Parlementêre proses teen Jiba eers gestaak

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: Oupa Mokoena/African News Agency (ANA)

Die parlementêre proses om te besluit of adv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi in hul poste heraangestel moet word, is vir eers gestaak.

Die parlement het in ʼn verklaring gesê die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, en die ander betrokke partye het ooreengekom om die parlementêre proses eers te staak tot 19 September wanneer die Wes-Kaapse hooggeregshof uitspraak sal lewer.

Die eerste uitspraak hou verband met Jiba, voormalige adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, se aansoek om weer in haar pos aangestel te word. ʼn Tweede hofaansoek hou verband met die versoek om die Mokgoro-verslag tersyde te stel.

ʼn Kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van oudregter Yvonne Mokgoro het in April bevind dat Jiba en Mrwebi, spesiale direkteur van openbare vervolgings, albei deur pres. Cyril Ramaphosa uit hul poste ontslaan moet word. Hulle is daarna die trekpas gegee.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste sou Dinsdag vergader het om te besluit of Jiba en Mrwebi in hul poste heraangestel moet word.

Jiba het toe ʼn dringende hofaansoek ingedien om ʼn interdik te kry om die parlementêre proses te stuit.

Die portefeuljekomitee het tydens ʼn vorige gesamentlike sitting met die verkose komitee oor veiligheid en justisie besluit dat Jiba en Mrwebi tien werksdae het om voorleggings te doen met redes waarom hulle nie uit hul voormalige poste ontslaan moet word nie.

Die komitees het ʼn voorstel dat die twee mondelinge voorleggings moes doen van die hand gewys en aangevoer dat skriftelike voorleggings voldoende sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Koos ·

Sal glad nie verbaas wees as sy in haar pos herstel word en hoof van die sg. vervolgingsgesag word nie.

leser ·

en so kom een uitstel na ‘n ander uitstel na ‘n ander uitstel …………………………………
cr het hulle altwee die trekpas gegee, wat soek hulle nog daar

Carl ·

Waarom is die ANC so tog so traag of onwillig om van dooie hout ontslae te raak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.