Parlementêre inspeksie kom vir Noordwes

Noordwes

Die parlement se ad hoc-komitee oor die ingryping van die sentrale regering in die provinsiale regering van Noordwes gaan die provinsie self in September besoek om te sien wat daar aangaan.

Dit volg op erg strydige verslae deur die provinsiale regering aan die een kant, en die ondersoekers van sowel die nasionale tesourie as die ouditeur-generaal aan die ander kant, oor die stand van sake in Noordwes.

Die vreemdste aspek wat uitstaan is die verskil in mening tussen die voorleggings deur Noordwes se staatsdepartemente, wat meen hulle vaar eintlik heel skaflik, en bykans meedoënloos net op elke greintjie potensieel positiewe inligting fokus, en die ander twee entiteite, wat meen die provinsiale staatsdiens vaar rampspoedig.

In die praktyk beteken dit óf dat iemand jok, óf dat die hele persepsie van wat aanvaarbare vlakke van dienslewering is, heeltemal verskil – dat Noordwes moeilik gaan verbeter omdat hulle meen die lae vlak van dienslewering wat hulle verskaf is eintlik heeltemal aanvaarbaar. Dit sluit dus alle kanse op selfverbetering uit, want hulle verstaan nie in die eerste plek wat dan nou eintlik die probleem is nie.

Dit is ook waarom die komiteevoorsitter en ANC-LP, Charel de Beer, tot die slotsom gekom het dat ‘n ondersoek ter plaatse die enigste manier is om agter die kap van die byl te kom, veral omdat die regering van Noordwes verseg om spesifiek op die spesifieke kwessies wat deur die ander rolspelers opgehaal word, te reageer.

Die probleemstellings wat aan die hand gedoen word, is ook uiteenlopend. ‘n Voorbeeld is die provinsiale departement van gesondheid. Noordwes se regering meen dis heeltemal moontlik om ‘n puik provinsiale gesondheidsdepartement daar te stel as die sentrale regering net vir hulle meer geld gee.

Die nasionale regering weet Noordwes kry ewe veel geld per lid van die bevolking as enige ander provinsie, en wys dus eerder op die bydrae van onregmatige, ongeoorloofde, vrugtelose en verkwistende uitgawes (altesame R881 miljoen vir ‘n relatief klein provinsiale gesondheidsdepartement) wat tot die swak dienslewering gelewer het.

‘n Verdere voorbeeld: Die provinsiale tesourie van Noordwes meen hulle vaar heeltemal redelik met kontantbestuur in die provinsie. Die sentrale regering wys egter uit dat die departement R384 miljoen ongemagtig bestee het; R1,1 miljard uitstaande rekeninge aan leweransiers en diensverskaffers het; en opgeboude onregmatige besteding van R15,3 miljard (enorm vir so ‘n relatief klein provinsie) op hul boeke het.

Die nasionale tesourie se bestekopname bevat soveel rooi penmerke dat dit eintlik soos Bloedrivier lyk. Elke departement lyk verskriklik, maar kom ons bepaal ons vir die doel van die argument net by die departement van die premier.

Ses hoofpunte van kritiek word uitgespreek:
* Die departement verskaf geen effektiewe oorsig en leierskap aan staatsdepartemente oor dienslewering nie;
* Swak prestasie wat betref gesentraliseerde en transversale regeerfunksies;
* Geld word bestee op sommige projekte sonder dat daar eers ‘n begroting daarvoor is;
* Intimidasie van amptenare wat ‘n oorsigrol wil uitoefen;
* Politici en staatsamptenare word nie verantwoordbaar gehou vir foute of onwettige optrede nie; en
* Geld wat vir maatskaplike projekte begroot is, word op ander lopende kostes verkwis.

In die algemeen wys die nasionale tesourie daarop dat die stand van ouditresultate in die provinsie voortdurend agteruitgaan. Prestasie-aannames is so ver van die werklikheid verwyder dat die nasionale tesourie dit letterlik as “onbruikbaar” beskryf, hoewel die oudits self bruikbaar bly. Dit verswak egter deurgaans, en min vordering word gemaak met ondersoeke na of strafmaatreëls teen oortredings.

Die ouditeur-generaal meen die hoofredes vir die swak oudituitkomste van die provinsie is dat die provinsiale leierskap nie met erns gereageer het om dinge te laat verbeter nie, en dat daar trouens beperkte politieke wil is om dit te laat gebeur.

Belangrike poste word nie met kundige mense gevul nie  en daar is nie behoorlike beheer oor besteding nie. Bowenal word geen voorbeeld van toerekenbare leierskap deur die provinsie se leiers verskaf nie.

