Parlement vat nou ook OB hof toe

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die parlement gaan ook ’n hofaansoek bring om die openbare beskermer (OB) se verslag oor die Reserwebank, Absa en Bankorp tersyde te laat stel.

Dit volg op die Reserwebank en Absa se besluit vroeër die week om die OB hof toe te sleep oor haar aanbevelings rondom die omstrede CIEX-verslag wat wanadministrasie, korrupsie en wanbesteding van openbare fondse tydens die apartheidsjare ondersoek.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie gesê die Suid-Afrikaanse Reserwebank het sy pligte om die publiek te beskerm versuim deur nie ʼn R1,125 miljard skenking, wat die Reserwebank volgens haar onwettig aan Absa in die laat 80’s en vroeë 90’s gemaak het, te verhaal nie.

Sy het ʼn wysiging aan artikel 224 van die Grondwet aanbeveel wat handel oor die Reserwebank se onafhanklikheid en gesê die hoofdoel van dié bank, wat behels die beskerming van die rand as geldeenheid, moet verander word sodat dit die beskerming van die sosio-ekonomiese welvaart van Suid-Afrikaanse landsburgers insluit.

Mkhwebane het in haar verslag ʼn opdrag aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste van die parlement gegee om ʼn “proses te begin wat sal lei tot die wysiging van artikel 224 van die Grondwet”.

“Die OB gee in wese ʼn parlementêre komitee opdrag om ʼn wetgewende proses te begin en skryf aan die komitee voor wat die beleid vir die wetsontwerp sal wees en watter grondwetlike bepalings gebruik moet word vir die wetgewende proses.

“Die parlement is van mening dat die regstellende aksies wat die OB gelas het, wat bindend is ingevolge die wet, die parlement se magte onder die Grondwet verdring. Artikel 57 van die Grondwet bemagtig die parlement om sy interne reëlings, verrigtinge en prosedures te beheer. Die parlement sal dus ʼn hofaansoek instel wat versoek om hierdie regstellende aksies opsy te skuif omdat dit inderwaarheid ongrondwetlik is,” het die parlement in ‘n verklaring gesê.

Opposisiepartye het ook vroeër vandeesweek gesê Mkhwebane kan nie aan LP’s opdrag gee om die magte van die Reserwebak te wysig nie. Ekonome en regskenners het die OB ook gekap vir die aanbeveling en aangevoer sy het heeltemal buite haar magte opgetree in haar aanbeveling om die mandaat van die Reserwebank te wysig.

Die OB het egter gesê die howe sal moet beslis of sy wel haar magte in dié geval oorskry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Alida ·

Dit lyk my die Regters moet hierdie mense telkemale leer om hulle werk te doen. Sy bepaal nie haar aandag by haar werk nie en krap nou waar dit nie jeuk nie. JZ se aanstellings wat almal in die Hof eindig kos die land miljoene. Wat verstaan hulle nie. Stel die regte mense van die begin af aan.

Waghond ·

Dit is duidelik dat die OB nie oor die regskennis beskik het toe sy tot hierdie ge volgtrekkings gekom het nie.

Leendert ·

Alida, jy is 100% reg. Dan blyk dit, volgens berigte in die media, in dié dae, ook het hulle verwys na ‘n Twiet van haar ‘n tyd gelede, dat sy haar bes moontlik deur die anti- Reserwebank aktivis, en voormalige direkteur, Stephen Goodson se boek, “A history of central banking and the enslavement of mankind”, laat lei het. Sy het die koerant en ook in die afgelope paar dae aangeraai om die boek te lees. Kan mens dit oorvertel! Genade.

Ben Prinsloo ·

Hierdie madam dink van haarself soveel sodat ander nie ook iets van haar kan dink nie. Klim af van jou troontjie af madam, jy is nie so groot as wat jy dink nie.

Leendert ·

Sy doen die regsberoep ‘n oneer aan, en dan leef sy nog in ontkenning. As sy verkeerd is, sê sy so ewe, sal die howe daaroor beslis, en daarmee was sy haar hande in onskuld. Die madam, soos Ben hier bo sê.

Anoniem ·

Hoop die hof beslis sy was verkeerd, en sy sit met ‘n enorme groot volstruiseier op haar gesig….

Koos1 ·

Die proses: Hof, appelleer, weer Hof, Hooggeregshof, Appèl hof en dan Konsitusionele hof.
Die tydsduur: Met bietjie geluk… 2 Jaar.
Die kostes: Hang af van hoe veel keer die howe moet sit maar kan tot R2 000 000.00+ beloop.
Die rekening: Die SA belasting betaler!

Adam ·

Baie waar. As daar so baie ure in die Parlement op werk gespandeer word as wat daar in die howe spandeer word, sal die land baie beter daaraan toe wees.

ant ·

Wie ondersoek die OB? Ek dink hierdie blaps vra ‘n dringende ondersoek na haar vermoë om hierdie pos te beklee. En al die plebbe wat moes saamwerk aan die ondersoek en verslag, onder haar. Net al hoe meer bewyse oor JZ se onvermoë en gekaapte status.

Johan. H. ·

Dis hoe hulle werk… Wil vreeslik belangrik lyk. Maar wat mense nie sien nie, Dis hoe Jz te werk gaan, Stel onkundiges aan ,( weet nie waar krap hy hulle uit nie)Maar net nie n witmens nie, En die uiteinde is dit kos die belasting betaler biljoene,,, Dis maar net n manier hoe hy geld was,,,

John ·

Busi lyk geensins bedreig nie, wat beteken dat sy ultra-beskerming geniet van die ‘boat-rockers’. Die golwe en die vonke gaan hoog spat en die ‘vudu’-dansers sal hul beste waansinnige passies uithaal, veral oor die volgende paar maande. Maak self die huis skoon en gooi onnodige rommel weg, kry jou sake in orde en vername papiere in ‘n trommeltjie. Lees die tekens. As die weer opsteek sal elke wakker boer sekerlik dadelik sy skapies in die kraal kry… en vrou en kinders inroep voor die blitse slaan… Dalk trek die weer verby… of dalk nie…

Johann cb ·

Kan iemand my asseblief net help: wié en wát is die OB dat sy sóveel “mag” het om die Parlement/Regering/Kabinet hof toe te sleep? Ek sukkel om die gesagsposisies te verstaan! Die President het sekerlik méér mag…wow!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.