Parlement vra uitstel vir wysiging van Kieswet

(Foto: Reint Dykema)

Die parlement het dokumente by die Konstitusionele Hof ingedien waarin hy vra vir ʼn ses maande lange verlenging vir die afhandeling van die Kieswet.

Wysigings aan die wetgewing word beoog sodat burgers toegelaat word om hulself verkiesbaar te stel vir die parlement en nasionale wetgewers.

In Junie 2020 het die land se hoogste hof bevind die vereiste dat volwasse burgers net tot die nasionale vergadering en provinsiale wetgewers verkies kan word deur hul lidmaatskap van politieke partye, ongrondwetlik is.

Die hof het die ongeldigheid destyds vir 24 maande – tot 10 Junie vanjaar – opgeskort. Die vergunning is gemaak sodat die parlement die nodige wysigings aan die Kieswet kon aanbring om die ongrondwetlikheid reg te stel.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, sê gegewe die noemenswaardigheid van die wetsontwerp en die vereiste openbaredeelnameproses, het dit duidelik geword die parlement sou nie die Junie-spertyd haal nie.

Die wetsontwerp is eers in Januarie vanjaar by die parlement ingedien, wat die parlement net vyf maande gegee het om wetgewing van sulke geweldige openbare belang deur te voer.

Die parlement se voorsittende beamptes het die Konstitusionele Hof nou genader vir ʼn verlenging sodat behoorlike beraadslaging kan plaasvind en om te verseker dat mense hul insette daaroor kan lewer.

“Die wetsontwerp wysig die kiesstelsel en behels ingewikkelde kwessies wat ʼn uitwerking op alle volwasse burgers gaan hê. Verskeie ander wette, benewens die Kieswet, sal moontlik ook gewysig moet word,” sê Mothapo.

Die parlement het kort ná die uitspraak reeds verskeie prosesse van stapel gestuur om die wetgewing te wysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

4ntj13 ·

Hulle probeer keer dat hulle deur gewone mense op straat vervang word, buite Rusland se invloedsfeer…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.