Parlement se net trek nouer om Supra

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes (12 Mei 2017) Foto: ANA

Die parlement se net trek ál nouer om die bewerings van korrupsie in die Noordwes-regering sedert die oorname van die huidige premier, Supra Mahumapelo.

Dinsdagoggend het twee parlementêre komitees blitssnel en sonder teenspraak besluit dat die nasionale tesourie en die ouditeur-generaal moet ondersoek hoe R100 miljoen se waardevolle diere deur die Noordwes- provinsiale regering aan private individue geskenk is.

Dat daar sterk steun vir die ondersoek is, blyk daaruit dat dit volg op ʼn buitengewone gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee oor omgewingsake en die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor grond en minerale hulpbronne, en dat die tesourie en die ouditeur-generaal binne drie maande aan die parlement moet terugrapporteer.

Die politieke lyksbesorgers staan tans figuurlik tou by die deur van die eens magtige Mahumapelo, wat tot vier maande gelede as lid van die sogenaamde premierliga een van die magtigste mense in die ANC was.

Die premierliga lê aan flarde, met twee van die drie lede (Mahumapelo en die eertydse Vrystaatse premier, Ace Magashule) se politieke loopbane in die intensiewesorgeenheid namate bewerings oor korrupsie in hul provinsiale regerings al meer in die openbaar uitgepluis word.

Die enigste een van die premierliga wat sterk staan is David Mabuza, eertydse premier van Mpumalanga en tans adjunkpresident, aan wie se pogings Ramaphosa sy ANC-leierskap en dus sy presidentskap te danke het. Aan Ramaphosa se hantering van bewerings van ongure gedrag tydens Mabuza se premierskap sal sy stappe teen korrupsie en wetteloosheid uiteindelik beoordeel moet word.

Boonop is Mahumepelo op drie gebiede in die moeilikheid die afgelope week. By verre die ergste vir sy politieke toekoms is die onluste teen sy bewind, wat van Mahikeng af uitgekring het na Taung, Stella, Vryburg en ander dele van Noordwes.

Tweedens is daar die aanduidings dat die wapenvervaardiger Denel op onaanvaarbare wyse ʼn beurs vir die premier se seun wou toeken, en derdens die sterk bewerings dat Mahumepelo instrumenteel was daarin dat beeste ter waarde van meer as R1 miljoen wat vir opkomende boere in Noordwes bedoel was, aan Zuma geskenk is.

Alle aanduidings is dat Mahumepelo se beweegruimte, en sy dae as premier van Noordwes, vinnig minder raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tokkie ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie – beeste aan Zuma geskenk ????? Gaan hulle die geld terug betaal aan ons belastingbetalers ? Zuma en sy premiersliga gaan val net soos Mugabe en sy G40 liga geval het

Werner ·

Snaaks hoe vinnig hulle nou reageer nou dat hulle sien die geweld eskaleer as dit nie vir dit was nie sou daar niks met ou Supra gebeur het nie

Wilma ·

Sluit hul toe en smelt di sleutel dan is sleutel vi ewig weg

Pieter ·

Dis net so jammer dat onskuldige mense en eiendomme moet ly onder die geweld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.