Parlementêre komitee gaan nié teen OB optree

Adv. Busisiwe Mkhwebane (Foto: ANA)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie het Dinsdag gestem om nié te besluit oor die lot van openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane nie.

Die komitee voer aan dat die besluit by die Nasionale Vergadering berus om te bepaal of sy geskik is om haar amp te beklee en nié by die howe nie.

Dit volg na John Steenhuisen, DA-hoofsweep, die komitee versoek het om met die proses te begin om Mkhwebane uit haar pos te verwyder na aanleiding van die hooggeregshof in Pretoria se verdoemende bevindings teen haar. Dié bevindings het verband gehou met haar verslag oor die Absa-Bankorp-aangeleentheid.

Verlede jaar het die hooggeregshof Mkhwebane se aanbeveling dat die parlement die Grondwet moet wysig om veranderinge aan die mandaat van die Reserwebank te maak ter syde gestel. Dié aanbeveling is gemaak in ʼn verslag waarin die OB ook bevind het dat R1,125 miljard van Absa Bank verhaal moet word vir ʼn finansiële reddingsboei uit die apartheidsera wat aan Bankorp toegestaan is. Bankorp is later deur Absa oorgekoop.

Mkhwebane is daarvan beskuldig dat sy buite haar magte optree en nie bevoeg is om die amp te beklee nie.

Sy het die kostebevel voor die konstitusionele hof gedaag.

Die portefeuljekomitee is egter van mening dat “dat dit voortydig is om die Openbare Beskermer van haar amp te onthef” aangesien die hofverrigtinge oor die saak nog aan die gang is.

Die aanvaarding van Mkhwebane se verslag is ten sterkste deur die DA en die ACDP teengestaan.

ACDP-LP Steve Swart en DA-kollega Glynnis Breytenbach het gesê hulle het Mkhwebane se houding teenoor die komitee tydens haar verskyning as beledigend ervaar.

Breytenbach het gesê die verslag wys die ANC wil in aanloop tot die verkiesing in Mei vanjaar “die swak besluite wat hulle in die verlede gemaak het” beskerm – onder andere die besluit om voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela met Mkhwebane te vervang.

EFF-LP Thilivhali Mulaudzi het gesê dié party het hul mening oor Mkhwebane verander nadat hulle aanvanklik haar aanstelling ondersteun het. Hy het egter ontken dat die EFF sy posisie verander het in ooreenstemming met dié van ’n faksie in die regerende party wat teen pres. Cyril Ramaphosa is.

“Jy weet die Engelse sê ’n wyse man verander altyd van plan.”

Hy het die Pretoriase hooggeregshof se bevinding dat Mkhwebane buite haar magte opgetree het, verwerp.

Volgens Breytenbach sal die DA ’n minderheidsverslag oor die kwessie opstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Joan Strydom ·

Die laaste bietjie geld in hierdie land gaan in hofgedinge in

BlinkStephaans ·

Ons almal weet hoekom Busi in hierdie pos is…en sy sal in haar hele lewe nooit die vlak van professionaliteit en integriteit bereik wat Thuli Madonsela het. Thuli was nie te koop, en daarom was sy in die pad.

Wonder ook ·

Sy is absoluut daar om die absa geld vir die anc te kry. Toe oorspeel sy haar hand deur te vinnig vir absa te vinger en verbrand in doe proses haar vingers. Ha ha ha ha.

Kierie ·

Zuma was vir 9 jaar deur die kaders beskerm, so hoekom sal dit nòù anders wees? Daar is nog baie van hulle in die parlement wat ook beskerm word.

Jannie ·

Nee, hier ontslaan jy nie korruptes nie…jy bevorder hulle tot die hoogste posisies!!!

Dries du Toit ·

EFF was teen haar nou weer vir haar. Wat kry hulle by haar ????? I rest my case

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.