Parlement wil ou interdik gebruik om betogings stop te sit

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die parlement het hom beroep op ʼn hofinterdik wat reeds in 2010 uitgereik is, om stakende personeel te verhoed om die werk van die Nasionale Vergadering verder te ontwrig.

Gengezi Mgidlana, sekretaris van die parlement, het Dinsdagaand gesê die interdik wat werkers verbied om op die parlementêre perseel te betoog, is vyf jaar later steeds in werking.

“Ons werk tans onverpoosd in die instansie en saam met die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste en polisie om die situasie te bestuur en seker te maak stappe word gedoen binne die perke van die wet, die perke van die ooreenkomste wat ons het en die perke van die hofinterdik,” het Mgidlana gesê.

Dinsdag was die tweede dag van stakings deur honderde lede van Nehawu oor arbeidskwessies. Die personeel het buite die Nasionale Raad van Provinsies en die Nasionale Vergadering betoog terwyl ʼn parlementsitting aan die gang was. Mgidlana het gesê hoewel onderhandelinge met die vakbond voortgaan, sal die parlement nie toelaat dat sy werk ontwrig word nie.

“Jy kan nie mense verhoed om hul werk te doen nie. Jy kan nie die werk van die parlement keer nie. Hierdie kwessies is regtig ononderhandelbaar,” het hy gesê. Die 11:00-sitting van die Nasionale Vergadering is Dinsdag gekanselleer weens die betogings, sowel as vier sittings van portefeuljekomitees.

Die werkers eis beter salarisse en pensioenvoordele, ʼn einde aan die uitkontraktering van dienste by die wetgewer en dat die parlement die omstrede proses stopsit waardeur alle personeel om veiligheidsredes weer gekeur moet word.

Sthembiso Tembe, voorsitter van Nehawu se parlementêre tak, het gesê Stone Sizani, die ANC se hoofsweep, het gevra om met hulle te vergader om ʼn ooreenkoms te bereik. “Ons sal voortgaan totdat aan ons eise voldoen word,” het Tembe gesê.

Tydens ʼn vergadering van die hoofsweepforum later in die dag is egter besluit dat politieke partye nie kan ingryp in ʼn dispuut tussen die parlement en sy ondersteuningpersoneel nie. John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het die parlementêre bestuur daarvan beskuldig dat hulle die vakbond toelaat om die instansie gyselaar te hou.

Intussen kon gesien word hoe die polisie beskermende oproertoerusting aantrek terwyl die Nehawu-lede, geklee in rooi T-hemde, buite die parlementêre binnehof gesing en gedans het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

irene ·

Ja vir 21 jaar het hulle vir hul die Groen
Lig gegee en nou kom alles tot a val boontjie kry sy loontjie hahaha

Drieks ·

Jip dit hul beurt, hul hou ons gyselaar elk dag waar ook al ons gaan….

GES ·

Ek verstaan nie hoekom die anc so kwaai word as Nehawu by die parlement kom serenade nie. Dit is tog immers die anc wat hulle so mooi geleer het. Ek wil nie graag weet wat die 1ste wêreld van ons piesang-republiek dink nie.

nico ·

Dis reg bring die ou wette terug dit het gewerk die doodstraf ook want die krimenele gebruik dit nou op die polisie en publiek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.