Parlement skuld ook geld aan Eskom

(Argieffoto: Pixabay.com)

ʼn Onlangse verslag het onthul dat die parlement óók vir Eskom duisende rande skuld.

Dít te midde van talle uitdagings wat Eskom tans in die gesig staar, waaronder ʼn nuwe ronde beurtkrag weens kapasiteitstekort en groeiende skuld.

Die kragreus het Maandag aangekondig dat beurtkrag na fase vier verhoog word, ondanks aanduidings dat fase twee vir Maandag sou geld. Volgens Benedicta van Minnen, ʼn DA-LP, skuld die parlement Eskom R17 000.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, ontken egter dat die parlement Eskom geld skuld. “Die geboue van die parlement, wat die parlementsgebied en dorpe insluit wat parlementslede in Kaapstad huisves, val onder die bestuur van die departement van openbare werke. Dit is dus die openbare werke en nie die parlement nie wat ʼn uitstaande elektrisiteitsrekening by Eskom het,” sê hy.

Die departement van openbare werke skuld Eskom al R3 miljard, volgens ʼn voorlegging van die departement van samewerkende regering aan die parlement se komitee vir openbare rekenings.

“Hoewel die skuld van die parlement miskien soos ʼn druppel aan die emmer lyk in vergelyking met die miljarde wat openbare werke verskuldig is, is dit uiters noodsaaklik dat staatsinstellings hul skuld moet betaal,” sê Van Minnen.

Die DA meen die verskuiwing van skuld sal niks help om die Eskom-krisis te verminder nie. “Staatsinstellings het ʼn morele verpligting om hul rekeninge te betaal. Afdelings soos openbare werke word toegelaat om Eskom te saboteer deur nie hierdie bedrag, wat bykans 10% van Eskom se algehele uitstaande skuld van R44 miljard is, te vereffen nie,” sê Van Minnen.

Die DA glo dat die las op die sukkelende kragnetwerk verminder sou word as staatsinstellings en munisipaliteite bloot dit wat hulle aan Eskom verskuldig is, betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Heinrich ·

Ja Mothapo, jammer dis nie my linkerhand wat die geld skuld maar my regterhand. Moet saamstem met Johan hier bo dat ek ook geen meer hoop het nie.

Michael P ·

R17000.00 Ag asb dit kan enige Minister sommer uit sy beursie betaal.

JohanR ·

Kan nie verstaan nie. Parlement skuld ook geld aan Eskom. Dit is tog maar belastingbetaalers se geld wat julle gebruik om julle salarise en Eskom te betaal, soe wat is die probleem. Het julle nou te veel vir die ander staat instansies gegee, en nou moet Eskom kort trek?

Pampoen ·

Skakel hulle ook die parlement se krag af tydens beurtkrag, of het hulle altyd krag “come hell or highwater”? Baie mense kry verniet elektrisiteit. Ander lande kry goedkoop elektrisiteit van ons af. Sekere VIP’s se krag word nooit onderbreek nie. Net ons ‘suckers’ wat betaal en in die donker sit.

Liza ·

Ek weet tans van ‘n ondermening wat ongeveer R200 000 maandeliks betaal aan elektrisiteit, nou skielik bly die munisipaliteit se hulle is in krediet. Eienaar het gevra dat hulle moet ondersoek instel want dit kan nie wees nie. Hulle hou vol dat sy rekening in kredit is. Sy rekening is blykbaar R800 000 in krediet! Lekker vingerfout iewers! Absoluut belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.