Parlementêre bateregister ’n goudmyn vir ondersoekende joernaliste

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Die jaarlikse bateregister van parlementslede, waarin hulle al hul bates, van geskenke en eiendom tot direkteurskappe en aandeelhouding korrek moet verklaar as hulle nie vervolg wil word nie, is Woensdag deur die parlement bekend gemaak.

Die boek van 454 bladsye is ’n goudmyn vir ondersoekende joernaliste, vir wat dit onthul sowel as wat dit verdoesel, en vanjaar s’n bied weer verskeie hoogtepunte en laagtepunte.

Die minister van vrouesake, Bathabile Dlamini, het merkwaardig min bates as ʼn mens haar inskrywings kan glo. Sy verklaar slegs lidmaatskap van twee pensioenfondse en eienaarskap van twee huise in Pietermaritzburg; van enige voordeel uit die maatskappye wat sy so bevoordeel het in die Sassa-sage is daar geen teken nie.

Die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick van die ANC, verklaar konsertkaartjies van R8 000 wat hy vir die Kaapstad-jazzfees ontvang het, maar gee geen inhoud aan enige bewerings van ’n hegte verwantskap tussen hom en die maatskappy Bosasa nie.

Oudminister Malusi Gigaba lys 22 geskenke – maar nie een van die Gupta-familie nie. Hy verklaar wel ’n opgradering van ’n vliegtuigkaartjie waarvoor die miljardêr Patrice Motsepe betaal het, en ’n huis in die Blue Valley-gholflandgoed in Midrand.

Die UDM-leier, Bantu Holomisa, bly maar ’n sportliefhebber. Benewens eiendom in Mthatha en Mqanduli het hy gholftoerusting van R9 000 van SuperSport ontvang en kaartjies van R7 000 na die Durban July-perdewedren van Vodacom.

Adjunkpres. David Mabuza (Februarie 2019) (Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency/ANA)

Adjunkpresident David Mabuza onthul aandeelhouding in ses maatskappye wat beslis deur ondersoekende joernaliste onder die loep geneem gaan word: Nelesco, Beatum, Middle Ground en Lindnetsi. Hy besit ook ’n plaas by Barberton en ’n woonstel in Nelspruit.

Oudminister David Mahlobo, wie se termyne as minister van staatsveiligheid en van energie nie onbesproke is nie, verklaar niks behalwe twee eiendomme (een in Nelspruit en een in Pretoria) nie.

Die enigste opvallende verklaring in die bateregister van die DA-leier, Mmusi Maimane, is dat hy R3 500 van die Liberty Kerk in Johannesburg ontvang het.

Dieselfde kan nie van die ANC-LP Fikile Majola, ’n oudvakbondbaas en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor energie, gesê word nie. Hy het as “skenking” ’n BMW X5 van die vakbond Nehawu ontvang. Dit is R864 000 werd.

Die EFF-leier Julius Malema voer aan hy besit geen eiendom nie. Hy verklaar ook geen skenkings van tabakmagnate nie. Al geskenke wat hy verklaar, is ’n selfoon van Telkom ter waarde van R11 000, wyn, sokkerkaartjies en twee boeke. Hy het ook belange in vier trusts: die Ratanang-familietrust, die Kopano-welsynstrust, die Mazimbu-beleggingstrust en die Munshedzi-familietrust – dis al.

’n Redelik verstommende skenking aan adjunkminister Buti Manamela is R25 000 se sanitêre doekies.

Minister Gwede Mantashe, wie se hegte verhouding met die maatskappy Bosasa die wenkbroue laat lig, maak geen verwysing na die maatskappy in sy bateregister nie. Hy teken wel aan dat hy R2 000 per maand van die Stanlib Trust ontvang en R100 000 op belegging by Nedbank het.

Mantashe verklaar ’n belang in vyf maatskappye, te wete Salvaga, Siphamba, Umthombe, Auhataka en Muophiya. Hy het ook ’n plaas naby Elliot, ’n huis in Cala en ’n huis in Boksburg.

Baleka Mbete

Speaker Baleka Mbete. Foto: AP Photo/Denis Farrell

Die omstrede ANC-LP Kebby Maphatsoe het niks oor die Guptas te sê nie, maar verklaar wel belange in vier maatskappye, te wete Kebrahamx, Winter Robin, Zanticune en Faie Vitae.

