Parlement vra hof om EFF-aansoek te verwerp

Julius Malema (Foto: EFF/Twitter)

Die parlement se komitee oor magte en voorregte vra die hooggeregshof om die EFF se aansoek om ingryping by die straf wat ses van sy LP’s opgelê is nadat hulle vroeër vanjaar die verhoog tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede bestorm het, van die hand te wys.

Die EFF-LP’s, onder wie partyleier Julius Malema, is in November skuldig bevind aan minagting van die parlement en het dringende regstappe gedoen om hul straf hiervoor om te keer.

Malema, Floyd Shivambu, Mbuyiseni Ndlozi, Marshall Dlamini, Sinawo Tambo en Vuyani Pambo sal as deel van hul straf van 1 Februarie tot 29 Februarie sonder vergoeding geskors én verbied word om volgende jaar se staatsrede by te woon.

Die parlement het Woensdag ʼn beëdigde verklaring by die hooggeregshof ingedien waarin hy die aansoek teenstaan.

Faith Ndenze, woordvoerder van die magte-en-voorregte-komitee, sê die parlement het namens die komitee opgetree en verwarring oor die uitspraak teen die betrokke lede uitgeklaar.

“Die parlement het dit duidelik gestel dat die EFF as politieke party nie skuldig aan minagting van die parlement is nie, maar dat ses van sy lede in hul hoedanigheid as parlementslede skuldig bevind is,” sê sy.

“Die beëdigde verklaring maak die belangrikheid van hierdie onderskeid duidelik, aangesien parlementslede ʼn eed aflê wanneer hulle beëdig word, en dat die eed hul verbintenis tot hul party troef.”

News24 berig dat die EFF in ʼn afsonderlike aansoek aangevoer het dat die hooggeregshof die Nasionale Vergadering se reëls en die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteit ongrondwetlik moet verklaar “omdat dit nie voldoende riglyne en voorsorgmaatreëls verskaf wat nodig is om die parlement se proses vir die dissiplinering van parlementslede beskerm nie”.

Volgens Malema is die parlement se dissiplinêre prosesse “besoedel deur die ANC se meerderheidsposisie in die Nasionale Vergadering”, en misluk dit om “die geleenthede vir die regerende party voldoende te beperk om sy meerderheid te misbruik en sy politieke opposisie te straf ongeag die gebrek aan meriete”.

Die magte-en-voorregte-komitee het gesê hy het reeds sy verrigtinge oor die saak teen die LP’s afgehandel en sal vervolgens ʼn verslag by die Nasionale Vergadering ter tafel lê vir oorweging.

Die parlement het intussen die hooggeregshof versoek om die EFF-LP’s se aansoeke van die hand te wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

EFF moet die gevolge van hulle onbehoorlike gedrag dra! DIT gebeur TE VEEL deesdae en tyd dat hulle vasgevat word

domheks ·

“n Maand se ‘pay’ byt nogal waar dit saak maak. Wat van volgende keer ‘ jaar se pay?

Delia ·

Kom nou Justisie, kom na die tafel om hierdie manne te wys hulle is nie onaantasbaar

Johann ·

Kyk vir kwaai babatjie op die foto. Sy sakgeld van sy “borge” sal bloot aangepas word.

Jakes ·

Malema se straf moet terug getrek word maar dan moet hy dadelik tronk toe. Hy sal grand lyk in oranjeklere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.