Die voorsittende beamptes van die parlement het die versekering gegee dat daar toepaslike meganismes is om “dekorum en waardigheid” te behou tydens die staatsrede.
Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdagaand sy staatsrede lewer en die EFF het reeds te kenne gegee dat hy die verrigtinge sal ontwrig indien Ramaphosa nie teen daardie tyd vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die trekpas gegee het nie.
Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het gesê die gesamentlike reëls van die parlement beskerm die sittings voldoende teen wanorde.
“Openlike dreigemente om die werk van die parlement te ontwrig, insluitend die verspreiding van samesweringsteorieë, is nie in die belang van die publiek nie. Dit dien slegs as pogings om die parlement se aandag van sy werk af te trek,” het Mothapo gesê, oënskynlik met verwysing na Julius Malema, EFF-leier, se uitlatings.
Malema het beweer daar word geheime vergaderings in die parlement gehou met die doel om ʼn “sameswering” te koördineer waarvolgens polisielede in die parlement “ingesmokkel” sal word as parlementêre veiligheidsbeamptes.
“Die EFF sal nie geïntimideer word nie en ons sal die uitvoerende gesag verantwoordbaar hou.” Malema het verder ʼn waarskuwing aan Ramaphosa gerig: “Hy moet versigtig wees dat die skuld wat hy het aan Gordhan hom nie laat misluk om die mense van Suid-Afrika en die ekonomie eerste te stel nie.”
Volgens Malema sal die EFF ook met Ramaphosa afreken soos wat hulle met die “grondwetlike oortreder en die korrupte Zuma” afgereken het indien hy ʼn postuur van wetteloosheid en kriminaliteit aanneem.
Mothapo het politieke partye of LP’s genooi om die voorsittende beamptes van die parlement te nader indien hulle enige bewyse van ʼn beweerde sameswering het om onwettig die polisie te gebruik tydens die staatsrede.
“Suid-Afrikaners word deur ʼn verskeidenheid sosio-ekonomiese probleme in die gesig gestaar. Die parlement en openbare verteenwoordigers is verplig om ʼn bevorderlike omgewing vir die staatsrede te verseker aangesien die staatsrede ingrypings uiteensit om hierdie ontberings te pak.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
8 Kommentare
Natuurlik gaan die staatsrede ontwrig word.
Ek is slag gereed. Pepsi Popcorn en Peanuts kannie wag nie.
Gelukkig sal die mal onderkorporaal en sy ongedissiplineerde troepe verwyder word voordat hulle weer Kragafrika se naam bollie maak….
Hoe langer die EFF van die ANC verskil, hoe langer word onteiening sonder vergoeding uitgestel.
My hoogte punt elke jaar met Parlements opening.