Parlementêre jaar: 2020 dalk vreemdste ooit

Die parlement in Kaapstad. (Foto: ANA)

Die jaar 2020 was op talle vlakke ʼn vreemde jaar en wat die Suid-Afrikaanse parlement betref was dit moontlik die vreemdste jaar sedert die parlementêre regeringsvorm in die land beslag gekry het in die Kaapkolonie (1853), die Vrystaatse Republiek (1854) en die ZAR (1857).

Die rede vir die vreemdheid van die parlementêre jaar van 2020 was die uitwerking van die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Deelnemende demokrasie

Die kernaspek waaraan die Suid-Afrikaanse parlement luidens die Grondwet, wetgewing en regulasies gemeet word, is deelnemende demokrasie – wat soms ook ʼn volksparlement (people’s parliament) genoem word.

As sodanig het die inperkingsregulasies se beletsel op reis en groot openbare byeenkomste geweldige groot uitdagings gestel aan of die parlement se optrede hoegenaamd wettig of bindend sou wees sonder byvoorbeeld algemene en vrye toegang vir die publiek.

Indien bevind sou word dat die parlement in gebreke gebly het om redelikerwys alles wat nodig is te doen om openbare deelname te verseker, kan die tersaaklike optrede van die parlement ongeldig wees.

Dit sluit in die soort landwye openbare insette wat aangehoor is deur die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging van artikel25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik.

Die beperking op die aantal mense wat byeenkomste mag bywoon, het die ad hoc-komitee se werk maande lank vertraag en die sperdatum vir die afhandeling van daardie voorgestelde grondwetlike wysiging is nou uitgeskuif tot 31 Maart.

Wat sittings van die parlement self betref, moes massiewe aanpassings aan die parlementêre ordereëls gemaak word. Vergaderings van portefeuljekomitees het virtueel plaasgevind en sittings van sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad van Provinsies het hibridies plaasgevind met sommige LP’s in die vergadersale in Kaapstad, en ander wat virtueel deelgeneem het.

ʼn Groot voordeel was dat die altyd lewendige – maar dikwels wanordelike – parlement baie ordeliker verloop het omdat diegene wat die orde ontwrig het se deelname gesnuit is deur hulle uit die virtuele vergadering te verwyder.

Die nadele was egter meer. ʼn Parlement is in wese ten beste ʼn geval van gee en neem op die markplein van idees, tussen mense wie se idees van mekaar verskil.

Vir die parlement om behoorlik te funksioneer is persoonlike kontak tussen diegene wie se idees verskil, noodsaaklik. Die menslike aspek van bande wat gebou en vertroue wat geskep word, is wat ʼn funksionerende parlement onderskei van ʼn bot meerderheid-eggo en van ʼn silo-situasie waar verskillende partye se lede mekaar se eerbaarheid kan begin wantrou.

Die vraag is dus nou wanneer die parlement weer voluit in Kaapstad sal begin funksioneer. Geen amptelike inligting is hieroor beskikbaar nie. Na wat informeel verstaan word, word die terugkeer na normaliteit vertraag deur die relatief hoë gemiddelde ouderdom van die ANC-koukus en die groot aantal onderliggende siektes in daardie koukus. Albei aspekte sou die tersaaklike LP’s meer vatbaar maak vir Covid-19.

Twee begrotings

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer sy begrotingsrede in die parlement vroeër vanjaar. (Foto: GCIS)

ʼn Verdere aspek wat 2020 uiters ongewoon gemaak het, is dat dit die eerste keer ooit in die Suid-Afrikaanse parlementêre geskiedenis is dat twee begrotings in ʼn kalenderjaar ingedien is sonder dat daar ʼn regeringsverandering was. Die enigste ander kere wat dit gebeur het, was in 1924, 1948 en 1994 – enige nuwe regering kan ʼn nuwe begroting daarstel (die regeringsverandering in 1939 was te laat in die jaar vir ʼn begrotingsverandering).

Vanjaar se tweede begroting was egter om ʼn baie veel ernstiger rede: Die ekonomiese uitwerking van die landwye staat van algehele afsondering en die afgradering van Suid-Afrika na soewereine rommelstatus was só rampspoedig dat die aanvanklike begroting nie meer realisties was nie.

Wat die begroting toon is dat Suid-Afrika in die grootste ekonomiese moeilikheid is sedert demokratisering in 1994. En hoewel daar in die tesourie, in die presidensie, by Tito Mboweni as minister van finansies en les bes by die opposisie absolute duidelikheid is oor wat gedoen moet word om die fiskale afgrond te vermy wat oor vier jaar vir die land wag as verandering nie kom nie, is daar werklik geen waarneembare teken van begrip in die ANC se parlementêre koukus vir die erns van die situasie en die moeilike, ongewilde, pynlike en noodsaaklike stappe wat geneem moet word om die afgrond te vermy nie.