Die provinsiale tesourie voer aan die provinsiale ouditeurs gee ‘n betroubare weergawe van die provinsiale finansiele welsyn, maar meer as ‘n honderd veranderings moes aan provinsiale oudits aangebring word om dit in lyn met die werklikheid te bring.

Die ouditeur-generaal het voorts bevind miljoene rand se tenders is toegeken vir dienste wat nooit gelewer is nie en swak vakmanskap beteken dat baie projekte oorgedoen moet word, byvoorbeeld die verbetering van die pad tussen Schweizer-Reneke en Wolmaransstad.

Die laaste bevindings is waarskynlik die ergste: dat intimidasie van ouditeurs, en selfs dreigemente om met hulle af te reken, plaasvind en geuiter word as hulle staatsamptenare aanspreeklik probeer hou, en dat daar byna nooit iemand aangekla of vervolg word waar wangedrag bewys word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johanna Botha ·

Gaan net na Rtbg se munisipale kantore en jy het jou antw !

Anni ·

Hulle gaan net hulle koppe vasgryp en weghardloop. By Rtb Munisipaliteit is geen salf meer te smeer nie, dis absolute chaotiese onkundigheid daar.

Nie dat hier iets van sal kom nie. Watn ondersoek span na ondersoek span, komitee na komitee word aangestel, en NIKS spruit daaruit voort nie. Die agteruitgang en verval gaan ongestoord sy gang.

Pietman ·

Wonder of hierdie ondersoek in elk geval op enige iets gaan uitloop. Parlementêre komitees ook nie juis watwonders nie. Daar word getuig voor die komitees en alles word volgens protokol moooi netjies gedoen. En daar stop dit. Punt. Geen verdere optrede nie. Watter aanbevelings van die komitees het al tot korrektiewe stappe gelei? Die ouditeur-generaal se jaarlikse verslae lees soos ‘n riller -net dit moes al aanleiding gegee het tot stappe deur die komitees – wat net raaksien wat hulle wil raaksien as dit hulle die dag pas om iets raak te sien.

Rustenburg ·

Rustenburg menusiepaleteit alles is verkeerd daar . HELP ASSEBLIEF

Pieter ·

Rustenburg menusiepaleteit die mense wil ophou betaal dit gaan gahoties daar .

Koos ·

Al wat Noordwes kan regruk is ‘n kernbom. Maak plat en begin oor.

Anni ·

Ek stem heelhartig saam met jou Koos, hulle moet begin hier in Rustenburg, die munisipale geboue hier platskiet, alles wegry en van “scratch” af begin. Dis AL pad vorentoe wat ek hier sien. Die mens wat hierdie plek se verknoopte en verkoekte administrasie sal moet ontknoop, moet nog gebore word.

Daantjie in die kallerhok ·

Dis mos nie iets nuuts nie en presies wat mens verwag van die verslag. Nuks sal van die besoek/ondersoek kom nie. Sirkus

Hendrik ·

Dit is tyd dat Afrikaner hervestig na ‘n nuwe sentrale area bv. Naby Potch en ‘n nuwe Afrikaner ontwikkelings gebied soos voorgestel deur Solidariteitsbeweging. Sorg dat julle water het en miskien kan die VF+ leiding gee want dit is wat hulle voorstaan. VF+ moenie dat sulke geleenthede verby julle gaan nie! Werk saam burgeregtegroepe soos Afriforum om nuwe gebied te vestig. Gebruik byvoorbeeld ‘n plek soos Stilfontein (dink ek wat aan die kwyn is om ‘n begin te maak) Dit is lekker tussen Klerksdorp en Potchefstroom. 30km werk toe is niks en ek ry elke dag 65Km net werk toe en bly in my ‘n selfstandige dorp. Julle sal verbaas wees hoeveel mense koop in. Komaan maak ‘n begin!

Evelyn ·

Ek hoop hulle kan die chaos met krag rekeninge by Rustenburg Munsipaliteit ook uitsorteer en bekwame mense aanstel wat weet hoe die sisteem werk…..dis belaglik om te sien watse rekeninge ons elke maand kry en wanneer jy navraag doen dan word dit vir jou gesê “ons het oorgeskakel na ‘n nuwe sisteem toe en dis nie net jy wie se rekening so verkeerd is nie”…..!!! En dan gebeur daar verder niks, en dan volgende kry jy SMS dat hulle jou krag gaan afsit!? Rerig??

Ruiklont ·

Voordat daar wet en orde gehandhaaf word sal mense maak soos hul wil, verryk hulself met ongeruimdhede. Oortreders moet tot orde geroep word, gevonnis en tyd in die tronk spandeer. Die mense weet dat kaderbeskerming plaasvind en maak dus net wat hul wil. Voordat daar nie leiers is wat regtig vir die land as ‘n geheel omgee en nie net “party politiek” bedryf nie sal die land word soos die res van Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.