Heelwat vrae sal gevra word oor die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, se besoek aan Mauritius, wat betaal is deur ene dr. Sallesh Lachi – na wat vasgestel kon word ’n Londense sakeman.

Volgens die bateverklaring van die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, besit sy steeds die plaas naby Potchefstroom wat ’n paar jaar gelede die nuus gehaal het weens dieremishandeling.

In minister Nomvula Mokonyane se bateverklaring is geen verwysing na enige geskenke van Bosasa nie. Al geskenke wat sy lys, is ’n kombers van die Lesotho Hoogland-waterprojek, ’n portret, ’n tapisserie, ’n teepot en ’n ornament. Sy het ook ’n eiendom in Krugersdorp.

Asof sy parlementêre inkomste nie genoeg is nie, ontvang die ANC-LP dr. Mathole Motshekga ook nog R34 000 per maand as raadgewer van die reënkoningin Modjadji.

Een van twee mooi gebare is aangeteken deur die ANC-hoofsweep, Jackson Mthembu, wat as meelewing vir ’n familietragedie ’n ruiker ontvang het van die DA-leier, Mmusi Maimane. Die ander mooi gebaar is aangeteken deur die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, wat ’n Kubaanse sigaar van pres. Cyril Ramaphosa ontvang het nadat Ramaphosa ’n weddenskap teen Steenhuisen verloor het.

Faith Muthambi. Foto: GCIS

Die omstrede oudminister Faith Muthambi verklaar benewens sokkerkaartjies en konsertkaartjies ook ’n belang in die Faith Muthambi-trust wat sekerlik ondersoeke sal baar.

Min mense sal die onopvallende ANC-LP Madala Ntombela dit kan nadoen. Hy het benewens sy parlementêre salaris ook R2,5 miljoen se kontrakwerk die afgelope jaar gedoen – nugter weet wat dit behels het.

Die EFF-LP Nazier Paulsen kan aan die pen ry as sy party se grondbeleid ooit uitgevoer word, want hy besit ’n stuk onontwikkelde grond in Gordonsbaai.

’n Vreemde inskrywing in die bateregister van die DA-LP Ken Robertson lui dat hy R12 000 in kontant van vier verskillende mense ontvang het as “persoonlike finansiële bystand”.

Die EFF-hoofsweep, mnr. Floyd Shivambu, verklaar niks wat van VBS Bank af kom nie. Al wat hy verklaar, is sokkerkaartjies en Kubaanse sigare.

Een van die ANC-LP’s wat in die middel van die Bosasa-bewerings staan, is Vincent Smith, maar hy sprak g’n sprook oor die maatskappy nie. Smith verklaar wel aandele in Vodacom, NAIL en Sanlam, asook drie huise in Johannesburg en Centurion, asook direkteurskappe in agt maatskappye: Nambiti, Leshema, Decamach, Centfin, Ilima Lesizwe, Umyezo, Euroblitz en ’n familietrust.

Die LP wat die hoogste inkomste lys as sprekersgeld is die ACDP se Steve Swart, wat R36 000 benewens sy parlementêre salaris ontvang het.

En die LP wat die grootste kat in die sak gekoop het op die aandelemark? Sekerlik die VF Plus se Wouter Wessels. Hy het nie minder nie as 3 617 aandele in Steinhoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Melt Olckers ·

Die meeste word seker deur ‘n Panama prokureursfirma verbloem.

Gestonk ·

Die grootste belastingontduikers kry die meeste geld by die arme belastingbetalers!

Koekie ·

Hou op om julleself te flous daar kom NIKS van nie . niemand kry ‘n boete nie, niemand word strafregtelik aangekla nie, niemand verloor sy werk nie want ALMAL kry geskenke .. selfs ons eie president en sy seun het lekker bakhand by BOSASA gestaan, dis hoekom die saak so sloer . en net Agrizzi aangehou word, die ander is skotvry .neewat .. hierdie klomp looters gaan jy nie vasvat nie want ALMAL Se hand is in die KOEKIEBLIK.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.