Telkens wanneer die tesourie, die presidensie, die opposisie, plaaslike én internasionale ekonomiese instellings aantoon watter ongewilde besluite geneem moet word, kom die ANC-koukus en selfs kabinetslede vorendag met populistiese stellings soos dat niemand hul werk gaan verloor nie, dat salarisverhogings sal voortgaan en dat groteske projekte soos nasionale gesondheidsversekering gaan voortgaan – asof daar enige realistiese kans is dat dit gaan gebeur.

Daar is werklik sterk aanduidings dat ʼn groot deel van die ANC-koukus nie die land se ekonomiese posisie begryp nie, wat ʼn teelaarde vir ʼn soort Suid-Amerikaanse onverantwoordelike ekonomiese populisme skep; ontsnappingsdenke wat later sorg vir ʼn aaklige ekonomiese babelaas.

Wetgewing gaan voort

Wat wetgewing betref was daar eintlik baie meer bedrywigheid as die vorige aantal jare. Dit is ʼn direkte gevolg van die prioritisering van die afhandeling van wetgewing deur die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, in haar hoedanigheid as voorsitter van die parlement se programkomitee.

Soms was daar oorhaastige en slordige wetgewing as gevolg van hierdie groter haastigheid, soos die Wysigingswetsontwerp op die Verbetering van Verblyfreg op Grond (die sogenaamde ULTRA-wetsontwerp), wat so swak geskryf is dat dit in praktyk onuitvoerbaar sal wees.

Hierdie swak punte is deur die DA, EFF, IVP, VF Plus en ACDP uitgewys en al vyf hierdie opposisiepartye het dus daarteen gestem. Nogmaals was die ANC siende blind en horende doof vir teregwysing; so dit sal sekerlik volgende in ʼn langer wordende lys wetgewing wees wat deur die howe teruggestuur word parlement toe om behoorlik herskryf te word. Die ANC sal na verwagting dan weer maak of hy van geen sout of water geweet het nie, terwyl elke funksionerende opposisieparty oor ideologiese grense heen hom presies teen sy brouwerk gewaarsku het.

Een van die meer deeglik geskrewe, maar nietemin omstrede stukke wetgewing wat wel tans voor die parlement dien, is die nuwe Onteieningswet. Die publiek het tot 10 Februarie aanstaande jaar om kommentaar in te dien. Die wetsontwerp en riglyne vir die indien van kommentaar is op die parlement se webtuiste, www.parliament.gov.za, beskikbaar.

Goeie oorsig

Vreemd genoeg het die parlement sy oorsigrol vanjaar baie beter as in verskeie jare in die verlede vervul. Hiervoor is die huidige magstryde en verdeeldhede in die ANC sekerlik deels verantwoordelik – die regerende party was nie so ʼn eendragtige struikelblok vir die vloei van inligting en debat soos dikwels gebeur as hy eensgesind is nie.

Een aspek waar die ANC elke stukkie vertroebelingstaktiek denkbaar gebruik om die waarheid te verhul, is die onwettige vlug wat die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en verskeie ANC-lede op belastingbetalersonkoste na Zimbabwe onderneem het. Die DA-LP Kobus Marais jaag egter daardie spesifieke stukkie versteekte waarheid met onvermoeide ywer.

Baie portefeuljekomitees stotter maar en kom nie tot hul reg nie, maar ander komitees het baie beter as in die verlede gevaar. Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor) het nou onder die voorsitterskap van die IVP-LP Mkhuleko Hlengwa byvoorbeeld ʼn ware waghond geword.

Ander komitees wat hul oorsigwerk vanjaar werklik goed in landsbelang gedoen het, sluit in die portefeuljekomitee oor gesondheid, waar die VF Plus se Philip van Staden en die DA se Siviwe Gwarube harde ure insit ten spyte van die verstommende dwarsboming vanuit die voorsitterstoel deur dr. Sibongiseni Dhlomo en die portefeuljekomitee oor samewerkende regering.

Laasgenoemde komitee floreer onder die onverwags, maar betreklik goeie voorsitterskap van oudmin. Faith Muthambi (ANC), met haas al die groot partye wat buitengewoon sterk LP’s op daardie komitee het; mense soos Bheki Hadebe (ANC), Cilliers Brink en Gizella Opperman (albei DA), Hlengiwe Mkhaliphi (EFF) en Michal Groenewald (VF Plus).

Spesiale vermelding moet ook gemaak word van die verbetering in die funksionering van die belangrike – maar lank disfunksionele – portefeuljekomitee oor justisie, grondwetlike ontwikkeling en korrektiewe dienste.

Die groot verandering in daardie komitee was in die voorsitterstoel, waar die hoogs bekwame ANC-LP Bulelani Magwanishe vir dr. Mathole Motshekga vervang het en waar die DA se Glynnis Breytenbach, Werner Horn en James Selfe ʼn hoë standaard van kundige deurdagtheid stel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.