Parlement skep nuwe manier om president te verwyder

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Daar is nou ʼn nuwe manier om iemand uit die presidentskap van Suid-Afrika te verwyder, naamlik deur ʼn staat van beskuldiging.

Dit volg nadat die Nasionale Vergadering Donderdag eenparig die reëls vir ʼn staat van beskuldiging –in die VSA op Engels bekend as impeachment – aanvaar het.

Tot dusver het die Grondwet teoreties – en nie presies by name nie – vir die verwydering van ʼn sittende president deur ʼn staat van beskuldiging voorsiening gemaak, maar daar was nie in die praktyk riglyne oor hoe om dit reg te kry nie.

Nou is daar, en die eerste stap is dat enige lid van die Nasionale Vergadering deur ʼn substantiewe mosie ʼn proses kan begin wat moontlik op ʼn staat van beskuldiging kan uitloop.

Nadat so ʼn mosie ingedien is, moet die speaker van die Nasionale Vergadering dit verwys na ʼn paneel bestaande uit drie onafhanklike regskenners wat ʼn regsmening oor die geldigheid van die moontlike staat van beskuldiging moet formuleer.

Die drie regskenners moet aangestel word ná oorlegpleging met politieke partye in die parlement en het 30 dae om hul werk af te handel.

Daarna moet die Nasionale Vergadering met ʼn meerderheidstem besluit of die ondersoek na ʼn moontlike staat van beskuldiging moet voortgaan.

Indien die Nasionale Vergadering besluit ʼn ondersoek moet wel voortgaan, word ʼn spesifieke ad hoc-komitee vir dié doel saamgestel op die gewone proporsioneel verteenwoordigende wyse waarop sulke komitees van die Nasionale Vergadering saamgestel word.

Die ad hoc-komitee doen dan ʼn aanbeveling of die president verwyder moet word of nie. Die verslag hieroor moet alle menings vanuit die komitee oor die onderwerp bevat.

Die verslag van die ad hoc-komitee dien laastens voor die Nasionale Vergadering, wat dit aanvaar of verwerp, en in die proses kan besluit of die president wel in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, sou die komitee so aanbeveel.

Indien die president op dié manier wel in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, is hy sy werk kwyt; indien nie, behou hy dit.

Daar was gister tydens die debat oor die onderwerp ʼn opskudding in die Nasionale Vergadering toe die immer uitgeslape EFF-LP dr. Mbuyiseni Ndlozi hardop gewonder het of sy party nie sommer dadelik moet probeer om pres. Cyril Ramaphosa in ʼn staat van beskuldiging te plaas nie.

Dit het woede in ANC-geledere veroorsaak en die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Grace Boroto (ANC-LP), wou Ndlozi dwing om sy stelling terug te trek omdat dit nie deur ʼn substantiewe mosie gedoen is nie.

Ndlozi het geweier om sy stelling terug te trek en Boroto het hom vir die dag uit die Nasionale Vergadering geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Afrika se korrupte leiers en diktators sal hulle min aan so n aanklag steur en net doodgewoon voortgaan met hul plundertogte. Afrika is nie die VSA nie!

Alida ·

Nou wie op lys van korruptes gaan sy plek inneem? As dit dan moet Pravin Gordhan asb. Hy is nie rassisties nie en sy hande is skoon. Tenminste sal hy die geldkrane toedraai en sy kabinet met die hand uitsoek. Vrot appels hoort op die komposhoop.

Staak saam ·

Alida jy het n dagdroom, die NUG van die ANC kies die party leier aat dan die prisedent is, jy of geen lid van die publiek het insae daarin nie.
Is Pravin ANC?
Ondersteun hy regstellinde ksie?
Praat hy saam sy party onteiening goed?
Was hy deel van die stryd teen apartheid wat bomme geplant het?
Ek wil net graag weet, is hy regtig so heilig soos jy dink?

IK ·

Dis ‘n Afrikasiekte dat die ‘sittende president’ se agterstewe vassuig aan die sitplek, nie eers ‘n duimspyker sal dit loskry.

Hennie ·

Solank as wat dasi korsie speaker nly is hierdie wetgewing in haar hande en kan sy woer woer met Zuma en Ramapadda se klokke speel!

GES ·

Dit is onmoontlik om in ʼn eenheidstaat saam met korrupte egosentriese mense te regeer. Die huidige demokrasie faal reeds die afgelope 20+ jaar. Tyd vir iets nuut. Selfbeskikking?

John ·

Die plan is vol skuiwergate en met regshulp en vriende op kritiese plekke sal ‘n slinkse leier vir jare kan speel vir tyd en sy vriende saam met hom.

Jerry ·

Dit sal die parlement 30 dae plus vat om van die president ontslae te raak. Wat die EFF se ndlozi egter uit die oog verloor is dat dit die parlement se sekuriteit minder as twee minute vat om van die EFF ontslae te raak tydens sittings wanneer die EFF hulle n bietjie swak gedra!

Michael ·

Ek kry die idee jy moet baie skelm wees in die ANC. se oe . As jy nie skelm is nie is jy nie goed genoeg om n president te wees nie.Hierdie kurupte party moet regtig uit gestem word. anders sal SA dit nooit oor leef nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.