Parlement wys slagtande vir SA Express

(Argieffoto: Facebook)

Die parlement se waghondkomitee, Skoor (die staande komitee oor openbare rekeninge), staan op die punt om hul slagtande te slaan in die voorlopige likwidateurs van die lugdiens SA Express.

Die voorlopige likwidateurs van SA Express, wat veral kleiner bestemmings in Suid-Afrika bedien, is gevra om hierdie week voor Skoor te verskyn om te verduidelik wat aan die gang is met die voorlopige likwidasieproses, wat reeds sedert April duur.

Toe Skoor egter Dinsdagoggend byeenkom, was daar van die likwidateurs geen teken nie. Hulle het nie eens verskoning aangeteken vir hul afwesigheid nie.

Parlementslede wat op Skoor dien, was die duiwel in vir die afwesige likwidateurs. Skoor se voorsitter, Mkhuleko Hlengwa van die IVP, het reguit gesê die likwidateurs minag sowel die parlement as die demokrasie, en dat hulle die belastingbetaler melk terwyl hulle aanspreeklikheid ontduik.

Die EFF-LP Veronica Mente het uitgewys dat die likwidateurs alreeds die bepalings van die Maatskappyewet oortree weens die tydperk wat hulle al met die voorlopige likwidasie sloer.

Hlengwa het uitgewys dat ‘n versoek om voor die parlement te verskyn nie geweier kan word nie. Dit is ‘n opdrag.

Skoor het dus eenparig besluit om die likwidateurs te dagvaar om volgende week voor die komitee te verskyn. As hulle nie opdaag nie, sal ‘n lasbrief vir hul inhegtenisname uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Slagtande ? Eerder valstande .

Sarel

” Parlementere Waghond” Indien hierdie ouens hulle werk gedoen het en tande gehad het, dink ek dit sou dalk berer gelyk het. Niemand skrik vir hulle nie want hulle kan nie sla uitdeel.nie