Parlementêre komitee vra kalmte in Mangaung

Betogings oor swak dienslewering in die Mangaung-metro duur al dae lank voort. (Foto: Twitter / @DimitryHlonisky)

Die parlementêre komitee vir samewerkende en tradisionele sake, water en sanitasie het ʼn beroep op “kalmte” in die Mangaung-metro gedoen te midde van gewelddadige betogings oor gebrekkige dienslewering wat al dae lank voortduur.

Die komitee sal die gebied na verwagting Donderdag besoek om met belanghebbendes in gesprek te tree.

 

Die komitee sê hy verstaan die frustrasies wat die gemeenskap weens onvoldoende dienslewering van die munisipaliteit ervaar, maar dat “protes en die vernietiging van eiendom” pogings om langtermynoplossings te vind ondermyn.

Luidens berigte is meer as 11 betogers al die afgelope week in hegtenis geneem.

 

Volgens China Dodovu, voorsitter van die komitee, is die doel van hul besoek om die toestand van die stad en moontlike onmiddellike, medium- en langtermynoplossings vir die uitdagings in die stad te bespreek.

“Tydens die tweedaagse vergadering sal die komitee die LUR vir samewerkende en tradisionele sake ontmoet, sowel as die tesourie, die stadsraad, leiers in arbeid en die gemeenskap asook politieke partye wat in die raad verteenwoordig word.”

Die komitee se besoek volg ook op ’n teleurstellende vergadering wat die komitee verlede week met die metro belê het, waar ’n verwagte verslag nie ter tafel gelê is nie. Die komitee het die metro voortdurend aangemoedig om dienslewering en skakeling met inwoners te verbeter om die kommunikasiegaping wat tot diensleweringsbetogings kan lei te sluit.

“Die komitee herhaal sy oproep tot selfbeheersing en dat die gemeenskap hom ruimte gun om sy werk te doen, met die doel om oplossings vir uitdagings in die stad te vind.”

Diensleweringsprobleme in dié metro is al jare lank ʼn ernstige probleem en het al dikwels tot onrus gelei.

Die Vryheidsfront Plus het Dinsdag gesê dat Menseregtedag vanjaar ʼn klap in die gesig van elke Mangaung-inwoner was, wat weer eens van die basiese reg tot skoon water ontneem is.

Dít volg nadat inwoners se krane weer oor die afgelope twee weke opgedroog het.

“Watertekort wat inwoners van die metro (Bloemfontein, Thaba Nchu, Botshabelo, Wepener, Soutpan, Dewetsdorp en Van Stadensrus) ervaar, is deels die gevolg van die gebrekkige Mangaung-infrastruktuur en deels Bloemwater se onvoldoende instandhouding,” het Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, in ʼn verklaring gesê.

“Intussen het die metro punte beskikbaar gestel waar inwoners water kan gaan haal. Dié punte is egter beperk en gereeld leeg. Die swak bestuur van die Mangaung-vloot veroorsaak ook ʼn tekort aan watertrokke om in die behoeftes van bejaardes en gestremdes te voorsien.”

Die jongste waterkrisis spruit uit ʼn ingewikkelde fout in die waterpyplyn wat nog etlike dae gaan neem om te herstel.

De Kock sê reservoirs is besig om leeg te loop en dat die hele metro waarskynlik binnekort sonder water gaan wees.

“Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners om beskikbare water spaarsamig te gebruik en versoek dat inwoners met boorgate die gemeenskap sal bystaan.

“Die party doen verder ʼn beroep op konstruksiemaatskappye met watertrokke om hulp aan te bied met die verspreiding van water na woongebiede, tehuise vir bejaardes en kleuterskole. Hierdie waterkrisis is opnuut ʼn bewys van die ANC se onvermoë om die metro te regeer.”

Die party meen regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging tas die regte van elke burger aan en lei daartoe dat die lewering van basiese dienste laer as sub-standaard is weens ʼn tekort aan kundigheid.

“Die VF Plus spreek ook sy medelye uit met elke familielid, vriend en kollega van mnr. Petros Ntsube, werknemer van Bloemwater, wat verdrink het tydens ʼn poging om die waterprobleem te herstel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Misky

Die einste mense wat so verniel en nou protes, is die mense wat ANC ingestem het. Wanneer sal iets inskop en hulle agterkom dat na byna 30 jaar, gaan niks verander nie?

Andrew

Nou wonder ek of die klomp roos boompies wat die mense nou die dag in Bloem geplant het, nog daar is.

Andrew

En kyk net die vooraanstaande gemeenskaps lid met sy skool uniform. Seker daar om te help opruim as deel van sy landsdiens taak.

Swerwer

Dat hul vir hul kry. Hul het mos ANC gestem. vir 20 jaar sien hul dat die land tot gronde gaan maar stem stem hul vir die ANC. Geen simpatie. Alles moet mos verniet gekry word, moet net ontvang maar hul Regering kan nie voldoen aan hul vereistes nie. Geen simpatie want dit is die voorbeeld van die ANC en EFF wat daar gestel is vir hul.

Alfred E Neuman

Ek sou ook so optree as ek vir iemand geztem het en hulle hou nie by hulle beloftes nie.