Parlement wysig wet oor gay-huwelike

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die parlement het vandag sy seël van goedkeuring geplaas op die Wysigingswetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse.

Die wetsontwerp verplig huweliksbevestigers wat in diens van die staat staan om paartjies van dieselfde geslag wat in die huwelik wil tree, in die huwelik te bevestig.

Die wetsontwerp, wat net ʼn paar paragrawe lank is, is deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar met die teenstem van die VF Plus en die EFF. Die EFF se teenstem het baie mense verras omdat die party ten gunste van die wetsontwerp gestem het toe dit deur die Nasionale Vergadering aanvaar is.

Die EFF se woordvoerder, Vuyani Pambo, kon by navraag nie verduidelik hoe dit gebeur het nie.

Die Wet op Burgerlike Verbintenisse het voorheen staatsamptenare wat om morele, persoonlike of geloofsredes onwillig was om paartjies van dieselfde geslag wettig getroud te verklaar, toegelaat om te weier om dit te doen.

Die wet verander nou. Sodra pres. Cyril Ramaphosa dit onderteken het, sal staatsamptenare nie meer kan weier om burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te bevestig nie.

Die nuwe verpligting plaas geen verpligting op enigiemand wat nie vir die staat werk nie – byvoorbeeld predikante – oor die bevestiging van verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie.

Die besluit daaroor berus, soos vroeër, by die geestelike leier en sy/haar geloofsgemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.