Parlementêre ondersoek na Covid-19-entstofprogram gevra

Die eerste besending Covid-19-entstof kom in Suid-Afrika aan (1 Februarie 2021) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die DA het Dinsdag versoek dat ʼn parlementêre ad hoc-komitee ʼn volledige ondersoek doen na die regering se hantering van die Covid-19-entstofprogram in geheel.

Die regering is tot dusver fel gekritiseer oor die stadige koers waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word terwyl kommer steeds bestaan of die regering – tans die enigste aankoper van die entstof – genoeg entstofdosisse vir alle landsburgers gaan verkry.

Slegs 0,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking is in dié stadium ten volle teen Covid-19 ingeënt wat beteken dat Suid-Afrika tans stadiger as lande soos Senegal, Ghana, Nigerië, Kenia, Zimbabwe en Botswana inent.

Altesame 67% van ʼn bevolking moet ingeënt word om sogenaamde kudde-immuniteit te bereik.

Dít terwyl dosisse stuk-stuk aangekoop word, die regering kla dat ryker lande meer dosisse bekom en sommige dosisse, soos in die geval van die AstraZeneca-debakel vroeër vanjaar, herverkoop moes word.

“Die feit bly daar is heeltemal te min entstowwe beskikbaar en dié wat ons het, is laat en word te stadig toegedien om die pandemie stop te sit,” sê Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, en Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, in ʼn gesamentlike verklaring.

(Argieffoto: Unsplash)

Die opposisieparty het nou in ʼn skrywe aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, versoek dat ʼn parlementêre ondersoek na die regering se inentingsprogram gelas word.

Volgens die DA behoort daar spesifiek ondersoek ingestel te word na die regering se versuim om voldoende voorraad Covid-19-entstowwe betyds te bekom en te verseker.

Die DA wys daarop dat miljoene Suid-Afrikaners te midde van die derde virusgolf steeds wag op hul inenting teen Covid-19. Dít terwyl die regering se inentingsprogram “gevaarlik” stadig in werking gestel word.

“Daar moet volkome en eerlike aanspreeklikheid vir dié mislukking wees. Suid-Afrikaners wil weet – en het die reg om te weet – wat gebeur het, hoe ons hier gekom het en wie verantwoordelik is,” lui die verklaring.

Hulle sê die regering het uit die staanspoor twee belangrike foute gemaak.

Die eerste was die aanvanklike besluit om uitsluitlik toegang tot entstowwe deur die Covax-entstofprogram te bewerkstellig. Hulle voer aan die tweede fout was die versuim om nie dadelik direkte bilaterale ooreenkomste met vervaardigers aan te gaan nie. Baie ander lande met middelvlak-inkomstegroepe het dié roete gevolg toe proewe op die entstof gedoen is.

‘n Inentingsentrum in Michells Plain. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Volgens Gwarube en Hill-Lewis was die skrif reeds aan die muur toe Suid-Afrika verlede jaar die sperdatums vir die betaling van ʼn deposito om entstowwe deur middel van die Covax-entstofprogram te bekom, misgeloop het.

Was dit nie vir die Sisonke-entstofprogram nie, sou nie een enkele Suid-Afrikaner teen 17 Mei met die afskop van fase 2 van die regering se inentingsprogram teen Covid-19 ingeënt gewees het nie, aldus die DA.

“Gegewe dat 40 miljoen Suid-Afrikaners ingeënt moet word, kan die eerste ses maande van die regering se inentingsprogram onmoontlik as ʼn sukses beskryf word.

“Daar moet volle verantwoording gedoen word oor wat daartoe gelei het en wie daarvoor aanspreeklik is.”

Bykomende bronne: Our World in Data, Departement van gesondheid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Suzette ·

Hier is soveel komitees wat aangevra en aangestel word om die onbevoegde regering se doen en late te ondersoek. Ek dink nie daar kan tred gehou word van al die komitees nie – en waar dien die komitees se bevindinge en word daar enigsins iets gedoen – ek dink nie so nie. Net ‘n mors van tyd en geld in die land.

Snowball ·

Korrup en useless ANC is verantwoordelik, daar is boggerol om te ondersoek of uit te vind.

SwartBees ·

Laat hulle entstof toedien in 3 skofte – Oggend, middag en aand. En maak dit oop vir enige een wat wil gaan.

Misky ·

Ons is stadiger as Zimbabwe en dit op sigself, spreek boekdele……. Ons sal dalk teen 2030 daai gewenste 67% sien

Pieter ·

So gaan dit as jy net graad een op skool gehad het en dan word jy n anc menister.

annie ·

Luister na die prez se woorde. Hy verwys aaanhoudend na skenkings en die vervaardiging van entstof in SA. Dit bepaal dus sy aksies. Hy wag vir sy wense om waar te word. Dis maar al. Die hele doel met sy reis na G7 was vir die ‘G’-ee. En Biden is alle persentjie-oupa’s se moses.

Anoniem ·

Baie maklike antwoord. Ons het deur middel van ‘n magsbehepte, korrupte en wanfunksionele regering in die situasie beland.

Dries ·

As ek daai foto sien van Ramaphosa wat soos n wafferse kenner van entstof die besending van Astra zenica inspekteer dan word ek naar. Hy het ooglopend nie geweet wat hy daar lees nie. Die media het wyd gerapporteer dat SA kry hul eerste entstof van Indie. Toe spring Ramaphosa en al sy kaders in hul swart karre en jaag OR Tambo toe om die entstof te ontvang om SA’ners te beindruk dat hulle hul werk gedoen het. WAT N GROOT DAG !!!. Dit als om n week later te onthul dat die entstof nie effektief is nie en dat hulle kopers vir die gemors soek in Afrika. Wat n gat maak Ramaphosa en sy kaders nie van hulself nie. Ons kan maar net bid dat ons verlos gaan word van hierdie mense

Alleen Wolf ·

Hoekom vra? Die anc is verantwoordelik vir die gemors met die entstof soos met al die ander goed waarby hulle betrokke is, everything they touch turns into junk.

Rosie ·

DA moet nie aanneem almal is aan hulle kant nie. Pleks gaan doen hulle bietjie navorsing oor alles en deel dit maar nou sit hulle net en kyk waar kan hulle moan oor wat doen die anc en hoe hulle wat moet doen. En dan aanvaar hulle nou maar net die wat nie anc stem nie stem vir hulle.

Dirk Mostert ·

In Peru se presidentsverkiesing is nou gekies tussen ‘n kommunis en ‘n kandidaat wat in die tronk was weens korrupsie. Hier moet ons maar vir die minste euwel kies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.