Parlement sê SAUK moet self ‘inbraak’ ondersoek

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Die parlement sal die SAUK aanraai om self ondersoek in te stel ná ʼn beweerde inbraak by die uitsaaier se kantoor op die perseel, het die instansie Sondag gesê.

“Die parlement het ʼn berig van diefstal ontvang wat glo Vrydagaand by die SAUK-kantoor in die Marks-gebou van die parlement plaasgevind het,” het Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, gesê.

ʼn Voorlopige ondersoek deur die parlement se veiligheidsdienste Saterdag het dei volgende bevind:
– Daar was geen teken van gedwonge ingang by die betrokke kantoor nie. Daar is twee toegangsdeure na die kantoor – een wat gewoonlik vir toegang gebruik word, was gesluit en die alternatiewe deur, wat ten alle tye gesluit bly, was nie gesluit nie;
– Die parlement se nagwag het aangedui dat verskeie personeellede van die SAUK omstreeks 23:00 die aand by die betrokke kantoor gewerk het;
– Dit kom nie voor of daar gepeuter is met die [gesteelde] skootrekenaars se kabels waarmee hulle vasgesluit is nie. Iemand moes dus ʼn sleutel gehad het om die skootrekenaars oop te sluit.

“Die parlement se veiligheidsdienste sal ook beeldmateriaal van die gebou nagaan om te bepaal of daar enige ongemagtigde of verdagte persone op die toneel was tydens die beweerde diefstal.”

Mothapo het gesê die parlement sal die SAUK aanraai om self ʼn deeglike interne ondersoek te doen en dan ʼn volle verslag aan die instansie te verskaf.

Die City Press het vroeër berig dat daar, ondanks polisieveiligheid by alle toegangspunte in die parlement, ʼn inbraak Vrydagaand plaasgevind het by die SAUK se kantoor en dat minstens vyf rekenaars gesteel is.

Daar is kommer waarom joernaliste se rekenaars geteiken is. Die feit dat daar geen gedwonge toegang tot die nuuskamer was nie, word ook bevraagteken. Die parlement het vantevore herhaaldelik sy status as ʼn nasionale sleutelpunt bevestig, om die streng veiligheidsmaatreëls te regverdig. Dit is dus nie duidelik hoe die SAUK se kantoor geteiken is nie, het die koerant berig.

Die SAUK se kantoor is in die Marks-gebou, waar opposisiepartye se kantore ook geleë is. Daar is egter veronderstel om ten alle tye polisiewagte te wees by die ingange van al die geboue en by parlementêre hekke.

“Verslaggewers van die SAUK met wie die City Press onderhoude gevoer het, het bevestig dat vyf skootrekenaars gesteel is. Hulle name word weerhou omdat hulle nie gemagtig is om met die media te praat nie,” berig die City Press. “Die verslaggewers het gesê dit is kommerwekkend dat hulle rekenaars geteiken is en dat ander draagbare elektroniese toerusting in die kantoor onaangeraak gebly het.”

Twee parlementêre bronne het glo gesê in die lig van die onlangse inbraak by die kantoor van die hoofregter in Johannesburg verlede maand, is die inbraak by die SAUK kommerwekkend.

Die Demokratiese Alliansie het gesê die inbraak en verwydering van verskeie rekenaars van senior verslaggewers is “baie verdag”.

“In die lig van voortgesette intimidasie van SAUK-joernaliste, veral diegene wat hulself teen die SAUK se bestuur uitgespreek het tydens die SAUK-ondersoek, beskou ons die laaste ‘inbraak’ as deel van ʼn groter, gekoördineerde veldtog om SAUK-joernaliste te intimideer en te dreig,” het Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, gesê.

Die DA doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om die saak baie dringend te ondersoek. “Dit is verskriklik dat nie ʼn enkele persoon tot dusver in hegtenis geneem is in verband met die doodsdreigemente van die sogenaamde SAUK-8 nie, of in verband met inbrake by hul huise nie.

“Gegewe die geskiedenis dat daar beslag gelê word op rekenaars en dat joernaliste geïntimideer word, soos dit tydens die SAUK-ondersoek aan die lig gekom het, versoek die DA die inspekteur-generaal van intelligensie, dr. Sethlomamaru Dintwe, om die staatveiligheidsagentskap se betrokkenheid te ondersoek in hierdie inbraak en die voortgesette intimidasie van joernaliste.

“In ʼn tyd van toenemende staatskaping, en waar die staat se intelligensiediens nou blykbaar gebruik word om joernaliste te intimideer, in plaas daarvan om ons mense te beskerm, vertrou ons dat die inspekteur-generaal deeglik bewerings sal ondersoek dat SAUK-joernaliste afgeluister is en dat die betrokke persone aanspreeklik gehou sal word. Die DA sal nie enige poging, om die boodskap in die media te beheer, duld nie,” het Van Damme gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Hoef nie ver te soek….Rooiogies het die antwoorde…net ter voorbereiding van sy tugsakie…daar sal in elk geval nie te ernstige sanksies vir hom wees ten opsigte…hy ook een van nar Zuma se handpoppe…

Scalla ·

Nou hoe verwag die Sauk dat die parlement dit moet ondersoek, ruggraatloos

chris.l ·

LMGA ek kan nie glo dat daar tot 11uur nog gewerk was nie behalwe as dit “overtime” was nie

Alida ·

Dit is belaglik. Dit is tog duidelik dat dit intern gesteel is. Van bacakups is daar nie sprake nie ons weet mos almal hulle kan nie vooruit dink nie. Hulle hoef nie die SAPD se tyd te mors nie. Soek intern die skelm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.