Parlementêre kompleks nou aan Valke ‘oorhandig’

Brandbestryders Sondag by die parlement in Kaapstad. (Foto: Marco LONGARI / AFP)

Daar is tans geen brandbestryders by die parlementêre kompleks in Kaapstad ontplooi nie en die geboue is aan die Valke oorhandig om die omstandighede rakende vandeesweek se verwoestende brand te ondersoek.

Ingenieurs van die departement van openbare werke en infrastruktuur is in dié stadium by die parlement werksaam om te bepaal of die geboue wat deur die brand geraak is, wel veilig vir die ondersoekers is om binne te gaan.

Die Valke se ondersoekers sal dus toegang tot die geboue verkry sodra hulle bevestiging van die ingenieurs, onder wie strukturele, elektriese en forensiese kundiges, ontvang het.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, sê verskeie brandbestryders was tot Woensdagaand nog by die parlementêre kompleks ontplooi om die geraakte geboue vir moontlike opvlammings te monitor.

Dít nadat die brand Sondag heeldag lank gewoed en teen Maandag laatmiddag weer opgevlam het. Die brand is eindelik Dinsdagoggend in bedwang gebring.

Mothapo sê meer as 300 brandbestryders het langer as 71 uur gespook om die vlamme te blus. Sestig brandweerwaens asook gespesialiseerde lugbrandbestrydingstoerusting is tydens die drie dae lange stryd ingespan.

Daar word intussen voorberei vir vanjaar se staatsrede wat op 10 Februarie deur pres. Cyril Ramaphosa in die Moederstad gelewer sal word.

Mothapo sê onder meer burgemeester Geordin Hill-Lewis sal vanmiddag Kaapstad se Internasionale Konvensiesentrum (CTICC), die Munisipale Kamers en die Stadsaal besoek as deel van die soektog na ’n alternatiewe venue aangesien die staatsrede nou nie soos gewoonlik by die parlement kan plaasvind nie.

Die provinsiale regering het aangebied dat die venues vir die staatsrede én die begrotingsrede gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Samuel ·

O ja. Sommige baie goed opgeleide mense, maar die wat nie BEE is nie, word nie altyd geraadpleeg nie.

Stefan ·

Wonder wie gaan vir daai meer as 300 brandbestyders en 60 brandweerwaens betaal,ons wat ons geld op n eerlike manier verdien en met n swaar hart “tax” betaal gaan opdok vir daai skade

annie ·

Laat die ANC self opsnork as hulle so onmanierlik is. Wat gaan gebeur as dit reën sonder ‘n dak? Hoeveel items wat oor is sal dan gered kan word? Dis môre al Vrydag… En naweke werk die sekuriteit mos nie wat beteken dat baie items voete sal groei.

Margaret ·

Maroela Media, kan julle dalk opklaar of die nuus dat die brandstigter eintlik n ander naam gehad het en in Rusland ens opgelei is ware nuus is of fop nuus en ook waarvandaan die sogenaamde inligting gekom het. Ek glo baie lesers sal belangstel om te weet.

Andries ·

SA se parlement brand al reeds vir 25 jaar, nou net fisies

Samuel ·

Dit is ‘n uiters goeie gebaar van die Stad Kaapstad en die provinsiale regering; mens kan net hoop die cANCer aanvaar die aanbod, aangesien dit van die DA kom.

Nou hoef die regering nie korrupte tenders aan te vra nie. Joegaai!!

Esme ·

Wonder wie gaan die ondersoek aangaande Sekuriteit van die gebou doen. Die kamera’s is ook heelwaarskynlik deur die brand vernietig en die skuldiges gaan met moeite aan die pen ry.
Die voorbeeld is al in die sestigers gestel – in die Parlementsgebou in Kaapstad kan jy wegkom met moord; bedrog; Staatskaping en nou ook heelwaarskynlik met brandstigting.

Dup ·

Valke….mossies…..kwikstertjies…..vinke…..daar is geen verskil nie en daar gaan ook niks gebeur nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.