Parlement stem vandag vir nuwe OB

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane

Die Nasionale Vergadering sal Woensdag stem vir die nuwe openbare beskermer (OB) om by Thuli Madonsela oor te neem.

Die ad hoc-komitee wat op die been gebring is om die OB aan te wys, het in Augustus op adv. Busisiwe Mkhwebane, ʼn voormalige senior bestuurder by die departement van binnelandse sake en tans ʼn ontleder by die staatsveiligheidsagentskap, as finale kandidaat besluit. Die komitee het op Mkhwebane besluit nadat die vyf kortlyskandidate deeglik onder die loep geneem is.

Minstens 60% van die Nasionale Vergadering moet vandag vir Mkhwebane stem voordat pres. Jacob Zuma haar benoeming kan bekragtig.

Al die opposisiepartye wat gedien het op die ad hoc-komitee het die aanbeveling ondersteun buiten die DA. Die DA se beswaar teen Mkhwebane sluit in dat sy tydens haar onderhoud geen redelike verduideliking kon bied waarom sy haar amp by die departement van binnelandse sake verlaat het vir ʼn laer rang in die intelligensiedienste nie.

Glynnis Breytenbach van die DA het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê die party steun nie die benoeming van Mkhwebane as die nuwe OB nie, aangesien sy volgens die party nie die beste kandidaat vir die pos is nie en bo meer bekwame kandidate verkies is. “Ons voer aan dat haar kwalifikasies en ondervinding haar ongeskik maak om hierdie posisie te beklee,” het Breytenbach gesê.

“Adv. Mkhwebane het nie die praktiese ervaring om so ʼn aanstelling te regverdig vergeleke met die ander vier kandidate op die kortlys nie. Ons is ook ingelig dat haar tyd as ʼn ‘immigrasiebeampte’ in China verdag is en slegs ʼn ander manier is om te sê sy is in diens van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA). Dit is nog meer problematies gegewe die huidige klimaat in die land, waar die ʼn algemene siening is dat [Zuma] staatsdepartemente, veral die SVA, misbruik om aan bewind te bly.”

Breytenbach het gesê hoewel Mkhwebane nie die slegste kandidaat vir die pos is nie, is sy ook nie die beste kandidaat nie.

Volg eNCA se direkte beeldsending van die stemproses hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Die ad-hoc komitee en voorsitter was ook nie die slegste nie, maar ook nie die beste nie en hulle is self verantoordelik vir waar hulle nou is, hulle het aangejaag. Hulle die die land versaak deur nie ‘n nuwe Openbare beskermer te kies nie, maar dalk ‘n Zuma beskermer, as mens die DA moet glo.

Karma ·

Ag wat, die DA raas net. Julle mors jul tyd en asems, me. Breytenbach. Met ‘n oorgrote meerderheidsverteenwoordiging in die Parlement, is dit reeds ‘n feit dat Adv. Mkwhebane bevestig sal word. Kyk, Nummawan en sy cronies benodig ‘n party-goedgesinde OB – daarsonder kan hulle nie verder aangaan met steel, steel en nogmaals steel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.