Parlementêre ondersoek na EFF-onderleier begin

Floyd Shivambu

Die parlement se ondersoek na die beweerde betrokkenheid van die EFF-onderleier, Floyd Shivambu, by wanpraktyke wat tot die ineenstorting van die VBS Bank gelei het, het amptelik begin.

Die waarnemende parlementêre registrateur van ledebelange, adv. Anthea Gordon, het bevestig dat ʼn ondersoek begin is nadat die DA-LP Phumzile van Damme ʼn klag by die parlement se staande komitee oor etiek en ledebelange ingedien het.

Die Reserwebank se verslag oor die ineenstorting van VBS Bank, opgestel deur adv. Terry Motau, SC, het onder meer bevind dat R16 miljoen deur die bank aan Brian Shivambu, broer van die EFF-onderleier Floyd Shivambu, oorbetaal is.

Hiervan is R10 miljoen aan Floyd Shivambu oorbetaal, waarvan R1,2 miljoen in die sakke van die EFF beland het, het Motau bevind. Albei Shivambu-broers ontken die bevindings, en pres. Cyril Ramaphosa het nou ʼn kommissie van ondersoek na die ineenstorting van die bank gelas, onder voorsitterskap van oudregter Lex Mpati.

Van Damme het die parlementêre ondersoek verwelkom, en uitgewys dat die EFF reeds erken het daar was verskeie finansiële transaksies tussen die twee Shivambu-broers.

“Ons verwelkom die spoedige optrede van die etiekkomitee en die registrateur van ledebelange. Ons doen ʼn beroep op die etiekkomitee om sy verhore vir die publiek oop te stel, getuies te roep, mense te dagvaar om voor die komitee te verskyn en die nodige dokumente na te spoor,” het Van Damme gesê.

Volgens haar sien die DA uit na die ondersoek en sal die party aandring op die strengs moontlike straf vir enigeen wat skuldig is aan die plundering van VBS Bank.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

alida ·

Mooi man nou sal hulle seker hul monde hou en nie ander mense in die rede val of doodskreeu in die parlement nie. Kry vir julle.

Eish ·

VBS is ondersoek deur n advokaat SC.
Kan hy bevindings soos die oor die Shivambu’s maak sonder enige bewyse? Ek betwyfel dit ernstig.
Die uitslag van hierdie ondersoek word met verwagting afgewag sodat die lug gesuiwer kan word voor die verkiesing…

Andre ·

Die ANC gaan nou die EFF bietjie pak gee voor die verkiesing, lekker man.

zoom zoom ·

WAT WAS DIE EFF SE SLOGAN AAN ZUMA????
PAY BACK THE MONEY ?

Hoc est bellum ·

Hy gaan niks oorkom nie, want die EFF is die militêre vleuel van die ANC wat die vuilwerk doen.

Ian ·

Uiteindelik iemand wat weet presies hoe dit werk. Die “komitee” sal niks uitrig nie. Hulle beskerm mekaar.

Alida ·

SC staan vir Senior Counsel en n senior advokaat weet darem sekerlik wat hy doen. Ai

Cherokee ·

Hier is al weer ‘n paar ‘hy sal niks oorkom nie’ pessimiste. Gewiglose rympies.

Alida ·

Cherokee ek en jy kan net sowel ophou om sin in sommige mense se koppe te kry.

Anita (die eerste) ·

Hoc est bellum en Dries du Toit het altwee die saak mooi opgesom.
Die eefers is deur aancers ingestoot om hele grondgrypkwessie se militante aanvoering te doen.
Daar het bokkerôl van wapenondersoek en Nkandla en honderde ander ondersoeke gekom want die manne en mamas met hul hande in die geldkas het die regte partypolitieke kaarte.
En dan is daar nog dik vriendjies soos die Guptas. En dan kom die glimlaggende Chinese nog by.
Ag, wat ‘n vuil kraaines wat nooit uitgepluis wil en sal word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.