Parlementêre komitee hou oog oor studente se registrasie

Die parlement se portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding hoop die registrasieproses aan universiteite sal sonder betogings en ontwrigting verloop. Argieffoto: Kristien Kruger, Wapad-studentekoerant)

Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding, Connie September, sê dié komitee sal studente uitnooi om hulle in te lig oor probleme, klagtes en knelpunte tydens die registrasieproses.

“Die komitee het aan ʼn gesamentlike program met studente gewerk om seker te maak die invoering van gratis onderwys vir armes en die werkersklas verloop glad en strek tot studente en hul gemeenskappe se voordeel,” sê September.

Sy sê die komitee verlang ʼn gladde en vreedsame aanvang van 2019 waartydens studente hulle slegs hoef te bekommer oor hul registrasie en die begin van die eerste kwartaal.

Die eerste akademiese kwartaal begin in die eerste week van Februarie en instellings sal gevra word of hulle die doelwitte van die nasionale ontwikkelingsplan bereik.

“Alle studenteleiers behoort hulle daarop in te stel om die hoëronderwyssektor tot almal se voordeel te bevorder, veral arm studente,” sê September. “Studenteleiers behoort gesprek te voer oor hoe hulle hoop om universiteite by te staan om uitdagings soos studenteverblyf en waglyste die hoof te bied, en om só die instellings te help om registrasie glad en suksesvol te laat verloop.”

Sy beskryf die dreigemente van geweld oor registrasie as “veragtelik” en “ongevraag”. “Opbouende interaksie is nodig om seker te maak dat die kwessies aandag kry en dat die meerderheid studente hul universiteitsplekke kan inneem en toegang tot finansiering kry.”

Die komitee sal in die komende weke die registrasieproses by talle universiteite en kolleges monitor.

Intussen sê die Universiteit van Johannesburg sy registrasieproses vir 2019 verloop seepglad, maar waarsku studente teen sogenaamde derdeparty-agente, berig African News Agency.

Teen Dinsdag 12:00 is 3 000 studente reeds geregistreer en die getalle neem uurliks toe, het prof. Kinta Burger, die UJ se registrateur, Dinsdagmiddag gesê.

“Dié tendens is soortgelyk aan dié van vorige jare,” sê Burger, “ en bevestig dat nuwe en terugkerende studente gemaklik is met die aanlyn registrasieproses.”

Die aanlyn proses help die instelling om te verseker dat al vier sy kampusse gereed is vir die 50 000 studente wat na verwagting in 2019 aan die UJ sal studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Adrian ·

Die helfte gaan vir n jol aan die einde van die jaar haal net 20% dit as dit so baie is… miljarde rande in die rioolsloot bewys my verkeerd

Gert ·

Dis finansieel BAIE aantrekliker om te gaan studeer na matriek as om te gaan werk, nuwe stelsel betaal vir “arm” studente meer as R100000 per jaar vir al hulle uitgawes, wie gaan soveel kan verdien elders? So geheim is al wil jy nie eers studeer nie, gaan universiteit toe en lewe op die belastingbetalers se rekening tot jy weggejaag word.

alida ·

In die kol met jou kommentaar Gert. Wie wil nou werk as jy gratis verblyf, kos en sakgeld kry. Indien hy druip aan die einde van die jaar voel hy/sy ‘n veer en word net weer toegelaat en sy plek is verseker. Intussen is daar 1000e ware studente wat nie finansieel daartoe in staat is om te studeer nie. Wat ‘n gruwelike onreg word hulle nie aangedoen nie.

Hanna Hoekom ·

Maak dit vir almal makliker: reik sommer die graad-sertifikaat met geboorte uit! Dit sal ons vuisvoos belastingbetaler baie geld spaar.

PJC ·

Lyk my hier kom weer ń klomp moeilikheid. Iemand gaan weer amok maak as hulle nie hulle sin kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.