskaping betrokke was, of gelieg het oor hul bate- en belangeverklarings, teen wie die konstitusionele hof ernstige bevindings gemaak het of selfs (in die geval van die EFF-hoofsweep, Floyd Shivambu) aanranding gepleeg het op die parlementsterrein, ongestraf gelaat. Dinamiese voorsitters wat hul taak ernstig opneem en wil werk is nodig.

Gelukkig wil mens darem beweer dit kan moeilik hierdie termyn swakker gaan as onder Masondo en Singh.

Die gesamentlike komitee oor staatsveiligheid is die komitee wat toesig moet hou oor wangedrag en wanbesteding deur die land se geheime dienste en spioene. Die komitee funksioneer sedert 1994 so swak dat dit ewe goed nie kon bestaan het nie.

Inligting oor die miljarde rand belastingbetalersgeld wat aan die geheime dienste en spioene bestee word, is uiters skraps. Omdat alles wat in die gesamentlike parlementêre komitee gesê word, tot dusver as geheim hanteer is, is die oorsigrol ’n absolute klug – as iets verkeerd is, mag niemand dit openbaar nie.

Wanneer inligting oor die geheime dienste wel aan die lig kom, soos in Jacques Pauw se boek The President’s Keepers, of in die jaarlikse oorsigverslag van die geheime dienste, is die omvang van wangedrag, wanbesteding, selfverryking, kriminaliteit en korrupsie skokkend, maar dit kan nie verrassend wees nie, want die parlement se oorsigrol kan net sowel nie gebeur nie, so die geheime dienste en spioene kan soveel wanbestee, korrup wees en onwettig optree as wat hulle wil – geen haan kraai daarna nie.

In ’n belangrike, en vir die land ʼn noodsaaklike wending, het die DA nou een van sy kundigste, hardwerkendste en mees vreeslose LP’s, Dianne Kohler Barnard, ontplooi om op die gesamentlike komitee oor staatsveiligheid te dien. Hopelik vind sy ’n manier om die noodsaaklike oorsigrol – oor die geheime dienste en spioene soos oor enige staatsliggaam – doeltreffend te laat gebeur.

Daar is verskeie komiteevoorsitters uit die vorige termyn wat as ministers en adjunkministers aangestel is en dus nie weer beskikbaar is nie. Benewens Didiza sluit dit onder meer die voormalige voorsitters van die portefeuljekomitee oor energie, Slovo Majola, en die voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys, Nomalungelo Gina, in.

Komiteevoorsitters uit die vorige termyn wat nie tot die parlement herkies is nie en dus vervang moet word, sluit in Themba Godi (Skoor), Francois Beukman (portefeuljekomitee oor polisie) en Patrick Chauke (binnelandse sake).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

willem Botha ·

Ek het geen vertroue meer in die DA nie hulle sê een ding en doen dan iets anders en daarna ontken hulle dat hulle dit gedoen het,ek sou behalwe vir Burgemeester Mashaba niemand van die anc lite kies vir die posisie nie.

Fanie ·

En hier dog ek nog al die tyd daar is spraakvryheid in n demokrasie? Nou hoor ek die voorsitters kan bepaal wie iets mag sê en of iets wel gesê mag word. En dan is daar mense wat my kwalik neem omdat ek nog nooit vir die sirkus se mensies gestem het nie. Neem my maar na hartelus kwalik. Dit laat my koud.

Trojaanse Donkie ·

Voel net jammer vir geleerde mense wat na die twak moet luister en agterna kamistig moet saampraat en nogal saamstem ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.