Parlement vorder stadig met vervolging van EFF-LP’s

Die EFF buite die parlement nadat hulle die staatsrede ontwrig het. Foto: Maroela Media

Die parlement is besig om teen ’n slakkepas te vorder met die vervolging van EFF-lede wat weens wangedrag uit sittings van die Nasionale Vergadering verwyder is.

Dinsdagoggend het die komitee op regte en voorregte van die parlement na ’n maandelange vertraging begin om die straf van EFF-LP’s wat op twee afsonderlike geleenthede uit die parlement verwyder is, te hanteer.

Ter sprake is die verwydering van EFF-lede uit onderskeidelik die staatsrede en uit die begrotingsdebat oor openbare ondernemings, toe EFF-LP’s probeer het om te verhoed dat die minister, Pravin Gordhan, sy begrotingsrede lewer.

Die twee gevalle is op verskillende vlakke van vordering wat die hantering van vervolging betref, en dit is duidelik dat die EFF, wat Mbuyiseni Ndlozi in die komitee ontplooi het, elke vertragingstaktiek, skuiwergat en wetlike truuk in en buite die boek gaan gebruik om sy lede aan dissiplinêre gevolge te laat ontkom.

Ndlozi is besig om ’n veelvoud aanvalshoeke te gebruik, waarvan die belangrikste tans is dat LP’s, wanneer hulle uit parlementêre verrigtinge verwyder word, as individue en by name verwyder moet word; nie as kollektiewe lede van ’n politieke party nie.

Tweedens voer hy aan dat LP’s slegs op daardie basis (individueel en spesifiek) voor die komitee kan verskyn vir ʼn dissiplinêre verhoor.

Hierdie punte van Ndlozi word tans in ’n groot mate deur ander politieke partye aanvaar. Omdat die EFF-LP’s wat verantwoordelik was vir die ontwrigting van Gordhan se begrotingstoespraak maklik identifiseerbaar is, is ’n aanklaer vir daardie kwessie reeds aangestel.

Die komitee kon nog nie al die EFF-LP’s wat verantwoordelik was vir die ontwrigting van die staatsrede identifiseer nie; geen aanklaer is dus al in hulle geval geïdentifiseer nie.

Een van Ndlozi se pogings wat wel Dinsdag in die stof gebyt het, was om die hele vervolging betreffende die ontwrigting van die staatsrede te laat uitgooi.

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP, se aandrang dat die substantiewe besluite oor die kwessie moet oorstaan, is ondersteun deur die adjunk-hoofsweep van die ANC, Doris Dlakude, wat beteken EFF-LP’s soos Julius Malema en Floyd Shivambu is steeds in die pekel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

In Engels se mens “you don’t need to be a rocket scientist to investigate something, and make a decision whether someone is guilty or not, and then decide on an suitable punishment.” Dit behoort nie ietsie te wees wat langer as twee weke vat nie. Seker weer die 30 percenters wat “investigate!”

Androclus ·

Hulle gedagtes is nie by die ondersoek nie’hulle dink net aan waar kan hulle weer iets onder die tafel deur kry.

Marius ·

Het die anc al ooit gevorder met enigeiets behalwe stewige bank rekeninge ? Die verskonings wat gegee word kan n voorskoolse leerder ook uitgedink het . Dink die anc almal is stupit ???

Nie Verbaas ·

Niks sal met hulle gebeur nie. ANC nie in staat om enige taak suksesvol te voltooi nie. Kyk net na ons land, die bewyse is daar.

DLR ·

Nee mense gee hulle kans asseblieg. Hulle moet eers ‘n raad aanstel om die ondersoek te doen en dan nog ‘n raad wat kyk dat raad no 1 hulle werk doen Raad no3 sal verslag gee oor die terugvoer wat raad 2 hulle oor raad 1 gee. Die arme bloeitjies werk so hard en kry hulle seker maar net ‘n paar miljoen vir die ondersoek. Onthou om in ‘n raad te dien is bloed sweet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.