Parlement vergader oor hoër onderwys

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die parlement hervat vandeesweek sy oorsigrol in alle erns met die vergadering van die portefeuljekomitee oor hoër onderwys, opleiding, wetenskap en tegnologie.

Dié komitee vergader Dinsdagoggend. Die portefeuljekomitee oor polisie sou Woensdagoggend vergader maar dié vergadering is pas uitgestel.

Die onderwyskomiteevergadering sal ‘n virtuele vergadering wees wat gedek kan word deur die media. Dit vind plaas kragtens ʼn nuwe reël oor virtuele vergaderings wat verlede week as koronavirus-noodmaatreël uitgevaardig is deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise.

Dinsdagoggend se vergadering sal toegespreek word deur die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, wat ook vrae van parlementslede sal beantwoord.

Volgens die voorsitter van die portefeuljekomitee, Philly Mapulane van die ANC, sal die fokus tweërlei wees, naamlik die uitwerking van Covid-19 op die tersiêre onderwysjaar en die navorsing ter bestryding van die koronavirus.

“Verskeie opsies wat beskikbaar is vir universiteite en verdere onderwys- en opleidingskolleges sal bespreek word, byvoorbeeld afstandonderrig. Studenteverblyf en die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) is ook op die agenda,” het Mapulane gesê.

“Dit is belangrik dat die akademiese jaar voltooi en ons ekonomie voorsien word van goed opgeleide graduandi. Die komitee sal ook ingelig word oor Suid-Afrika se bydrae tot wêreldwye navorsing oor Covid-19,” aldus Mapulane.

Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die polisie staan vierkant in die middel van die afsonderingstydperk.

“Die vergadering het drie hoofdoelwitte, en sal deur die topbestuur van die polisie en die onafhanklike polisie-ondersoekeenheid (Opod) bygewoon word. Eerstens sal die polisie se ervaring van die afsonderingstydperk ter sprake wees. Tweedens sal vergrype deur die polisie bespreek word. Derdens kom ʼn studie oor die invloed van die alkoholverbod op misdaad ter sprake,” het Joemat-Pettersson gesê.

Die parlement het egter omstreeks 15:30 aangekondig dat dié vergadering uitgestel word. Volgens Joematt-Pettersson sal daar nou ‘n gesamentlike vergadering plaasvind met die verkose komitee oor veiligheid en justisie. ‘n Datum vir die vergadering moet nog vasgestel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Burgermeester

Die Parlement hou van vergaderings. Ek is van mening dat die Parlement ‘n nuwe leuse moet kry, “Hoekom vandag iets doen as jy dit kan uitstel tot more”.